Namibië veg verbete om bek-en-klouseer uit te hou
Enigste Suider-Afrikaanse land nog gespaar
Die direktoraat van veeartsenydienste se dr. Johannes Shoopala sê die veterinêre kordonheining is slegs daar vir dieregesondheidsredes – en die bestaan daarvan moenie buite verband geruk word of verpolitiseer word nie.
Namibië is tans die enigste land in Suider-Afrika wat geen aktiewe gevalle van bek-en-klouseer het nie, terwyl rolspelers tans alles in die stryd werp om dié siekte uit Namibië se siektevrye sone te hou.
Dít word gedoen deur verskerpte maatreëls op beide Namibiese grense asook teen die veterinêre kordonheining toe te pas.
“Suid-Afrika voer tans ’n verbete stryd teen die siekte – wat kom ten koste van ’n bedryf van miljarde rande, terwyl Botswana ook tans uitbrekings in hul bek-en-klou vrye sones het.
Só het die direktoraat van veeartsenydienste se adjunk-veeartsenyhoof, dr. Johannes Shoopala, by die afgelope kongres van die Namibië Landbou-unie (NLU) op 6 Oktober gesê.
Shoopala het hom terselfdertyd sterk uitgespreek oor die bestaan van Namibië se veterinêre kordonheining, terwyl hy bevestig het dat daar nou reeds 37 uitbrekings van longsiekte in die noordelike kommunale gebied voorgekom het.
“Siektes soos hierdié is die rede vir die bestaan van die sogenaamde ‘Rooilyn’– iets wat nou heeltemal buite verband geruk word.
“Dit is nie ’n ‘politieke heining’ nie, alhoewel dit verpolitiseer is kort vóór en ná die land se onafhanklikwording. Hierdie is egter ’n saak van dieregesondheid. Ek wil dit net duidelik stel,” het hy gesê.
“Dit is ook hierdie heining wat Namibië help om toegang tot sekere internasionale markte met sy beesprodukte te hê. Daarsonder sal ons al ons eie vleis moet opeet. Dit sal nie net binnelandse handel raak nie, maar ’n sterk negatiewe impak op ekonomiese aktiwiteite hê,” sê Shoopala.
Tydens sy presidentsrede het die NLU se mnr. Piet Gouws ook bygevoeg dat landbouminister Calle Schlettwein hul volle steun het in die “hofsaak om die land se dieregesondheidstatus te beskerm”.
“Die kortsigtige aanslag van ’n individu vir eie politieke gewin, kom in ’n tyd waarin Suid-Afrika ’n voorbeeld is van die ekonomiese chaos as gevolg van die uitbreking van bek-en-klouseer.
“Namibië, met sy brose ekonomie en afhanklikheid van uitvoere van vleis om broodnodige buitelandse valuta te verdien, is verseker gedoem indien so ’n ramp ons tref,” het Gouws gesê.
Dit volg nadat ’n onlangse studie deur Cirrus Capital gewys het as Namibië sy uitvoerstatus vir sy beesprodukte verloor, dit oor ’n tydperk van vyf jaar tot ’n reuseverlies van N$12,46 miljard vir die bruto binnelandse produk (BBP) sal lei.
Hiermee saam sal dit lei tot ’n afname van N$5 miljard in kapitaalvorming, ’n fiskale verlies van N$2,4 miljard en ’n daling in huishoudelike inkomste van N$9,24 miljard, buiten vir ’n verlies van werksgeleenthede.
BUURLANDE
Shoopala sê Botswana beskik oor verskeie binnelandse veterinêre kordonheinings, wat hulle in staat stel om die huidige uitbreking tot slegs een van hul siektevrye sones te beperk.
“Angola se bek-en-klouseer status is meestal onbekend en die land is nie opgedeel in veterinêre sones wat deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) erken word nie. Zambië beleef uitbrekings van verskillende variante of serotipes van bek-en-klouseer – tot soveel as sewe soorte.
“Serotipe-O is vir die eerste keer in November verlede jaar in die noordelike kommunale gebied van Namibië waargeneem. Buffels is dikwels die draers hiervan,” het hy gesê.
Wat die uitbreking van longsiekte in die noordelike kommunale gebied betref, sê Shoopala daar sal tot 23 Oktober met ’n inentingsprogram teen die siekte volgehou word.
Hy sê binne die noordelike kommunale gebied noord van die kordonheining is slegs die Kavango-Oos- en Zambezistreek nog vry van die siekte.
“Die uitbreking van longsiekte word verbind met die onwettige beweging van vee vanaf lande teenaan ons mees noordelike grens.”
Shoopala is ook van mening dat dit prakties sal wees as die veterinêre kordonheining uiteindelik tot op die grens met Angola verskuif kan word.
“Dit is ook ons beleid, maar vir nou is ons nog nie daar nie,” het hy gesê.
Shoopala het verduidelik dat die heining tussen 1961 en 1962 opgerig is weens die uitbreking van bek-en-klouseer – wat toe meestal onder wild voorgekom het.
“Dit bestaan uit twee heinings – ’n veewerende deel aan die ‘suidekant’ wat sowat 1 m hoog is, asook ’n wildwerende heining aan die noordelike kant, wat moet keer dat wild, wat die draers van die siekte kan wees, die heining oorsteek.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie