Foto ter illustrasie/Pixabay
Foto ter illustrasie/Pixabay

‘Nie in kuberkrakers se kloue’

Armes die hardste getref
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Te midde van ’n onderbreking in die netwerk van die aanlyn domein .na, en ’n waarskuwing van die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) oor “honeypots”, verduidelik mnr. Rigo Reddig, direkteur van Cynetio Cyber Security Solutions, ’n Namibiese kubersekuriteitsmaatskappy, dat arm Namibiërs die hardste deur toenemende kubermisdaad getref word.

“Kuberkrakers teiken enigiemand – of jy belangrik is of nie – die stelsel soek eenvoudig net ’n kwesbare plek. Ongelukkig is dit juis die armer gemeenskappe wat die hardste getref word, aangesien hulle gewoonlik ouer toestelle besit en gewoonlik nie die nodige kennis het om hulself teen kuberaanvalle te beskerm nie,” het hy gesê.

MINISTERIE SE REAKSIE

Die uitvoerende direkteur van inligting en kommunikasietegnologie, dr. Audrin Mathe, het Namibiërs gemaan om waaksaam teen kuberaanvalle te wees, maar verduidelik dat die onderbreking in die .na-domein geen rede tot kommer is nie.

“Ons weet Namibië word voortdurend deur internasionale ­kuberkrakers geteiken, maar die jongste voorval was nie ’n aanval nie,” het hy in ’n mediaverklaring gesê.

Die onderbreking in die dienste van die .na-domein, is glo weens die feit dat die eienaar van die domein nie die nodige onderhoud op die sekuriteitsagteware gedoen het nie.

Dit is glo weens ’n gebrek aan ’n kennisgewing vir die nodige opdaterings van die stelsel.

Reddig verduidelik dat die oorgrote meerderheid van Namibiërs die prooi van uitvissing (“phishing”) sal word, maar dat gevalle in losprysaanvalle (“ransomware”) ook toeneem.

“Finansiële uitvissing kom al hoe meer in Namibië voor, gewoonlik in die vorm van finan­siële bedrog. Gebruikers ontvang gewoonlik ’n e-pos van hul bank wat hul inlig om op ’n skakel te klik om op aanlyn bankdienste in te teken.

“Die webtuiste lyk gewoonlik soos ’n bank se webtuiste en gee die indruk dat die individu ingeteken het. Die kuberkraker gebruik dan die ­individu se aanmeldbesonderhede om toegang tot hul bankrekening te verkry. Oor die algemeen is ons tegnologiese geletterdheid in Namibië nie op standaard nie,” het Reddig gesê.

Tydens ’n losprysaanval word vertroulike inligting deur die kuberkraker aangehou en slegs weer aan die eienaar beskikbaar gestel as ’n losprys betaal word.

WAARSKU TEEN LOKVAL

Cran se span vir nasionale ­sekuriteit en kubermisdaad het vroeër die week ’n waarskuwing teen brute aanlyn ­aanvalle gerig.

“Brute aanvalle is outomatiese stelsels wat 24 uur per dag, sewe dae per week in die agtergrond van die internet werk op soek na swakhede in enigiemand se netwerk.

“Verskeie eenvoudige wagwoorde word gewoonlik probeer om toegang tot jou rekeninge of toestelle te verkry. In Namibië word toestelle gewoonlik deur die verskaffer met swak wagwoorde ingestel, of die gebruiker stel dit in met ’n swak wagwoord omdat dit geriefliker is, maar dit maak iemand ’n maklike teiken vir die soort aanvalle,” verduidelik Reddig.

Cran het spesifiek teen aanvalle in “honeypot” -netwerke, wat volgens Reddig “meer as ’n aanloklike lokval is wat mense weglok van die regte stelsel” gewaarsku.

Honeypots is netwerk-gebaseerde stelsel wat ontwerp is as ’n lokval om kuberkrakers te lok en inbraakpogings op te spoor, af te lei en te bestudeer om ongemagtigde toegang tot inligtingstelsels te verkry.

“Talle van hierdie stelsels word met stelsels om kuberkrakers te monitor sodat die persone wat dit gestig het die kuberkrakers kan dophou,” verduidelik Reddig.

GEBRUIKERS

Reddig glo talle Namibiese gebruikers is besorg oor hul aanlyn privaatheid en sekuriteit, maar dat openbare begrip van hierdie kwessies onvoldoende is.

“In my ervaring weet baie min mense wat om te doen wanneer hulle die slagoffers van kubermisdaad word,” het hy gesê.

Hy meen ook dat gebruikers hulle blind staar teen die gevolge wat gratis toepassings inhou.

“Ons hou van gratis toepassings, maar die maatskappye agter hierdie toepassings verdien geld uit jou inligting wat hulle deur die toepassing verkry. Ek voorsien dat daar ’n stortvloed van inligting sal wees waar dié private inligting in die toekoms in die openbaar sal opeindig. Met die koms van die data-ekonomie mag die konsep van privaatheid so te sê verdwyn.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!