Nust se visekanse­lier, dr. ­Erold Naomab (links), het in ­Julie vanjaar ’n toekenning van die ­Europese Vereniging vir ­Gehalte Navorsing namens dié instelling in ontvangs geneem. Foto Nust Facebook
Nust se visekanse­lier, dr. ­Erold Naomab (links), het in ­Julie vanjaar ’n toekenning van die ­Europese Vereniging vir ­Gehalte Navorsing namens dié instelling in ontvangs geneem. Foto Nust Facebook

NIPDB, Nust spog glo met ‘leë’ prestasies

Verskeie staatsinstansies na bewering geteiken
Verskeie staatsinstansies is voor stok gekry oor derduisende Namibiese dollar wat op ydelheidstoekennings uitgee word.
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het ­ydelheidstoekennings (“vanity awards”) onder die vergroot­glas geplaas.

Dit nadat die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) vroeër vanjaar ’n toekenning van die Europese Vereniging vir Gehalte ­Navorsing (ESQR) ontvang het.

Nust het op 7 Julie vanjaar foto’s op hul Facebook-blad gedeel van sy ­visekanselier, dr. Erold Naumab, wat ’n Gehalte Prestasie-toekenning van die ESQR in ontvangs neem.

Hierdie is na bewering een van vele ydelheidstoekennings wat al hoe meer ontwikkelende lande teiken.

’n Ydelheidstoekenning is ’n toekenning waarvoor die ontvanger betaal. Instansies gebruik hoofsaaklik dié toekennings vir bemarkingsdoeleindes.

Die Namibiese Raad vir die ­Bevordering van Beleggings en Ontwikkeling (NIPDB) is glo uit ’n “deelname­fooi” van 4 100 euros ­geswendel.

“In die geval van private ondernemings is dit hul eie geld wat verlore gaan, en dit is nie onwettig as staatsgeld nie gebruik is nie, maar dit is waarskynlik oneties,” het mnr. Frede­rico Links, ’n navorser verbonde aan die IPPR, gesê.

Volgens hom is die betalings verbonde aan ydelheidstoekennings selfs meer oneties in staatsinstansies waar voortdurend oor finansiering gekla word.

Links meen sommige ­ontvangers van ydelheidstoekennings is ­on­skuldige slagoffers.

“Daar is verskeie berigte aanlyn beskikbaar wat besighede teen dié bedrogspul waarsku en sedert ons begin navorsing doen het, het ver­skeie instansies ons in kennis gestel van soortgelyke e-posse wat hulle ontvang het,” het hy gesê.

KOMMENTAAR

Me. Catherine Shipushu, NIPDB se skakelbeampte, het gesê: “In November 2021 het die ESQR vir NIPDB gekontak met die nuus dat die NIPDB-raad as wenner van ESQR se Gehalte Prestasie-toekenning gekies is.

“Gegewe dat NIPDB in daardie stadium nog relatief nuut en onervare met soortgelyke toekennings was, het die raad bykomende inligting aangevra juis oor die keuringsproses en die kriteria wat gebruik is om wenners te bepaal.”

Volgens Shipushu het NIPDB die hoogste etiese waardes en professionele integriteit gehandhaaf toe die instansie sy ESQR-toekenning ontvang het.

“NIPDB het nie vir die ESQR-toekenning betaal nie. Die geld wat aan hierdie toekenning bestee is, is deelnamefooie wat van alle deelnemers vereis word.

“Volgens ESQR dek die deelnamefooi onder meer die bywoning van die geleentheid, duplikasieregte en die gebruik van ­promosiemateriaal, asook verblyf en kaartjies vir ’n ­galadinee in,” het sy gesê.

Nust se skakelbeampte, me. Nadia Meding, het aan Republikein gesê Nust dra geen kennis van enige beweerde ydelheidstoekenning nie.

“Dit het soos ’n gevestigde ­toekenning gelyk wat reeds jare lank plaasvind. Die seremonie is deur welbekende maatskappye van oraloor die wêreld, insluitend Namibië, bygewoon.

“Die Universiteit van Namibië is een van vele organisasies wat hierdie toekenning ontvang het. Die bewering dat hierdie ydelheidstoekennings is, is nuus vir Nust.

“Ons het nie rede gehad om te dink dat hierdie ’n ydelheidstoekenning was nie,” het Meding gesê.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!