Ndjizuvee Haakuria namens Tucna, NEA president Henry Bruwer, Elia Shikongo, president van NEF, Barbara van der Westhuizen van NUNW en Helene Ochs van NEF verwerp almal die tekort van teenwoordigheid op die NTA raad vir werkgewer organisasies en vakbonde.
Foto Augetto Graig
Ndjizuvee Haakuria namens Tucna, NEA president Henry Bruwer, Elia Shikongo, president van NEF, Barbara van der Westhuizen van NUNW en Helene Ochs van NEF verwerp almal die tekort van teenwoordigheid op die NTA raad vir werkgewer organisasies en vakbonde. Foto Augetto Graig

NTA se raad in spervuur

Minister Kandjii-Murangi onder soeklig
Werkgewers en vakbonde dreig om van die beroepsopleidingsfonds te onttrek en werkgewersorganisasies dreig selfs om hul bydrae tot die fonds op te skort.
Augetto Graig
Vakbonde en werkgewers is bekommerd dat hul toesig oor die beroepsopleidingsfonds van die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA) in die wiele gery word.

Die Namibiese Werkgewersfederasie (NEF), die Namibiese Werkgewersvereniging (NEA), die Namibiese Nasionale Werkersunie (NUNW) en die Vakbondkongres van Namibië (Tucna) het gister in ’n gesamentlike verklaring hul misnoeë uitgespreek oor die feit dat hulle nie meer op die NTA se raad verteenwoordig word nie.

Werkgewersorganisasies dreig selfs om hul bydrae tot die fonds op te skort. Werkgewers is die grootste bron van finansiering vir die fonds aangesien ondernemings met ’n jaarlikse omset van meer as N$1 miljoen verplig word om tot die fonds by te dra.

Ander eise sluit in dat die raad ontbind word, dat enige raadsbesluite onwettig en nietig verklaar word, en dat nuwe raadslede onmiddellik aangestel word, soos uiteengesit in die Wet op Beroepsonderwys en Opleiding no. 1 van 2008 (VET-wet).

Volgens Elia Shikongo, die president van die NEF, is daar reeds in Februarie verlede jaar hieroor aan die minister van hoër onderwys, opleiding en hernuwing, dr. Itah Kandjii-Murangi, geskryf.

“Die minister het op 27 Februarie 2023 geantwoord en erken dat ’n fout begaan is en gevra dat vier nominasies vir bykomende raadslede gemaak word. Hierdie voorstel is egter onaanvaarbaar,” sê Shikongo.

Dit is aangesien die VET-wet bepaal dat die raad uit 11 lede moet bestaan, waarvan vyf deur werkgewersverteenwoordigers op die raadgewende arbeidsraad en twee deur vakbondverteenwoordigers op dié raad benoem moet word, verduidelik hy.

Shikongo sê dat die wet uitdruklik die deelname van vakbonde en werkgewers aan die NTA-raad vereis, om samewerking tussen hulle en die regering af te dwing.

Die NTA-raad bestaan tans glo uit verteenwoordigers van die Ontwikkelingsbank van Namibië, Welwitchia Health Centre, Tucsin, die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie en Uretek Ground Engineering, volgens die ontevrede werkgewersorganisasies en vakbonde.

“Nie een van die nuwe direkteure is deur óf die werkgewersorganisasie se verteenwoordigers óf die vakbondverteenwoordigers benoem nie, en dit is ook nie bekend op grond waarvan hulle aangestel is en wie se belange hulle verteenwoordig nie,” sê Shikongo.

Op 14 April verlede jaar is daar met die minister van arbeid, werkskepping en nywerheidsverhoudinge, Utoni Nujoma, vergader om vir sy ingryping te vra, sê Shikongo.

Nujoma het glo aan Kandjii-Murangi geskryf, maar het dieselfde antwoord gekry, volgens Shikongo.

Die NEA se president, Henry Bruwer, sê sy vereniging is ook bekommerd oor die gebrekkige aanstelling van die raad en kla dat werkgewers nou geen sê het oor die fonds se besteding nie.

“Ons sien rooi vlae sodra daar ’n afwyking is van wat die wet voorskryf,” sê hy.

Volgens hom het NEA-lede tans nie toegang tot die jongste finansiële rekords van die fonds of enige ander manier om te weet waarvoor die geld gebruik word nie.

“Dis miljoene waarvan ons hier praat,” sê TUCNA se verteenwoordiger, Ndjizuvee Haakuria.

Helene Ochs van NEF sê hulle het ook aan die minister van finansies en staatsondernemings geskryf om duidelikheid oor die kwessie te vra.

Kandjii-Murangi het bevestig dat sy die minister van arbeid vir nominasies gevra het en tot nou toe geen terugvoering ontvang het nie.

Volgens haar het sy die huidige raad aangestel op aanbeveling van die ministerie van staatsondernemings, en dat ingevolge die Wet op Staatsondernemingsbestuur (PEGA) van 2019, rade van staatsondernemings nie uit meer as vyf of sewe lede mag bestaan nie.

Sy sê sy moes die kabinet oortuig om meer as sewe raadslede in die NTA-raad aan te stel, en dat sy weer vir die uitbreiding van die raad sal pleit indien sy die nominasies ontvang wat sy van die arbeidsministerie verwag.

Sy wou gistermiddag dringend ’n vergadering met die ontevrede vakbonde en werkgewersorganisasie belê, het sy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!