Nust verdedig VK-aanstelling in hof

Proses glo ten volle oordeelkundig
'n Onsuksesvolle kandidaat vir die posisie van Nust se visekanselier beweer hy was die beste presteerder tydens die aanstellingsproses en eis dat die aanstelling tersyde gestel word.
Kristien Kruger
Kristien Kruger

Die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) is vandeesweek terug in die hoërhof in Windhoek waar die aanstellingsproses van sy nuwe vise­kanselier (VK), dr. Erold Naomab, weer eens onder die loep is.

Prof. Frednard Gideon, wat die tweede kandidaat vir die posisie as VK was, het die saak op ’n ­dringende basis aanhangig gemaak nadat hy in 2020 nie vir die posisie gekies is nie. Hy beweer die aanstellingsproses was “onwettig en onregverdig” en eis dat die raad se besluit tersyde gestel moet word.

Gideon is van mening hy het baie beter as Naomab presteer en dat ’n redelike besluitnemer nie dieselfde besluit sou geneem het nie.

Republikein het tevore berig ondanks die feit dat Gideon die hoogste punt in die onderhoudsproses behaal het met 68,8% teenoor Noamab se 64,5%, is hy nie as die VK aangewys nie.

“Die administratiewe liggaam het ’n billike, redelike en rasionele besluit geneem om Naomab as die visekanse­lier aan te stel. ’n Besluit wat met inag­neming van al die tersaaklike be­skikbare inligting geneem is, kan nie ’n irrasionele besluit wees nie,” lui die argumente van Naomab se regsverteenwoordiging.

Nust beweer in sy verklaring dat Gideon tydens sy openbare voorlegging gejok het. Hy het glo beweer hy het 90 wetenskaplike artikels geskryf en het toesig gehou oor 30 000 meesters- en PhD-kandidate.

“Wat ook al die telling was wat die applikant behaal het, die vraag is hoekom het hy so ’n vreeslike onwaarheid in sy openbare voorlegging kwytgeraak.

“Die respondente was nie tevrede met die applikant se openbare optrede in hierdie verband nie. Hulle het dit as ’n gebrek aan integriteit gesien,” lui die hoofargumente wat deur Nust, Nust se raadsvoorsitter, me. Floretta Nakusera, en die gesamentlike werwingskomitee van die Nust-raad en senaat (respondente 1 tot 3) se regsverteenwoordiger op 7 Maart by die hof ingedien is.

‘GEREGTELIKE

HULPRONNE VERMORS’

Die respondente beweer hulle het al die beskikbare bewyse in ag geneem en hul diskresie oordeelkundig en verantwoordelik uitgeoefen sodat die werwingsproses die beste ­kandidaat kan oplewer om Nust in hierdie stadium in sy geskiedenis te lei.

“Hierdie aansoek is van stapel gestuur op grond van ’n wanbegrip van die feite en ’n wanvoorstelling van die wet. Ons voer met respek aan dat die aansoeker se volharding in hierdie aansoek, met die aanhoor van die ware feite, onvanpas is.”

Gideon het in Desember 2020 ook ’n dringende aansoek by die hoërhof ingedien om Naomab se aanstelling te keer, maar was onsuksesvol.

“Die applikant se volharding het daartoe gelei dat die respondente onnodige regskoste aangegaan het en geregtelike hulpbronne vermors het. Die respondente vra dus dat die applikant gelas word om sy koste, insluitende die koste van ’n advokaat, te betaal,” lui die respondente se verklaring.”

Gideon word deur adv. Sisa Namandje verteenwoordig.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!