Die Mata Mata-, Klein Manasse-, Dobe- en Sendelingsdrif-grensposte is by die lys gevoeg. Foto argief
Die Mata Mata-, Klein Manasse-, Dobe- en Sendelingsdrif-grensposte is by die lys gevoeg. Foto argief

Nuwe visumbeleid: Meer toegangspunte bygevoeg

Ellanie Smit
Die ministerie van ­binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en ­sekuriteit het die lys van ­grensposte en doeanepunte na Namibië gewysig vir visums met aankoms en waar reisigers met ’n goedgekeurde e-visum die land kan binnekom.



Die Namibiese Toerismevereniging (Fenata) het in ’n verklaring gesê ’n opvolgvergadering is Dinsdag met die ministerie gehou, saam met toerisme-belanghebbendes, oor die onlangse bekendstelling van die nuwe e-visum, visums met aankoms en aankomsvorms vir internasionale besoekers.



Fenata het ’n opdatering verskaf wat verduidelik dat gaste eers moet inteken om aansoek te doen, dan moet aanmeld en daarna die aansoek kan indien.



Fenata het gesê die toerismebedryf het ’n versoek aan die ministerie gerig om duideliker aanlyn instruksies te verskaf om te verhoed dat gaste die verkeerde aansoekopsie kies.



Die vereniging het verder gesê gesinne of groepe kan aansoeke onder een persoon se profiel indien. Hulle loop egter die risiko as een aansoek van die groep om een of ander rede uitgesonder word (flagged), die stelsel hulle nie sal toelaat om met enige verdere aansoeke voort te gaan totdat die kwessie uitgesorteer is nie.



“Geen groepbetalingsopsies is in hierdie stadium beskikbaar nie,” het Fenata bygevoeg.



Verder sal streekvlugte nie ’n impak op die aanlyn aansoekproses hê nie, en ook nie die grens van waar ’n persoon gekies het om die land binne te gaan nie, mits dié grenspos vir ­e-visums en visums met aankoms in die Staats­koerant gepubliseer word.



In transito-gaste word ook van ­visumvereistes vrygestel, terwyl alle buitelandse burgers die aankomsvorm moet voltooi, selfs al is hulle in besit van ’n permanente verblyf­permit (PRP) of domisiliepermit.



Volgens Fenata is daar ook geen redigeringsopsies beskikbaar vir aanlyn visumaansoeke met aankoms nie, maar dit word in die toekoms oorweeg.



“Regulasies wat verskaf word vir aanlyn aansoeke en dié vir die visum-met-aankoms-opsie bly ’n standaardvereiste vir toegang tot Namibië.



AANLYN PROSES



“Die aanlyn aansoekproses is moeitevry gemaak deur slegs ’n afskrif van die paspoort, paspoortfoto en die voltooide aansoekvorm in te dien,” het Fenata gesê.



Ongeag die aansoekmetode, moet aansoekers ’n geldige paspoort, motiveringsbrief, bevestiging van voldoende fondse (bankstaat), bevestiging van verblyf, reisbesprekings in Namibië en mediese versekering verskaf.



Die fooi vir ’n visum met aankoms kos N$1 600 vir reisigers van buite Afrika en N$ 1 200 vir reisigers van elders in Afrika.



“Tans is die aanlyn stelsel gestel vir ’n 30 dae-visumtydperk. Aansoekers het egter die reg om een keer in Namibië ’n verlenging van binnelandse sake se hoofkantoor te versoek – teen N$600 vir die oorblywende 60 dae – wat ’n totale verblyf van tot 90 dae moontlik maak,” het Fenata gesê.



Hierdie benadering word om sekuriteitsredes geïmplementeer, aangesien ‘n outomatiese uitreiking van 90 dae noukeuriger ondersoek sal vereis.



“Ons monitor die situasie voortdurend en kan dit oorweeg om hierdie beleid in die toekoms te hersien. Ons beveel aan vir diegene wat vir meer as 30 dae kom om by aankoms aansoek by ’n immigrasiebeampte te doen. Tot op 30 dae sal ’n aanlyn e-visumaansoek die beste wees.”



Reisigers met ’n goedgekeurde aanlyn e-visum kan Namibië binnegaan deur enige grenspos wat in die Staatskoerant gepubliseer is.



VOLLEDIGE LYS BINNEKORT BEKEND



Fenata het gesê dat onder meer die Mata Mata-, Klein Manasse-, Dobe- en Sendelingsdrif-grensposte by die lys gevoeg is en dat ’n volledige lys binnekort vrygestel sal word.



Die ministerie van binnelandse sake het die lys van hawens van binnekoms na Namibië gewysig vir visums met aankoms en sluit nou 17 toegangspunte in.



Dit sluit onder meer die Walvisbaai-lughawe, die Walvisbaai-hawe, Katwitwi-grenspos, Ariamsvlei-grenspos, Lüderitz-lughawe, Lüderitz-hawe, Noordoewer-grenspos, Oranjemund-lughawe, Oranjemund-grenspos, die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, Oshikango-grenspos, Trans-Kahalari-grenspos, Ruacana-grenspos, Impalila-grenspos, Ngoma-grenspos en die Mohembo-grenspos in.



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer