Okahandja-inwoners pleit vir ingryping
‘Lewer asseblief dienste’
Augetto Graig
Inwoners van nedersettings op Okahandja het Vrydag met polisiebegeleiding en plakkate hul lot by die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, mnr. Erastus Uutoni, bekla.
Hulle het geld ingesamel om ’n bus te huur en die polisie se toestemming verkry om Vrydag na die kantoor van dié ministerie op te ruk om hul griewe te lug.
Die 17-jarige Emily Malwena, ’n graad 10-leerling, het die klagskrif voorgelees.
Sy het eers ’n kort boodskap namens die kinders in die nedersettings gelees: “Ons benodig almal ’n plek om tuis te voel. Ons Namibiërs wat in ’n onafhanklike land woon, stem vir ons leiers en neem ons pleidooie na ons leiers vir ’n oplossing. Tog voel ons verwaarloos. Om onwettig genoem te word, is nie wat ons nodig het nie, of wat ons wil hê nie, maar ons omstandighede dwing ons om die lewe te lei waarin ons nou is.”
Uutoni het die klagskrif in ontvangs geneem en gesê hy sal dit onder die aandag van Okahandja se burgemeester en leierskap bring.
Hy het die groep aangemoedig om eers plaaslik van die geleenthede gebruik te maak om kwessies op te los, voordat hulle om hulp by die sentrale regering aanklop.
Uutoni sê hy moedig dorpsrade aan om met hul gemeenskappe te vergader en die inwoners oor uitdagings, begrotings en beplanning in te lig.
Die minister het die betogers verseker dat hy die burgemeester en munisipale raad van Okahandja sal kontak en vra dat hulle binnekort met die dorp se inwoners moet vergader.
Die gemeenskapsaktivis, mnr. Sethy Gariseb, het verlede week gesê die inwoners van Okahandja se nedersettings is moeg om vir verbeterings in die dorp te wag.
“Ons dien klagskrifte by die munisipaliteit in, maar hulle antwoord nooit. Hulle herhaal elke keer net dieselfde storie, en so word hulle vervang en dan begin die proses net van voor af. Ek het grootgeword met dieselfde storie,” het hy gesê.
“Dit help nie of die leiers daar is of nie; Okahandja bly dieselfde. Die minister moet ingryp en druk toepas dat dinge vinnig begin verander,” sê Gariseb.
Die inwoners vra in die klagskrif vir onder meer eienaarskap van die grond waarop hulle bly, die voorsiening van rioolgeriewe en toegang tot elektrisiteit.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie