Okahandja-inwoners ruk op

Dorpenaars kamp voor munisipale kantoor
Inwoners van die informele nedersettings op Okahandja doen weer 'n beroep op minister Erastus Uutoni om dringend in te gryp.
Augetto Graig
Okahandja se leierskap is onder beleg van sy eie inwoners, met burgers van Veddersdal en die dorp self wat gister voor die munisipaliteit begin kamp het.

Dit terwyl inwoners van informele nedersettings gister weer Windhoek toe gegaan het om die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, se dringend ingryping te vra. Die Okahandja Concerned Group het ook in Augustus 2022 na sy kantoor opgeruk.

Uutoni het gisteroggend met die “onwettige” inwoners van Okahandja ontmoet, nadat hulle per bus na die hoofstad gereis het, en vanaf B1 City na die ministerie se hoofkantoor betoog het. Hulle eis grondeienaarskap, dienslewering en ontwikkeling in die dorp, veral in die nedersettings waar ’n gebrek aan krag en water die inwoners se lewensomstandighede belemmer.

Hy het hulle saam met lede van Okahandja se dorpsraad en munisipale leierskap ontmoet. Hy het die ontevrede Okahandja-inwoners aangemoedig om hul verkose verteenwoordigers te nader en het die adjunkburgemeester, Akser Aupindi, opdrag gegee om met die gemeenskappe in die nedersettings te vergader en met hulle te kommunikeer.

“Hierdie mense het net inligting en liefde nodig,” dring Uutoni aan.

Gemeenskapsaktivis Sethy Gariseb sê egter dat munisipale en verkose leiers niks doen nie, en hy kla dat die groep bloot van bakboord na stuurboord gestuur word.

Twintig erwe by Ekunde 4 en 5 is na bewering toegeken om inwoners van RCC Kamp te hervestig nadat hulle vroeër vanjaar uitsettingsbriewe ontvang het.

Aupindi sê die stortingsterrein by Ekunde 4 en 5 sal verwyder word terwyl die dorpsraad vir ’n omgewingsklaringsertifikaat wag om die nuwe woonbuurte te vestig. Okahandja-munisipaliteit se uitvoerende hoof, Alphons Tjitombo, was ook teenwoordig.

Tjitombo is in die nuutste klagskrif wat onlangs oorhandig is, uitgesonder. Daarin word hy beskuldig dat hy onbevoeg en arrogant is en nie luister nie. Inwoners sê ook hulle het geen vertroue in Tjitombo nie.

Volgens Beres Steenkamp van Veddersdal is daar gerugte dat Tjitombo vir die skuldinvorderaars Red Force toestemming gegee het om mense se watertoevoer af te sny weens wanbetaling.

“Baie van ons senior burgers se water is toegemaak omdat van hulle skulde tot N$30 000 beloop. Red Force onderhandel nie en dring aan dat die volle bedrag betaal moet word. Waar kry hulle die mandaat om water af te sny? Red Force is ’n probleem in Okahandja,” sê hy.

In ’n klagskrif wat reeds op 24 Februarie ingedien is, lys inwoners eise vir ’n vyfjaar-ontwikkelingsplan vir die dorp, prestasiebeoordeling vir alle departementshoofde, deursigtigheid in terme van munisipale finansies en ’n samewerkingsooreenkoms tussen die dorpsraad en die inwoners.

“Ons is reg om te help,” sê hy. Geen antwoord is tot dusver ontvang nie, volgens Steenkamp.

’n Gemeenskapsleier in Veddersdal, Marietjie Coetzee, stem saam dat die dorp in ’n vervalle toestand is. Sy noem ook slaggate, waterpype wat gedurige bars en kragonderbrekings wat dae neem om uit te sorteer.

“Die dorp is in ’n haglike toestand,” sê sy met verwysing na die munisipaliteit se onlangse mislukking om vullis te verwyder. Nou is trokke glo gehuur en mense van buite die dorp aangestel om skoon te maak.

Coetzee sê: “Dit lyk asof hulle ons net aflag. Hulle sien dit nie as ’n ernstige saak nie.”

Steenkamp sê die protesaksie voor die munisipale deure sal die hele week voortduur, of tot iemand reageer.

Die dorp se burgemeester, Kaunapawu Fillemon, het glo gister geweier om uit haar kantoor te kom. Steenkamp verwag die protesaksie sal vandag in getalle groei wanneer die informele nedersetting se inwoners na verwagting by die dorpsmense sal aansluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!