Olifantveiling: Min ander opsies beskikbaar
Verskuiwing of uitdunning enigste keuse
'n Bewaringskenner sê die realiteit is dat besluitnemers 'n balans moet vind tussen die mededingende behoeftes van mense en olifante, terwyl die bewaring en welstand van olifante ook belangrik is.
Binne duidelik perke vir die verskuiwing van wilde olifante, sou uitdunning die enigste ander praktiese opsie wees om olifantgetalle op die kort termyn te verminder.
Buiten dat dié opsie nog meer ongewild en omstrede as ’n lewende veiling sou wees, soos Botswana onlangs ontdek het, beteken dit ook geen inkomste vir die Wildproduktetrustfonds (GPTF) nie.
Die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) het Saterdag gereageer op openbare teenkanting teen die Namibiese ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme se opveiling van 170 olifante, waarvan 37 tot dusver hervestig is.
Die NCE se me. Gail Thomson sê uitdunning sou boonop beteken die enigste waarde uit die skiet van die olifante sou die verspreiding en verkope van die olifante se vleis wees, omdat die konvensie oor die handel in bedreigde spesies (Cites) die internasionale handel in ivoor verbied.
“Wat die konvensie oor die handel in bedreigde spesies (Cites) betref, was die besluit om 170 olifante op te veil, wettig,”skryf sy.
“Of dit ’n goeie besluit was, moet ’n mens beide bewaring en die welstand van die diere in ag neem.”
Thomson is ’n bekende in bewaringskringe, waar sy reeds werk in terme van mens-karnivoor-konflik in Namibië, maar ook in Suid-Afrika en Botswana gedoen het en verder ook in gemeenskapsbewaring en die monitering van wild betrokke is.
“Die realiteit is dat olifantgetalle asook hul reikwydte in Namibië verhoog, wat rede vir feesviering, maar ook tot kommer is. Die grootste rede tot kommer is oor olifant-mens-konflik, veral in gebiede waar olifante vir dekades lank reeds nie meer voorkom nie.”
VERSKUIWINGSOPSIES
Thomson sê die ministerie was duidelik beperk in opsies waarheen om die wilde olifante, binne gebiede waar hulle van nature sou voorkom, te verskuif, al sou dit betekenisvol tot die bewaring van die spesie kon bydra.
Hul opsies was beperk selfs in terme van ander Afrikalande waar olifante bykans uitgewis is.
Die meeste van dié lande is nie gereed om weer olifante te ontvang nie, onder meer omdat talle steeds probleme met stropery te bowe moet kom, vertel sy. Gevolglik het Namibië ook nie versoeke vir olifante vanaf ander Afrikalande ontvang nie.
“Die skuif van olifante binne Namibië na gebiede wat behoorlik toegespan is, is nog ’n opsie – soos in die geval van N/a’an ku sê se nuwe private bewaringsgebied.
“Soos in ander Suider-Afrikaanse gebiede met groeiende olifantbevolkings is daar min gebiede wat nog olifante kan akkommodeer,” meen sy.
Thomson sê die bosreuse kan byvoorbeeld ook nie na Etosha verskuif word nie, omdat die park reeds naby sy volle kapasiteit is.
“Inteendeel, dit is waarom groepe olifante in die eerste plek uit Etosha gebreek het – om weiding en water elders te gaan soek.”
BEWARING
Sy sê die verwydering van 170 olifante van landbougebiede, buite beskermingsones, sal nie ’n nadelige uitwerking op die Namibiese olifantbevolking hê nie.
Volgens haar is die mees kwesbare subbevolking van olifante die sogenaamde woestynaangepaste olifante, maar geen van hierdie olifante is opgeveil nie.
Sy sê die ministerie en sy vennote pas ’n langer termyn plan toe om die konflik tussen boere en die oorblywende olifante te probeer verminder. Die verwydering van die olifante uit hoë konflikgebiede was dus ’n korttermynoptrede om die konflik te verminder en ’n inkomste vir die GPTF te verkry.
“Die hoofbedrywighede in die gebiede is veeboerderye, terwyl plaasheinings en waterinfrastruktuur in die gebiede nie gebou is met olifante in gedagte nie.
“Dis redelik om te sê dat ’n netto wins vir bewaring vir Namibië behaal is deur die olifante te verkoop, eerder as om hulle te skiet. Tog hou die aanhouding van olifante in gevangenisskap geen direkte bewaringsvoordeel in nie . . .”
WELSTAND
Thomson sê as dit by die welstand van die diere kom, moet hul lyding soveel moontlik beperk word.
“Deur nié die olifante van landbougrond te verwyder nie, het ook ’n negatiewe impak op hul welstand, omdat hulle deur gefrustreerde boere geteister en dalk selfs doodgemaak kan word.
“Ons weet nie wat die olifante sou kies as hulle ’n keuse gehad het tussen ’n veilige, dog vervelige lewe in gevangeniskap of ’n gevaarlike lewe saam met vyandige mense nie, of ’n vinnige dood aan die hande van professionele uitdunningspanne nie.”
Thomson meen as dit by gevangeniskap kom, is groot safariparke met semi-natuurlike toestande, waar die hele kudde en familielede bymekaar kan bly, beter as waar individuele olifante in beknopte dieretuine moet bly.
“In ’n ideale wêreld sal niks hiervan nodig wees nie. Mense en olifante sal nie probleme ervaar om saam te leef nie, die olifantbevolking kan, sonder probleme, uitbrei tot dit oral oor Suider-Afrika voorkom en stropery sal nie meer ’n probleem wees nie. . .”
Sy sê die realiteit bly dat besluitnemers ’n balans moet vind tussen die mededingende behoeftes van mense en olifante, terwyl die bewaring en welstand van olifante ook in ag geneem moet word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie