Ombudsman-wetsontwerp tydelik teruggetrek
Politici lug hul kommer
Die minister van justisie sê die nuwe wetgewing sal die beskerming van menseregte versterk.
Die minister van justisie, Yvonne Dausab, het Woensdag die ombudsman-wetsontwerp, wat sy onlangs in die parlement ter tafel gelê het, tydelik teruggetrek.
Die konsepwet het ten doel om die wetlike raamwerk wat die kantoor van die ombudsman beheer, te versterk. Sy het nie ’n rede vir die tydelike onttrekking gegee nie.
Dit volg op kwessies wat deur verskeie parlementslede geopper is, insluitend Maria Elago, Elma Dienda en Veikko Nekundi.
Dienda het onderliggende kwessies met die konsepwet uitgelig, insluitend dat die naam “ombudsman” ’n seksistiese benaming is.
“Die term ombudsman is diskriminerend teenoor vroue,” sê sy.
Sy stel voor Namibië verander die benaming na “openbare beskermer”.
Dienda sê verder die aanstelling van die ombudsman en sy of haar adjunk deur die staatspresident verminder gevolglik hul onafhanklikheid omdat hulle onder ’n verpligting van die president sal wees.
Sy doen ook ’n beroep op ’n stelsel met openbare onderhoude en onafhanklike keuring, parlementêre toesig en openbare betrokkenheid.
Dienda bevraagteken ook dat die president die ombudsman sal kan afdank, soos uiteengesit in die konsepwet.
Sy is ontevrede dat die eerste minister die uitvoerende direkteur vir die ombudsman se kantoor sal aanstel. Sy meen die besluit moet eerder deur die ombudsman self geneem word.
Elago het beklemtoon die nuwe wetsontwerp vereis die aanstelling van ’n adjunk-ombudsman wat ook ’n sittende regter moet wees.
“Hierdie dubbele rol wek ernstige kommer oor die individu se vermoë om die verantwoordelikhede van beide posisies doeltreffend uit te voer, sonder om die integriteit of doeltreffendheid van enige van die kantore in gedrang te bring,” sê sy.
Dieselfde wetgewing verbied vergoeding vir werk buite die ombudsman se kantoor, wat gevolglik vergoeding vir die regter vir sy hofwerk sal verbied, sê sy.
Nekundi het daarop aangedring dat die wetsontwerp nie blindelings aanvaar moet word nie.
“Hierdie wetsontwerp moet nie aanvaar word sonder om ten volle te verstaan wat dit behels nie.”
Die insette volg op Dausab se tertafellegging van die ombudsman-wetsontwerp voor die Nasionale Vergadering op 19 Februarie vanjaar.
In haar toespraak het Dausab gesê die voorgestelde wetgewing is van uiterste belang vir die volledige onafhanklikheid van die ombudsman se kantoor.
Die Grondwet en die bestaande Ombudsmanwet 7 van 1990 sit die mandaat uiteen om regverdigheid, aanspreeklikheid en deursigtigheid in die openbare sektor te bevorder.
Dit word gedoen deur openbare klagtes en sistemiese kwessies te ondersoek en op te los.
Dausab sê die bestaande wet is al 30 jaar van krag, maar dat die beperkte inhoud van die wet die ombudsman se kantoor se toegang tot hulpbronne beperk en die gereedheid vir ondersoeke belemmer.
Dausab sê: “Om dit as ’n administratiewe kantoor binne die ministerie van justisie te bestuur, het al hoe meer uitdagend geword weens die mededingende belange wat met reg en geregtigheid verband hou.”
Dit ondanks die feit dat daar glo geen voorvalle bekend is van staatsinmenging met die ombudsman se werk nie, wys sy uit.
Die konsepwet beoog om die ombudsman se kantoor administratiewe en finansiele onafhanklikheid te gee, soortgelyk aan die kantoor van justisie wat sedert 2015 onafhanklik funksioneer, sê die minister.
Dit versterk die ombudsman se magte deur strafmaatreëls vir nie-nakoming in te stel, en maak voorsiening vir ’n uitvoerende direkteursposisie, personeel en ’n toegewyde begroting, het Dausab uitgebrei.
Dausab sê menseregte in Namibië verbeter te midde van voortdurende uitdagings.
“Toegang tot geregtigheid, sosioekonomiese ongelykhede en die beskerming van kwesbare groepe bly ’n bekommernis,” sê sy.
“Die doeltreffendheid van die beskerming van menseregte hang nie net van wetgewing af nie, maar ook van praktiese afdwinging. Wette en beleide alleen is nie genoeg nie; hulle moet gerugsteun word deur sterk instellings, voldoende hulpbronne en ’n verbintenis tot aanspreeklikheid,” voer sy aan.
Volgens die minister is die ombudsman se vermoë om sy funksies doeltreffend uit te voer, uiters belangrik.
“Wanneer mense hulp van instellings soos die ombudsman soek, is dit omdat hulle glo in sy mandaat en in sy vermoë om geregtigheid te handhaaf.
“As hierdie kantoor hulle nie kan help nie, is daar ’n wesenlike risiko dat hulle nooit die hulp sal kry wat hulle so desperaat nodig het nie,” sê die minister.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie