Foto argief
Foto argief

Omicron steeds onder nuwe gevalle

Genoomtoetsing vir variante afgehandel
Genoomtoetsing word van weefselmonsters uit al 14 streke van die land gedoen om onder meer te bepaal watter variant was by Covid-19-sterftes teenwoordig.
Henriette Lamprecht
Die hoogs aansteeklike variant van die Covid-19-virus, Omicron, word steeds onder nuwe gevalle van die siekte in Namibië waargeneem.

Genoomtoetsing vir die variant wat in laat Desember verlede jaar gedoen is, is intussen voltooi en uitslae behoort aanstaande week bekend gemaak te word. Die Universiteit van Namibië (Unam) se laboratorium wat die toetsing doen, is ook besig met die ontleding van weefselmonsters van pasiënte wat aan Covid gesterf het, om te bepaal watter variant hulle onder lede gehad het.

Volgens die uitvoerende direkteur van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, is Namibië tans op die afdraande kurwe van die vierde golf wat laat-November begin het.

“Die beskikbare data wys ons is nou op die afdraande van die kurwe, met die aantal nuwe gevalle of nuwe infeksies wat beduidend gedaal het,” het hy gesê.

Volgens hom is dit moeilik om te bepaal wat die tydlyn in die land sal wees vir die pandemie om oor te beweeg na ’n endemie. ’n Siekte word as ’n epidemie verklaar wanneer dit oor ’n groot gebied versprei en baie mense tegelykertyd siek word. Sou die verspreiding verder verhoog, kan dit ’n pandemie word wat selfs ’n groter geografiese gebied en ’n beduidende deel van die bevolking raak.

“Covid-19 is tans ’n epidemie in Namibië en in ander lande omdat dit miljoene mense op ’n slag raak. Dis ook ’n pandemie omdat dit die hele wêreld raak,” het Nangombe verduidelik.

Vir die virus om endemies te word, sê hy beteken dit die pandemie gaan nie eindig met die virus wat verdwyn nie. Die optimistiese siening is dat genoeg mense beskerming deur immuniteit weens inenting of natuurlike blootstelling en infeksie ontwikkel. Dit sal volgens hom verseker dat daar minder Covid-verwante ernstige siekte, hospitalisasie en sterftes is, selfs al gaan die virus voort om te sirkuleer.

Met verwysing na endemies, sê hy dit word bemoeilik deur die huidige lae inentingskoers en -dekking in die land wat beteken die meerderheid van die land se inwoners is kwesbaar vir infeksie en ernstige siekte.

Nangombe sê Namibië het onlangs weer ’n besending van 33 600 dosisse AstraZeneca as deel van ’n besending van die Covax-geriewe ontvang.

Vandeesmaand word ook sowat 50 400 dosisse van die Johnson & Johnson (Janssen)-entstof verwag. Namibië ontvang ook ’n skenking van 168 000 van dié dosisse van die Amerikaanse regering.

Nog ’n miljoen Sinopharm-entstof uit China word ook later vanjaar verwag.

Met verwysing na genoomtoetsing, sê Nangombe dit word sedert Junie verlede jaar in die land uitgevoer. Met betrekking tot die huidige vierde golf is weefselmonsters uit al 14 streke die afgelope paar weke na Unam se ­laboratorium gestuur. Die uitslae van die toetse word volgende week verwag. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!