Onafhanklikheidshelde dié naweek vereer

Kubaanse president die eregas
Politici en lede van die publiek het Saterdag in die hoofstad byeengekom om Namibië se onafhanklikheidsvegters te vereer.
Tanja Bause
Katharina Moser - Die aantal mense wat die afgelope Saterdag die Heldedag-vieringe by Onafhanklikheidstadion in Windhoek bygewoon het, was veel minder as die aantal toeskouers wat in vorige jare by die verrigtinge teenwoordig was.

Daar was ook glo vanjaar organisatoriese chaos toe talle toeskouers nie die stadion via die hoofingang kon verlaat nie en deur polisiebeamptes aangesê is om binne te bly. Nadat die publiek daarop aangedring het om by die hekke uitgelaat te word om huis toe te gaan, het die polisiebeamptes die proses versnel om kospakkies uit te deel.

Die omstredenheid ná verlede jaar se staatsvieringe – toe gewone toeskouers ’n eenvoudiger spyskaart en aansienlik minder kos as genooide gaste ontvang het – is egter nie herhaal nie. Met die kleiner skare vanjaar het mense selfs dubbele porsies ontvang.

Aanvanklik sou die Heldedag-vieringe vanjaar in Omuthia in die Oshikotostreek plaasvind. Die geleentheid is egter na die hoofstad geskuif omdat die Kubaanse president, Miguel Díaz-Canel, met sy besoek aan Windhoek die eregas by vanjaar se verrigtinge was.

Hy het Saterdag in die land aangekom en vlieg vandag terug Kuba toe.

VIERINGE

“Op hierdie dag, 57 jaar gelede, by ’n plek genaamd Ongulumbashe, het ’n grensverskuiwende gebeurtenis plaasgevind wat die verloop van Namibië se strewe na onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse regering verander het. Dit is die dag waarop geskiedenis gemaak is. Dit is die dag waarop die dapper seuns en dogters van ons land ’n draaipunt bereik het en besluit het om die pad van ’n gewapende stryd aan te pak,” het president Hage Geingob tydens sy seremoniële toespraak gesê.

“Vandag bring ons saam met jou ’n welverdiende huldeblyk aan die helde en heldinne van hierdie land wat hul lewens gegee het vir hul tuisland se uiteindelike onafhanklikheid,” het Díaz-Canel op sy beurt gesê.

“Julle het onreg op die slagveld en by die onderhandelingstafel beveg, en Kuba is geëerd om julle hierin te kon ondersteun.

“Die Kubane wat in Angola vir Namibië geveg het, kan tevrede wees omdat hul opoffering deurslaggewend was vir ’n nasie se onafhanklikheid.”

‘VREDE EN SOLIDARITEIT’

Intussen berig Jemima Beukes van ons susterkoerant Namibian Sun dat Geingob gister tydens ’n ontmoeting by Staatshuis die Amerikaanse regering se “onregverdige en absurde” lysting van Kuba as ’n staatsborg van internasionale terrorisme veroordeel het.

Volgens Geingob sal Kuba altyd deur Namibië en baie ander nasies regoor die wêreld beskou word as ’n land wat internasionale vrede en solidariteit bevorder, veral deur die voortdurende ontplooiing van Kubaanse gesondheidsbrigades om van hulp te wees tydens pandemies.

Daarom is Kuba ’n borg van internasionale welwillendheid, harmonie en vrede, nie terrorisme nie, het die president gesê.

"Watter misdaad het Kuba gepleeg dat onskuldige kinders – vergeet van die volwassenes – mediese voorrade geweier word?" het die Geingob gevra.

Hy het bygevoeg: "Dit is verbysterend dat onskuldige kinders wat gebore word en niks van 1960 weet nie, nou ly en nie hul onafhanklikheid kan geniet nie. Wat van daardie kinders se menseregte?"

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!