CAPTURING: Rhino capturing by Golden Game. Photo for illustration purposes only. PHOTO: Contributed
CAPTURING: Rhino capturing by Golden Game. Photo for illustration purposes only. PHOTO: Contributed

Ondersoek staar wildhandelaar in gesig

Tanja Bause
Ellanie Smit

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het ’n ondersoek na die wildhandelaar, mnr. Johan Lombaard, van stapel gestuur nadat hy na bewering twee witrenosters sonder die nodige papierwerk vervoer het.

Die ondersoek is na bewering genoodsaak nadat Lombaard Dinsdag in ’n motorongeluk tussen Rehoboth en Kalkrand betrokke was terwyl hy ’n witrenosterkoei en haar kalf vanaf Mariental na ’n plaas in die Karibib-distrik vervoer het.

Die ongeluk het Dinsdag omstreeks 13:00 sowat 50 km buite Rehoboth gebeur.

Na wat verneem word is die twee renosters in twee Land Cruisers met sleepwaens vervoer. Een van die bestuurders het beheer oor sy voertuig verloor en die voertuig het gerol. Nie een van die renosters is beseer nie.

Ná die ongeluk is die kalf terug na Lombaard se plaas geneem terwyl die koei na haar eindbestemming by Karibib vervoer is.

Die owerhede het hom egter Woensdag beveel om die koei na sy plaas terug te neem nadat ontdek is dat hy glo nie die vereiste vervoerpermitte gehad het nie.

Lombaard, wat Golden Game CC besit wat vanaf sy plaas in die omgewing van Mariental bedryf word, het die ongeluk Woensdag bevestig toe hy om kommentaar genader is.

Die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda, het ook die ongeluk bevestig en gesê die polisie het die ministerie Dinsdagaand oor die voorval ingelig aangesien renosters betrokke was.

“Ons personeel in die streek het daarop gereageer.”

Volgens hom het Lombaard nie ’n vangpermit gehad wat voorsiening maak vir die vang en vervoer van die renosters nie. Hy het glo slegs ’n veeartsenypermit gehad.

ministerie kry skuld

Lombaard het dit egter betwis en gesê die fout lê by die ministerie.

Volgens ministeriële prosedures kwalifiseer ’n aansoeker nie vir ’n veeartsenypermit as hulle nie ’n vangpermit het nie.

“Volgens die inligting wat van die eienaar [Lombaard] ontvang is, is albei renosters terug na die plaas by Mariental geneem. Dit is in opdrag van die ministerie,” het Muyunda gesê.

Hy het gesê die ondersoek sal voortduur, veral om vas te stel hoe Lombaard ’n veeartsenypermit sonder ’n vangpermit bekom het.

Sodra dit afgehandel is, sal die ministerie ingelig word of ’n saak aanhangig gemaak moet word en of ’n arrestasie uitgevoer moet word, het hy gesê.

GELDIGHEID

Lombaard sê die sleepwa waarin die renosterkoei vervoer is, het omgeslaan. Hy het egter beklemtoon hy het al die nodige permitte om die renosters te vervoer.

Volgens hom is vangpermitte vir die Suide – wat deur die ministerie uitgereik is – vanaf 1 April tot 31 Oktober geldig.

Sy vangpermit dui egter verkeerdelik aan dat dit net tot 30 September geldig is, het hy gesê.

Ons susterkoerant Namibian Sun het Lombaard se veeartsenypermit onder oë gehad. Die dokumentasie, wat Dinsdag uitgereik is, is sewe dae geldig.

“Alles is in plek. Dit is die enigste teenstrydigheid en dit is ’n fout wat die ministerie gemaak het wat reggestel sal word,” het hy gesê.

Die Hardap-polisie se koördineerder vir misdaadondersoeke, adjunkkommissaris Eric Clay, het gesê as die ministerie se ondersoek bevind dat die nodige permitte nie uitgereik was nie, “sal daar opgetree moet word”.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!