Photo; Contributed
Photo; Contributed

Onrus op Omaruru midde planne vir nuwe aanleg

Betoging, klagskrif deur personeel
As deel van opgraderings in Omaruru het die dorpsraad die bekendstelling van 'n aanleg vir afvalwaterbehandeling aangekondig om die septiese tenkstelsel te vervang.
Precious Nghituanapo
Omgewingskwessies en onlangse optrede deur Omaruru se munisipaliteit het ontevredenheid onder inwoners en personeellede veroorsaak.

Aan die voorpunt van dié ontevredenheid is die konstruksie van ’n afvalwatersuiweringsaanleg – ’n kritieke infrastruktuurprojek wat daarop gemik is om langdurige rioolkwessies te takel.

Die uitvoerende hoof van Omaruru se dorpsraad, Valentinus Sindongo, het die inisiatief verdedig en die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon om tekortkominge in die infrastruktuur hok te slaan.

Sy verweer kom te midde van kritiek van gemeenskapslede, veral diegene wat besware geopper het teen die gebrek aan ’n omgewingsimpakstudie vir die projek.

Sindongo het in ’n onlangse onderhoud die munisipaliteit se besluit probeer regverdig.

“Omaruru sukkel al meer as 100 jaar sonder behoorlike rioolgeriewe. Ons probeer nou om hierdie probleme reg te stel en dit is nie die eerste poging nie.

“Werk het reeds verlede jaar begin om hierdie langdurige probleme aan te pak,” het hy verduidelik.

KRITIEK

“Daar is gemeenskapslede in Omaruru wat teen alles is wat ons in die dorp doen en ek voel hulle is nie regtig positief teenoor die dorp nie,” het Sindongo gesê en sy frustrasie uitgespreek met kritici buite die geraakte gebiede wat nie direk by die rioolstelsel betrokke is nie.

Ondanks die omstredenheid het hy ’n beroep op alle belanghebbendes gedoen vir eenheid en samewerking om Omaruru na sy ontwikkelingsmikpunt te dryf.

“Die gemeenskap moet deel van die oplossing wees, nie net kritiek lewer nie.

“Ons het vergaderings gehou en afsprake gemaak en dit sluit geraakte partye in. Die doel is om planne te bespreek en terugvoering te ontvang,” het Sindongo gesê.

PERSONEEL

Buiten vir kritiek van gemeenskapslede het die munisipaliteit ook interne konflik ervaar.

Personeellede het betoog oor onlangse pogings tot herstrukturering binne die munisipaliteit.

’n Poging om doeltreffendheid te optimaliseer deur personeelrotasies het ontevredenheid onder werknemers veroorsaak wat gelei het tot skorsings en openbare klagskrifte wat bestuursveranderinge geëis het.

“Die onlangse betogings in Omaruru kom ná pogings om operasionele doeltreffendheid te verbeter,” het Sindongo verduidelik.

“Sommige personeellede was huiwerig om verandering te aanvaar wat daarop gemik is om hul vaardighede te verbreed en dienslewering te verbeter.”

Die dorp se burgemeester, Vincent Kahua, het die sensitiewe aard van hierdie kwessies erken en die gemeenskap verseker dat gesprekke oor personeelkwessies vertroulik hanteer word.

“Ons het weerstand binne sekere departemente ondervind, veral in grondtoewysing en behuisingsprojekte,” het hy gesê.

Kahua het die erns van die situasie erken, veral rakende die skorsing van sekere raadspersoneellede.

“Daar is sekere personeellede wat uit die raad geskors is en hulle word ondersoek,” het hy bevestig.

“Die raad se standpunt is dat ons nie personeelsake met die publiek bespreek nie.”

Hy het wel die agtergrond van die skorsings verduidelik met verwysing na prosedurele oorplasings binne departemente.

“Die personeel het vir 10 dae geweier om oor te skuif. Die bestuur het geen ander keuse gehad as om hulle te skors en ’n ondersoek van stapel te stuur nie.”

GROND EN BEHUISING

Daarbenewens het Kahua spesifieke operasionele uitdagings binne die raad getakel, veral in die departement wat verantwoordelik is vir grondtoekenning en behuisingsprojekte.

“Ek het klagtes van die gemeenskap in my kantoor ontvang. Verskillende groepe kla oor hoe die grondkwessie in Omaruru hanteer word. Ons het openbare vergaderings met die gemeenskappe gereël.”

Sindongo het beklemtoon dat personeelverantwoordelikhede in pas gebring moet word met die behoeftes van die gemeenskap om vertroue te herwin en doeltreffendheid te verbeter.

“Dis noodsaaklik dat alle personeellede hul rolle vervul om ons gemeenskap se welstand en institusionele integriteit te handhaaf.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!