Onvoltooide boorgat lei glo tot krokodilaanval

Sewejarige meisie doodgemaak
Yandi Du Plessis
Kenya Kambowe

Inwoners van die nedersetting Hoha gee ’n onvoltooide boorgat die skuld vir die dood van ’n sewejarige meisie wat deur ’n krokodil aangeval is terwyl sy water in die Kavangorivier gaan haal het.

Hulle glo vas as die boorgat volgens skedule voltooi was, sou die dorpenaars nie hul lewens hoef te waag deur water by die rivier te gaan haal nie. Die tragiese voorval het verlede Donderdag by Hoha plaasgevind, wat sowat 130 kilometer oos van Rundu geleë is.

TRAGEDIE ONTVOU

Nangura Rosvitha Mukerenge se jong lewe is kortgeknip nadat ’n krokodil haar op die oewer van die rivier aangeval het toe sy saam met haar tannie, Anastasia Muhembo, gestap het om water te gaan haal.

Muhembo het die gebeure beskryf en gesê dit was omstreeks 15:00 toe sy besluit het om na die rivier toe te gaan – sowat 700 meter van hul opstal af.

“Die water by ons kraan het nie geloop nie, en toe het ek besluit om saam met [Mukerenge] en my dogter water by die rivier te gaan haal,” het sy gesê.

“Ek het met drie houers gegaan, en terwyl ek besig was om hulle vol te maak, het ek net ’n harde geluid en ’n plons gehoor. Toe ek omdraai, sien ek ’n groot krokodil wat my niggie in die water intrek. Ek het toe vir my dogter gesê om vinnig huis toe te hardloop en die mense in te lig oor wat gebeur het,” het Muhembo gesê.

Sy het verduidelik sy kon nie probeer om die meisie te red nie omdat die krokodil groot was en vinnig beweeg het.

Die slagoffer se lyk is uiteindelik Saterdag ontdek.

GEVAARLIKE OMGEWING

Die onvoltooide boorgat in Hoha is een van drie wat verlede jaar in die kiesafdeling geboor is, maar die toerusting is nog nie geïnstalleer nie.

Só is Sondag deur die kiesafdelingsraadslid Laurentius Mukoya bevestig. Volgens die slagoffer se familielede is daar baie krokodille in hul omgewing wat ook vee, insluitend bokke, aanval.

Tydens ons susterkoerant Namibian Sun se besoek aan die slagoffer se opstal die afgelope naweek, het dorpenaars ’n boorgat uitgewys wat verlede jaar geboor is, maar die toerusting is nog nie geïnstalleer nie.

Tydens die besoek is ongeveer ses krokodille waargeneem wat in die son aan die oorkant van die Kavangorivier gelê en bak het.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!