Outjo in waterkrisis gedompel

Munisipaliteit nader ministerie om hulp
Outjo se leiers het glo die gemeenskap se aanbod vir finansiële ondersteuning, in ruil vir tydelike kwytskelding van munisipale tariewe, van die hand gewys omdat hul begroting dan nie sal klop nie.
Elvira Hattingh
Outjo se waterdilemma duur onverpoos voort, met die munisipaliteit wat verlede week ’n kennisgewing uitgestuur het waarvolgens die dorp se krane vir net sowat 11 ure per dag oop sal wees.

Volgens die kennisgewing sal die dorp se watertoevoer tussen 10:00 en 13:00 afgesny word, waarna dit vir ’n uur tussen 13:00 en 14:00 weer beskikbaar sal wees. Dan is die krane weer droog tussen 14:00 en 17:00, waarna dit weer tussen 17:00 en 22:00 oopgedraai word.

Snags word die watertoevoer tussen 22:00 en 05:00 onderbreek.

Inwoners van die dorp sê egter vanaf 12:00 Saterdag tot die aand was daar nie water nie en ook weer Sondagoggend vanaf 10:00 tot láát namiddag. Die onderbroke waterverskaffing is glo nodig weens waterreservoirs wat min water het weens die lae watervlakke van die dorp se boorgate.

MINISTERIE GENADER

“Ons sukkel,” het die munisipaliteit se uitvoerende hoof, Josef Urib, gister aan Republikein gesê.

“Die akwifer se watervlakke is baie laag as gevolg van vanjaar se ernstige droogte.

“Ons het bykomende boorgate gesink, maar een van hulle lewer modderwater. Ons het intussen dié een toegemaak. Ons het ’n maatskappy aangestel wat reeds twee boorgate geboor het – hulle sal eindelik vier gate boor.

“Daar is tans drie nuwe boorgate wat nog toegerus moet word, maar ons sukkel finansieel en kan dit nie tans doen nie,” het Urib verduidelik.

“Ons het ’n versoek vir finansiering by die ministerie van landelike en stedelike ontwikkeling ingedien. Die dorp se burgemeester sal die ministerie vandeesweek gaan spreek.

“As ons deur die ministerie ondersteun kan word, sal ons drie nuwe boorgate kan toerus. Dit sal nie die probleem heeltemal oplos nie, maar darem help dat ons in ’n mate kan ontspan,” het hy gesê.

Op ’n vraag oor hoekom die gemeenskap se aanbod nie aanvaar word om die boorgate op hul onkoste toe te rus, in ruil daarvoor dat hulle tydelik van munisipale betalings kwytgeskeld word nie, sê Urib die volgende: “Die dorpsraad het die aanbod van die hand gewys. Die rede hiervoor is omdat alle munisipale heffings nie net vir water gaan nie. Dit word volgens ’n begroting verdeel.

“As ons byvoorbeeld N$1,8 miljoen na die begroting vir water laat gaan en die mense betaal vir vyf maande lank nie hul rekeninge nie, sal ons begroting nie klop nie,” het hy verduidelik.

“Dit is die rede hoekom die aanbod van die hand gewys is.”

Urib sê dit is nie net Outjo wat onlangs wateronderbrekings ervaar het nie, maar dat dorpe soos Tsumeb en Katima Mulilo ook probleme gehad het en deur die ministerie bygestaan is.

“Die dorp se inwoners moet geduldig wees. Ondersteun asseblief die munisipaliteit terwyl ons probeer om die waterkrisis op te los,” het Urib gevra.

Hy sê sommige lede uit die gemeenskap kom bied hul hulp aan, terwyl ander met ervaring in die verskaffing van water, net kritiek lewer.

GEMEENSKAP

Intussen het inwoners besluit om weer ’n gemeenskapsvergadering te hou om die dorp se waterkrisis te bespreek.

Sommige is van mening dat hul aanbieding van hulp van die hand gewys word en daar ’n politieke kwessie van gemaak word, terwyl ander sê dit is onwaar dat die dorp ’n tekort aan water het.

Hulle skryf die probleem toe aan “onbevoegdheid en dorpsleiers wat glo net daarin belangstel om salarisse aan die einde van die maand te ontvang.”

’n Bekende sakepersoonlikheid op die dorp sê inwoners is al vantevore “gesus” met die storie dat die ministerie genader is vir finansiële bystand, maar daar het dadels van gekom.

Inwoners kla ook oor ’n groenteboer in die dorp wat glo sonder onderbrekings water vanuit ’n munisipale boorgat kry om sy boerdery mee nat te lei.

Nog ’n inwoner van die dorp het vantevore aan Republikein gesê daar is eintlik “maklike oplossings”, maar dat die munisipaliteit glo niks daarvan wil hoor nie.

Deon Verster sê ’n professionele hidroloog het vroeër bewys dat een van die boorgate wat nie toegerus is nie, ’n volhoubare 60 000 liter water per uur lewer. Die hidroloog is glo privaat met die Droom vir Outjo-projek se geld gehuur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!