Plaag op pad eis drie lewens

Monique Adams
Monique Adams op

Keetmanshoop

Nog ’n ongeluk het die naweek op dieselfde plek en om dieselfde redes plaasgevind waar twee ongelukke ’n week gelede ook lewens geëis het. In die jongste geval het drie mense gesterf, nadat ’n minibus op ’n plaag sprinkane op die pad gegly en gerol het. Die ongeluk het omstreeks 17:30 op die B1-pad 30 km buite Keetmanshoop plaasgevind terwyl die groep van 15 passasiers na Windhoek onderweg was.

Drie van die passasiers, Maria Hatzenburg, Natalia Ndatipo en Mbiseraije Karuumbe, het op die toneel gesterf. Nog drie wat in ’n kritieke toestand was, is later die aand na die Windhoek Sentrale Hospitaal vervoer.

Elf van die passasiers is met matige beserings na die Keetmanshoop-staatshospitaal geneem.

OORLEWENDE VERTEL

Een van die oorlewendes, die 17-jarige Kopoviti Tjirongo, het gesê hy het geslaap toe die ongeluk gebeur het.

“Ek en my vriend was op pad Windhoek toe om daar te slaap en die Saterdag aan ’n sportbyeenkoms op Rehoboth deel te neem. Toe die ongeluk gebeur het, was ek aan die slaap; dit was vir my moeilik om tot verhaal te kom. Die medici het betyds opgedaag, maar nou weet ek nie hoe dit met my vriend gaan nie, want hy was in ’n kritieke toestand,” het Tjirongo vertel.

Me. Rino Masa (24), wat aan die passasierskant gesit het, se been is gebreek nadat dit onder die voertuig beland het. Sy het ook kneusplekke opgedoen. Masa vertel toe hulle die swerm genader het, het sy die bestuurder gevra of die sprinkane ongelukke kan veroorsaak. Net nadat hy “ja” geantwoord het, het die voertuig begin swaai en omgeslaan.

“Toe ons die sprinkane nader, het die bestuurder probeer om sy spoed te verminder, maar dit was te laat; alles het so vinnig gebeur. Ek is net dankbaar ek is veilig en dat my veiligheidsgordel vas was,” het Masa gesê.

Masa het verder gesê daar was geen padtekens om die motoriste te waarsku dat die pad vorentoe vol sprinkane is en dat hulle stadiger moet ry nie.

Mnr. Nakale Kaypiti (34), die pa van die 18-jarige Mio Santero wat krietiek beseer is, het gesê hy is baie teleurgesteld in die gesondheidsorgbeamptes by die Keetmanshoop-staatshospitaal.

“Ek het sopas van Windhoek af gery om my seun in die ongevalle-afdeling te sien, en niemand kon my sê wat my seun se toestand is nie.

Ek het die verpleegsters gevra, maar hulle het ook nie ’n antwoord gehad nie.

Ek is uiters teleurgesteld in die Paaieowerheid, want daar is geen padtekens om bestuurders oor die sprinkane op die pad te waarsku nie.

Hierdie sprinkaanplaag duur al vir twee maande, maar geen voorsorgmaatreëls is vir die paaie in plek gestel nie,” het Kaypiti gesê.

Die Paaieowerheid het motoriste wat die Keetmanshoop B1-pad gebruik aanlyn gewaarsku. Padgebruikers dink egter nie dit is genoeg nie, en meen waarskuwingsborde moet steeds langs die pad geplaas word, aangesien nie almal toegang tot sosiale media het nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!