Politici baat by Recon se N$7 miljoen-motorskema

Skema bemagtig gemeenskap, maar beroof staat
'n Adjunkminister en 'n streekraadslid is onder diegene wat na bewering hul motors aan die oliemaatskappy verhuur het, wat gewone voertuigeienaars ontstig het.
Kenya Kambowe
Die adjunkminister van handel en nywerheidsontwikkeling, me. Verna Sinimbo, en me. Victoria Kauma, Rundu se landelike kiesafdelingsraadslid en adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad, is onder die politici en invloedrykes in die Kavangostreke wat na bewering – direk en indirek – baat by miljoene wat Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica) bestee aan die huur van private motors vir die maatskappy se bedrywighede.

’n Ondersoek na die skema deur ons susterkoerant Namibian Sun het gewys politici in die twee Kavangostreke is onder diegene wat hul voertuie aan die Kanadese olie- en gaseksplorasiemaatskappy verhuur. Die maatskappy het sedert 2020 meer as N$7 miljoen bestee aan die huur van motors vir sy bedrywighede in die twee streke, het sy woordvoerder bevestig.

ReconAfrica betaal daagliks N$1 500 vir die gebruik van ’n voertuig, hoofsaaklik 4x4’s.

Namibian Sun kon vasstel dat, pleks daarvan om motors van motorverhuringsmaatskappye uit gebiede soos Windhoek te huur, het die maat­skappy ’n beroep op belangstellende partye gedoen om hul voertuie vir die gebruik daarvan te registreer. Dit as deel van ’n poging om die gemeenskappe waarin hy bedrywig is, te bemagtig. Hierdie skema is ook goedkoper as om voertuie van hoofstroom-verhuringsmaatskappye te huur.

VERLIES VAN STAATSINKOMSTE

Terwyl motorverhuringsondernemings belasting aan die staat moet betaal, het eienaars van private motors – wat nie vir kommersiële gebruik geregistreer is nie – nie dieselfde verpligting nie.

Dit is egter onthul dat hoewel ReconAfrica dié besluit in goeder trou geneem het om plaaslike inwoners in die verarmde Kavangostreke te ondersteun, het politici ook nie die geleentheid laat verbygaan nie.

Staatsamptenare, sommige van hulle skoolhoofde, het glo tydelik uit hul poste bedank om toegang tot hul pensioene te kry om voertuie te koop wat ReconAfrica by hulle kan huur.

Hulle keer dan terug na die onderwys nadat hulle betaal is.

Plaaslike inwoners is ontevrede met die verwikkelinge en sê diegene met mag en invloed gebruik hul posisies om by die skema te baat.

Met die sporadiese teenstand uit sekere oorde wat ReconAfrica in die gesig staar weens die waargenome risiko wat sy bedrywighede vir die omgewing inhou, word die stap om hom by magtige politici in die streek te skaar, beskou as die maatskappy se manier om in leiers se goeie boeke te kom.

‘EK SOEK MY GELD’

Intussen kon Namibian Sun vasstel dat Kauma en die olie- en gasmaat­skappy tans koppe stamp oor ’n onbetaalde rekening van meer as N$30 000 vir die gebruik van haar swart Toyota Fortuner.

Die raadslid wag reeds vier maande op dié betaling van ReconAfrica.

Daar word verneem dat die maat­skappy betaling uitgestel het op grond daarvan dat haar motor in die poel was, maar nie op die maatskappy se databasis geregistreer is nie.

ReconAfrica wil glo nie opdok voor alle vrae oor hoe die motor in die poel beland het sonder om die regte prosedures te volg, beantwoord is nie.

Kauma het aan Namibian Sun gesê sy het nie aansoek gedoen om haar motor op die maatskappy se stelsel te laat registreer nie, maar het gesê sy is deur werknemers van Recon­Africa genader wat verneem het dat sy ’n luukse motor bestuur.

“Ek het nooit aansoek gedoen om my motor te laat registreer nie. Dit was hulle wat na my toe gekom het om my voertuig te gebruik en hulle het dit kom haal,” het sy gesê.

“Nou wil hulle nie betaal nadat hulle my motor gebruik het nie. Ek wil my geld hê; vra hulle asseblief. Dit is my private motor wat ek met my eie geld gekoop het, so hulle moet my betaal,” het sy gesê.

Die raadslid het selfs gedreig om regstappe te neem as sy nie kry wat aan haar verskuldig nie.

’NIE MYNE NIE’

Sinimbo het ontken dat ’n wit Toyota Land Cruiser-dubbelkajuitbakkie wat een van ReconAfrica se senior bestuurders onlangs by ’n geleentheid in die dorp Ngone in Rundu se landelike kiesafdeling gebruik het, aan haar behoort.

Sy het egter erken dat haar dogter die eienaar van die voertuig is, maar het ontken die voertuig is aan ReconAfrica verhuur.

“Sê vir hulle my voertuig staan by die huis geparkeer. Ek het nie by Recon­Africa gebaat nie. Ek ken niemand by ReconAfrica nie en ek wil nie eens nie.

“Ek het niks om op invloed uit te oefen nie. Geen voertuig van my word deur ReconAfrica gebruik nie,” het sy gesê.

RECON REAGEER

Die maatskappy het geweier om te antwoord op bewerings dat dit maklik is vir politici om hul motors in die skema te kry. Volgens die maatskappy se woordvoerder, me. Ndapewoshali Shapwanale, het ReconAfrica tot dusver 90 voertuie gehuur en meer as N$5 miljoen aan huurkoste betaal vir die eerste en tweede fases van sy 2D-seismiese veldtog.

“Vir ander projekaktiwiteite, insluitend dié om met die gemeenskap te skakel, het die maatskappy tussen Januarie en September N$2,2 miljoen tot die plaaslike ekonomie bygedra deur die mense van die Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreke se voertuie te huur,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!