Poppe help mense met demensie

Tanja Bause
Tanja Bause

Wêreldwyd het navorsing getoon poppe en sagte speelgoed hou tera­peutiese voordele vir demensielyers in.

Die gevoel om ’n pop of sagte speelgoed vas te hou, kan strelend wees. Dit kan hulle aan ’n tyd herinner toe hulle jong kinders was of kinders en troeteldiere van hul eie gehad het.

Om vir ’n pop of sagte speelding “om te gee”, kan ook mense met demensie ’n hernude sin van doelgerigtheid gee en hulle help om met die buitewêreld te verbind. Dit kan ’n impak op hul energie, aktiwiteitsvlakke en buie hê, luidens internasionale navorsing.

Die Frail Care Association in Henties­baai wat in 2008 sy deure geopen het, het tans 49 inwoners van wie 24 demensielyers is.

Volgens suster Rina Erasmus, die verpleegbestuurder, het Frail Care twee jaar gelede poppe aan die in­woners met demensie begin gee.

“Ons het die navorsing gelees wat dit aanbeveel het. Die reaksie op die poppe verskil van persoon tot persoon en hang af van die vlak van die persoon se demensie. Hulle herken wel hul poppe en elkeen het hul eie. Ons het ’n ouma wat 103 jaar oud is en sy het twee poppe. Sy het ’n seun en ’n dogter en al twee moet altyd by haar wees. Sy maak dood­seker daarvan,” het sy gesê.

LEWENSGETROU

Erasmus sê een inwoner het haar pop na haar dogter vernoem en sy het self besluit hoe oud haar pop is.

“Die mense vra waar hulle poppe is en die poppe bly by hul eienaars.”

Gebreide poppe is nie gewild onder demensielyers nie en hulle hou eerder van mooi lappoppe of dié wat lewensgetrou soos babas lyk.

Frail Care kan nie sagte speelgoed aan sy pasiënte verskaf nie, omdat hulle nie van dié speelgoed tot hul beskikking het nie.

“Dis vir die personeel ewe bevredigend om te sien dat die demensie­lyer behae en gemak vind met hul pop en die personeel sorg dat die pop by sy eienaar bly.”

Navorsing toon ook dat musiek ’n kalmerende effek op pasiënte het.

“Veral die tipe musiek waarvan die persoon voorheen gehou het. Die familie moet sorg vir ’n radio en CD’s met die inwoner se gunstelingmusiek op en dan speel ons dit vir hulle.”

Frail Care het ’n bestuursraad wat uit nege vrywillige lede bestaan wat die voorsitter en ondervoorsitter, tesourier en sekretaresse insluit. Daar is 59 personeellede wat die ver­sorgers, administratiewe personeel, kombuispersoneel, skoonmakers en twee verpleegkundiges insluit.

“Ons het ook ’n selfsorgafdeling met drie dubbelkamers vir paartjies en agt enkelkamers waar personeel 24 uur per dag ondersteuning bied.”

Mense wat dalk poppe of sagte speelgoed het wat hulle of hul kinders nie meer gebruik nie, kan dit aan Frail Care skenk en dalk ’n demensielyer ’n nuwe doel gee.

POSITIEWE HERINNERINGE

Nog ’n rede waarom terapiepoppe voordelig is, volgens navorsing, is dat dit gelukkige herinneringe van vroeër ouerskap vir beide vroue en mans kan terugbring.

Talle ouer volwassenes geniet dit om hul pop te wieg en drukkies te gee. Sommige neem selfs die baba as hul eie aan en maak die versorging daarvan deel van hul daag­likse roetine.

Om ’n kind te hê om voor te sorg, kan ook gevoelens van isolasie en hartseer verlig. Mense vind in die algemeen dat hul gemoed verlig en hul senuwees kalmeer wanneer hulle ­interaksie met babas het.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!