’n Nuwe kontrakteur het die konstruksie van die Nkurenkuru-Nepara-padprojek oorgeneem. Foto Kenya Kambowe
’n Nuwe kontrakteur het die konstruksie van die Nkurenkuru-Nepara-padprojek oorgeneem. Foto Kenya Kambowe

RA, plaaslike kontrakteur se paaie skei oor swak prestasie

Nikanor Nangolo
Die Paaieowerheid (RA) het China Henan International Cooperation Group (Chico) se hulp dringend ingeroep om die konstruksie van die Nkurenkuru-Nepara-pad oor te neem ná die treurige prestasie van die vorige kontrakteur.

Die RA se streekingenieursbestuurder, Kennedy Chigumia, het hierdie verwikkeling tydens ’n onlangse vergadering met die Kavango-Wes-streekraad op Rundu bevestig en vertroue uitgespreek dat Chico die projek doeltreffend en betyds sal voltooi.

Die projek, wat aanvanklik meer as ’n jaar gelede begin het, het langdurige vertragings ondervind. Fase een, wat die opgradering van 10 km van gruis na ’n laevolume-seël behels, was veronderstel om binne 10 maande voltooi te wees, maar het onvoltooid gebly.

Die kontrak, ter waarde van N$29 miljoen, is nou Chico se verantwoordelikheid, met ’n nuwe tydlyn vir voltooiing van ses maande.

Chigumira het gesê die projek is aan die vorige kontrakteur toegeken as deel van ’n poging om plaaslike kontrakteurs te bemagtig, maar sê hul mislukking was duidelik.

“Die ergste is dat ons ons eie mense wou bemagtig, maar soms lewer hulle net nie. Julle het dit self gesien, dit was soos ’n sirkus,” het hy gesê.

Network Media Hub (NMH) het voorheen berig die RA se uitvoerende hoof, Conrad Lutombi, het gewaarsku dat die projek voortdurend agter kontraktuele spertye bly.

Die kontrakteur is tot November gegun om vordering te toon of die risiko loop dat die kontrak beëindig word.

Die Nkurenkuru-Nepara-pad is 'n noodsaaklike skakel na die streek se hoofweg wat Kavango-Wes en -Oos met die Trans-Zambezi-korridor en ander noordelike streke verbind.

Tydens ’n werksbesoek aan Kavango-Wes laat verlede jaar het Lutombi die adjunk- eerste minister, John Mutorwa, oor die projek se stadige vordering ingelig.

Lutombi het herhaal verskeie gesprekke met die kontrakteur het nie resultate opgelewer nie, wat gelei het tot die uitreiking van ’n finale waarskuwing in November. Die RA het dit duidelik gemaak die versuim om die sperdatum na te kom sal tot die beëindiging van hul kontrak en die begin van ’n noodverkrygingsproses lei.



STREEKLEIERS

Intussen het streekleiers gevra vir opdaterings oor vyf ander paaie wat vir ontwikkeling in die 2024-’2025-boekjaar geoormerk is.

Die gemeenskappe in Kavango-Oos, Kavango-Wes en Zambezi het lank die gebrek aan behoorlike padinfrastruktuur gekritiseer en die regering van verwaarlosing beskuldig.

’n Verslag deur die staande komitee oor vervoer, infrastruktuur en behuising, ná besoeke tussen September 2022 en Augustus 2023, het hierdie kommer uitgelig.

Die goewerneur van die Kavango-Wesstreek, Sirkka Ausiku, wat destyds die komitee toegespreek het, het die haglike toestand van paaie in die streek uitgelig, veral die stadige vordering op die Charlie Cutline-pad, wat deurslaggewend is vir plaaslike konnektiwiteit. Sy het ook die dringende behoefte aan paaie wat by groter hoofweë aansluit beklemtoon om toeganklikheid te verbeter.



GEMEENSKAPPE

“Die meeste toegangspaaie is bloot grondspore, dikwels sanderig en onbegaanbaar sonder viertrekvoertuie. Hierdie paadjies moet opgegradeer word na gruis, en uiteindelik tot bitumen,” lui die komitee se verslag.

In Mankumpi maak inwoners staat op Rundu vir noodsaaklike dienste, maar die swak padinfrastruktuur het toegang tot skole en gesondheidsorg ernstig belemmer.

Hoewel hulle die voortdurende werk op die Charlie Cutline-pad waardeer, bly die gemeenskap se frustrasie hoog aangesien die meeste paaie steeds onbegaanbaar is, behalwe vir viertrekvoertuie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer