Die burgemeester van Walvisbaai, Trevino Forbes. Foto argief
Die burgemeester van Walvisbaai, Trevino Forbes. Foto argief

RedForce gepos ondanks gevolge

Mathias Haufiku,Leandrea mouers
Mathias Haufiku en Leandrea Mouers – “Die belangrikste ding wat ons as leiers kan doen, is om ingeligte besluite te neem vir die verbetering van inwoners en die dorp en nie om ons besluite op emosie te baseer nie.”

Só het die burgemeester van Walvisbaai, Trevino Forbes, gesê by navraag of die beëindiging van die kontrak met RedForce polities gemotiveerd is.

Die munisipale raad van Walvisbaai het Woensdag ’n brief aan RedForce gestuur om dié skuldinvorderaar in kennis te stel dat die raad sy kontrak beëindig.

Dit kom nadat die dorp se inwoners hul ontevredenheid met RedForce uitgespreek het.

Ten minste drie bestuurders by die munisipaliteit het op voorwaarde van anonimiteit gepraat en gewaarsku dat die beëindiging van die kontrak nog jare by die munisipaliteit sal spook.

Dit aangesien die munisipaliteit se skuld sal voortgaan om te eskaleer en dit sy inkomste nadelig sal beïnvloed, wat die munisipaliteit uiteindelik met geen geld sal laat om die dorp in stand te hou nie.

Inwoners en besighede skuld die munisipaliteit tans sowat N$378 miljoen aan onbetaalde munisipale fooie. Van die munisipaliteit se 33 000 rekeninge is 8 000 aan RedRorce oorhandig sedert hy in Augustus verlede jaar met sy skuldinvordering begin het.

Dit blyk ook dat RedForce goedkoper is as om prokureurs aan te stel om skuld van inwoners in te vorder.

Die adjunk- uitvoerende hoof en regsadviseur van RedForce, Margaret Malambo, het gesê die munisipaliteit het versuim om die regsgevolge wat sou volg, asook die koste, te oorweeg toe hy besluit het om die kontrak te beëindig.

Die munisipale raad het die resolusie Dinsdag tydens 'n spesiale vergadering aanvaar om die kontrak onmiddellik te beëindig.

Die munisipaliteit se finansiële hoofbestuurder, Frans !Gonteb, het verlede week gewaarsku dat die kansellasie van die kontrak met die skuldinvorderaar “’n regstryd met koste [van sowat N$45 miljoen] tot gevolg sal hê”.

Die N$45 miljoen word bereken as 12% rente van die N$378 miljoen wat inwoners en besighede tans aan die munisipaliteit skuld.

Die besluit om die kontrak te beëindig kom dae nadat die raad van ’n omvattende verslag voorsien is oor die prestasie van die skuldinvorderaar en hoe hy dit reggekry het om sowat N$85 miljoen van wanbetalers in te vorder sedert die maatskappy se pligte begin het.

“Dit is kommerwekkend en hoogs misleidend vir dieselfde raadslede wat tydens hierdie voorlegging en vergadering teenwoordig was om nou te sê hulle het geen kennis van RedForce gehad nie en is nooit deur die uitvoerende bestuur geraadpleeg voor ons aanstelling nie,” het Malambo gesê.

Op navrae oor RedForce se volgende stappe, het Malambo gesê: “Dit is ’n Dawid-teen-Goliat-situasie en net een van ons het die klip en slingervel.”

’n Uiteensetting van die munisipaliteit se skuld toon dat inwoners van Kuisebmond sowat N$95 miljoen skuld, Narraville N$29 miljoen, Meersig N$14 miljoen en Langstrand N$7 miljoen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer