Reuseseewier floreer op Lüderitz
Kelp Blue fokus op volhoubaarheid
Wanneer die reusekelp groot genoeg is om uitgeplant te word, word dit per boot van die broeigebied na die plaas in Shearwaterbaai vervoer.
Nagenoeg 1 100 kilogram reuseseewier (Macrosystis pyrifera) is onlangs van ’n kelpplaas in Shearwaterbaai by Lüderitz geoes.
Dit as deel van ’n toetsfaseprojek wat in 2021 deur Kelp Blue Namibia van stapel gestuur is.
“Reuseseewier groei nie natuurlik in ons waters nie. Ons het twee soorte plaaslike seewier – waaierkelp en seebamboes. Albei het ’n stingel wat soos ’n arm lyk en blare wat soos vingers lyk. Die reuseseewier het pneumatosiste in die stam en die blare groei al langs die stam uit,” het Iriya Jona, die biotegnologie-bestuurder by die Kelp Blue-fabriek op Lüderitz, gesê.
“Die naaste plek waar reuseseewier groei is Robbeneiland in Suid-Afrika. Ons het soortgelyke Kelp Blue-plase en fabrieke in Nieu-Seeland en Alaska.”
Reuseseewier kan nie op ons oseaanbodem groei nie omdat dit te sanderig is. Gevolglik moet strukture spesiaal hiervoor ontwerp en gebou word.
“Omdat ons in die toetsfase was, het ons alles getoets. Ons het verskillende spore in die broeikaste gesit om te kyk watter een die beste hier aard. Ons het verskeie strukture gebou om te kyk watter een die strawwe toestande in die see die beste kan weerstaan.
“Ons het gekyk watter plante die beste groei en die oppervlak kan bereik. Ons het gekyk en getoets of ons produkte kan maak van die kelp wat ons oes en of die produkte gaan werk, en ná al die toetse kan ons met sekerheid sê alles werk.
“Ons leer nog steeds en is nou besig om te kyk waar ons kan verbeter, maar alles werk. Ons is tans besig om ’n kommersiële fabriek na aanleiding van die toetsfase te ontwerp en ons sal volgende jaar soontoe gaan en dan sal ons begin produseer,” sê Iriya.
REUSESEEWIER
Wanneer die reuseseewier groot genoeg is om uitgeplant te word, word dit per boot van die broeigebied na die plaas in Shearwaterbaai vervoer. Die plaas is ’n struktuur van toue en nette wat aan die bodem en dobbers vasgemaak is.
“Duikers duik met die plante af en maak dit aan die toue vas. Die plante groei dan aan die tou vas en begin na die oppervlak groei. Die seewier kan onder die ideale omstandighede sowat 60 sentimeter per dag groei. Dit groei tot by die seeoppervlak waar dit dan ’n soort afdak vorm. Slegs 10% van die ‘afdak’ word geoes.”
Omdat die seewier so vinnig groei, is dit ryk aan groeihormone. Dié hormone is waarin Kelp Blue werklik belangstel.
“In die fabriek word die sap uit die seewier gedruk, want dit is hoofsaaklik wat ons soek. Die sap gaan deur ’n verwerkingsproses en word dan aan boere verkoop. Hulle sproei dit op hulle gewasse om groei aan te spoor. Dit is ’n natuurlike produk sonder enige chemikalieë. Dit is ons hoofproduk, maar ons is tans besig om uit te vind wat ons nog alles uit die oorblywende proteïenryke pulp kan onttrek,” verduidelik Iriya.
Alginaat is ’n natuurlike, eetbare polisakkaried wat in bruin seewier voorkom.
“Ons is tans besig om bioplastiek en eetbare plastiek daarvan te maak. Ons probeer ook om te kyk of dit lonend is om fusidinsuur te onttrek wat in farmaseutiese produkte gebruik word. Ons is selfs besig om te eksperimenteer en ’n soort leer uit die oorblywende seewierpulp te maak.
“Alles wat dan oorbly, kan ons droog en as dierekos gebruik. Niks wat in ons fabriek inkom, word gemors nie. Ons gebruik alles. Ons is ’n omgewingsvriendelike besigheid wat die volhoubaarheid van ons omgewing prioritiseer.”
WOUDE IN DIE SEE
Omdat slegs 10% van die ‘kelp-afdak’ geoes word, kan die res van die reuseseewier aanhou groei en seewierwoude onder die water vorm wat dan in ruil nuwe onderwater-habitatte skep.
“Die seewier absorbeer koolstofdioksied deur fotosintese en stel sy eie suurstof in die woud vry. Omdat daar so baie suurstof in die woud is, lok dit baie seelewe. Die kunsmatige woude word ook ekosisteem-ingenieurs genoem omdat so ’n wye verskeideinhed van seelewe daar floreer. Dit is ’n beskermde habitat in vergelyking met die oop see.” Reuseseewier neem die koolstofdioksied op wat beteken dit verminder die impak van suurvlakke in die seewater.
“Wanneer koolstofdioksied met water reageer, kry jy ’n swak suur wat die seewater versuur en nie goed is vir baie skaaldiere en organismes nie. Dit maak hulle doppe sag.”
Volgens Iriya word woude geplant met die doel om klimaatsverandering te bekamp. Die kelpwoude doen presies dieselfde in die see.
“Die koolstof word in die blare gestoor en wanneer hulle afval of breek, word die koolstof nie vrygelaat nie. Dit verdwyn mettertyd onder die seebodem en kan nooit weer in die atmosfeer vrygelaat word nie. Dit is hoe Klep Blue teen klimaatsverandering en seeversuring veg en deur die vorming van nuwe habitatte die diversiteit van die seelewe bevorder.”
FINALIS
Kelp Blue is aangewys as ’n finalis vir die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se Zayed-volhoubaarheidstoekenning wat uitnemendheid in hernubare energie en volhoubare praktyke erken.
Die wenners sal tydens die toekenningseremonie op 1 Desember tydens Verenigde Nasies se 28ste Klimaatveranderingskonferensie (COP28) in Doebai aangekondig word.
Die Zayed-toekenning se beoordelaarspaneel het die 33 finaliste uit 5 213 inskrywings van 30 lande gekies wat in ses kategorieë ontvang is, naamlik gesondheid, voedsel, energie, water, klimaataksie en globale hoërskole – ’n toename van 15% in inskrywings teenoor verlede jaar.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie