Sinvula afgedank
Verhouding 'onherstelbaar verbrokkel'
Kisco Sinvula het Maandag teruggekeer werk toe, nadat die hooggeregshof beslis het sy skorsing op 22 Maart verlede jaar was onwettig.
Kenya Kambowe – Die Grootfontein-munisipaliteit het besluit om die kontrak met sy uitvoerende hoof, Kisco Sinvula, te beëindig nadat die verhouding tussen die twee partye onherstelbaar verbrokkel het.
In ’n dramatiese wending het Sinvula – wat Maandag teruggekeer het werk toe ná ’n jaar lange skorsing – nie twee dae in sy amp gehou nie nadat die raad Woensdag besluit het om sy kontrak te beëindig.
Die kennisgewing om sy kontrak te beëindig, moet nog aan hom beteken word, met onenigheid met die meerderheid van die raadslede wat skynbaar onverpoos voortgeduur het.
Die raad het in ’n kwessie van twee dae twee spesiale vergaderings belê. Sinvula het Maandag teruggekeer werk toe, nadat die hooggeregshof beslis het sy skorsing op 22 Maart verlede jaar was onwettig. Die raad het egter besluit om teen dié beslissing te appelleer. Slegs 24 uur later het die nuus gebreek dat die beleërde uitvoerende hoof in ’n fisieke geveg met ’n lid van die raad betrokke was. Beide Sinvula en die raadslid het sake van aanranding teen mekaar aanhangig gemaak en volgens die polisie word die sake ondersoek.
Volgens die notule van die vergaderings wat net deur vier raadslede onderteken is, word Sinvula se kontrak opgeskort omdat die verhouding tussen hom en die raad onherstelbaar verbrokkel het.
“Sedert 2021 het die verhouding tussen die uitvoerende hoof en die raad versleg en tans verhinder dit die raad om sy mandaat van dienslewering in terme van die wet op plaaslike owerhede uit te voer,” lui die notule.
Teen druktyd kon Sinvula nie vir kommentaar bereik word nie. Hy was sedert Maart 2020 in diens van die munisipaliteit.
Intussen het die feit dat Sinvula se kontrak sonder ministeriële goedkeuring opgeskort is, ’n debat laat ontstaan oor of raadslede van plaaslike owerhede die mag het om uitvoerende hoofde te skors en hul kontrakte sonder vooraf goedkeuring op te skort.
Hoewel die wet bepaal ministeriële goedkeuring is nodig, het sommige plaaslike owerhede tegnokrate geskors en hul dienste sonder die toestemming van die minister opgeskort.
Dit het egter daartoe gelei dat die Namibiese Vereniging vir Plaaslike Owerheidsbeamptes (Nalao) met regsoptrede dreig, sou die ministerie vir landelike en stedelike ontwikkeling nie die onwettige skorsing van administrateurs van plaaslike owerhede takel nie.
Bogenoemde is vervat in ’n brief gedateer 29 Maart 2022 wat deur Nalao se president, Moses Matyayi, aan minister Erastus Uutoni gerig is.
Matyayi is van mening die “ligsinnige” skorsings van uitvoerende hoofde by plaaslike owerhede het ’n algemene verskynsel geword en veroorsaak skade aan die betrokke individue se reputasies.
“Ons kommer bly geldig en ons sien deurgaans ’n neiging om sonder enige prosedures uitvoerende hoofde in die plaaslike staatsektor te skors,” lui die brief.
“Die onverpoosde veldtog om uitvoerende hoofde te frustreer, te intimideer en te viktimiseer met onwettige skorsings, is ’n klad op die openbare beeld van die hele plaaslike owerheidsbroederskap, sowel as op die beeld van die lynministerie as die bewaarder en toesighouer van die plaaslike owerheidsektor.”
Matyayi het bygevoeg die skorsing van uitvoerende hoofde belas nie net die geskorste individu nie, maar die instelling self, aangesien dit moet voortgaan om hul salaris te betaal terwyl diens aan inwoners in die gedrang kom.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie