Minister Doreen Sioka het gesê sy sal bewerings ondersoek dat mense uit gemarginaliseerde gemeenskappe ­uitge­buit word deur diegene wat hulle in diens neem. FOTO KENYA KAMBOWE
Minister Doreen Sioka het gesê sy sal bewerings ondersoek dat mense uit gemarginaliseerde gemeenskappe ­uitge­buit word deur diegene wat hulle in diens neem. FOTO KENYA KAMBOWE

Sioka: Plaaswerkers met staatskospakkies betaal

Minister wil aantygings ondersoek
Die minister van maatskaplike welsyn het gewaarsku die voortgesette uitbuiting van mense uit gemarginaliseerde gemeenskappe kan tot opstand lei.
Yandi Du Plessis
Kenya Kambowe

Die minister in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, Doreen Sioka, het plaaseienaars verlede week daarvan beskuldig dat hulle plaaswerkers uit gemarginaliseerde gemeenskappe met kospakkies en staatstoelaes betaal.

Sioka het beweer plaaseienaars haal kospakkies en toelaes namens werkers af en gebruik hierdie staatshulp as deel van hul vergoeding, ’n praktyk wat volgens haar gestaak moet word.

Sy het verder beweer mense uit gemarginaliseerde gemeenskappe word soos “donkies” behandel.

ONDERSOEK AANTYGINGS

Gevolglik het Sioka haar planne aangekondig om gebiede te besoek waar mense uit gemarginaliseerde gemeenskappe as plaasarbeiders werk om te ondersoek of hul behoeftes voldoende aandag geniet.

“Dis pynlik. Gemarginaliseerde mense ly meer as enigiemand, om jou die waarheid te sê,” het Sioka verlede week tydens ’n geleentheid by die Kavango-Oosstreek se Mashare-kiesafdeling gesê.

“Ek sal met ’n groot afvaardiging kom na alle gebiede waar die gemarginaliseerde mense is, veral boere wat die gebiede besit. Hulle [plaaseienaars] gaan na my ministerie toe en haal hul pakkies af, en vertel later vir hulle dit is hul salarisse,” het sy aangevoer.

“Hoe kan jy regeringskos kry en iemand betaal, en daardie persoon is op daardie kos geregtig? Dit behoort nie te gebeur nie.

“Ek kom met my afvaardiging om al daardie plase te besoek waar gemarginaliseerde mense is. . . en ek wil hulle toestande sien. Hulle [plaaseienaars] moet die plaaswerkers ook skuiling gee omdat hulle na hul beeste en hoenders kyk en hul huise skoonmaak.”REVOLUSIE

Sioka het gesê die stryd om Namibië se onafhanklikheid was die gevolg van mense wat keelvol daarvoor geraak het om onderdruk te word.

Gevolglik het sy gewaarsku dat die gemarginaliseerde gemeenskap eendag in opstand sal kom as hulle voorts misbruik word.

“Hierdie gemarginaliseerde mense – ons misbruik hulle,” het sy gesê.

“Eendag sal hierdie mense in opstand kom. Onderskat hulle; eendag sal hulle in opstand kom. Eendag sal hulle hulself bevry. Eendag sal ons onder hulle wees, en as ons hulle mishandel, verwag dit. Selfs jou kind sal ly.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer