Ds. Erik van Zyl sê verlede jaar het dit kol-kol gereën en dan trek al die boere met hul beeste na dié gebiede toe. FOTO DS. ERIK VAN ZYL
Ds. Erik van Zyl sê verlede jaar het dit kol-kol gereën en dan trek al die boere met hul beeste na dié gebiede toe. FOTO DS. ERIK VAN ZYL

‘Skadu van dood’ oor Kaokoland

Nie genoeg kos vir dié wat vra
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

“Die skadu van die dood hang oor Kaokoland. Die jarelange droogte dreig om alle hoop te verdryf.”

Só gesels Kunene vir Christus se ds. Erik van Zyl in sy jongste nuusbrief.

“Die Ovahimbas trek rond en weg, die diere word minder en maerder. Maer beeste strompel na watergate.

”Kunene vir Christus is ’n sendingsorganisasie van die NG Kerk, onder leiding van Van Zyl, wat jare lank reeds uitreike na dié streek doen en dan ook voedsel versprei.

Tydens ’n telefoniese gesprek gister, sê hy die Kunene het nou “wydverspreide landsreën” nodig en dat daar steeds hoop is, aangesien die gebied meestal eers later reën ontvang, wat beteken hulle staan eintlik nog aan die begin van die seisoen.

Dit volg ná die Namibiese meteorologiese dienste (NMS) in sy reënbulletin vir Januarie gesê het die Kunene-, Erongo-, Omusati- en Oshanastreek is kommerwekkend droog tydens die huidige reënseisoen, met ondernormale reën wat tot nou toe voorgekom het.

KOL-KOL

Van Zyl sê verlede jaar het dit kol-kol gereën, soos rondom Opuwo.

“Dan trek al die mense met hul beeste soontoe. Daar is egter dele waar dit nog glad nie gereën het nie, soos anderkant Etanga en by die Marienfluss – die noordweste.”

Van Zyl sê dit het egter nie baie gereën nie en sou dit weer net kol-kol reën, sak almal met hul beeste op die enkele plekke toe.

Hy is egter hoopvol die reën sal nog kom, want die Kunene is ’n “dankbare wêreld” en verander sommer handomkeer binne twee weke.

“Daar is nou ook baie minder diere. Ek dink talle boere het die meeste van hul diere reeds verloor,” het hy vertel.

KOS VERSKAF

Die droogte het ook daartoe gelei dat boere, wat alles verloor het, na Opuwo getrek het. Hulle is mense wat kos benodig.

Me. Bedenita Njamba, wat vir mense in en rondom Opuwo van voedsel voorsien, sê sy het nie genoeg kos vir al die mense wat kom aanklop nie.

“Daar is baie wat kom en vra,” sê sy.

Njamba help talle kinders, gee kos by verskillende huise en help ook mense wat by haar woon, asook buite Opuwo se dorpsgrense.

Van Zyl het tydens sy mees onlangse uitreik na Opuwo weer ’n vrag van 920 kg-mieliemeel in die Kunenestreek versprei en ook 170 kg aan Njamba gegee om uit te deel.

IN OËNSKOU

Intussen het die meteorologiese dienste in sy reënbulletin vir Januarie aangedui reënneerslae het wyer voorgekom en het ook groter dele van die land gedek.

“Groot hoeveelhede reën het oor die oostelike dele van Hardap en ||Kharas voorgekom, wat die langtermyngemiddeld vir Januarie op sommige plekke oorskry het,” het mnr. Simon Dirkse, hoof van klimaat en die databank by die NMS, gesê.

“Oor die sentrale noorde is daaglikse neerslae van meer as 50 mm by enkele stasies gemeet, maar die aantal reëndae was minder as twee.

“Die oorgrote dele van die Kunene, Omusati, Oshana, Ohangwena, oostelike Otjozondjupa en noordoostelike Omaheke het ondergemiddelde reën in die eerste maand van die jaar ontvang. Die res van die land het bonormale reën in dié tyd gehad,” het hy gesê.

Volgens die meteorologiese dienste het die oorgrote dele van die land op seisoenale skaal (1 Oktober tot 31 Januarie) bonormale reën ontvang, met ’n strook wat ondernormale reën gehad het. Die strook was in dele van die Hardap-, Omaheke- en Otjozondjupastreek.

“Die oostelike dele van Otjozondjupa en die noordoostelike dele van die Omaheke het ondernormale reën tussen Oktober 2021 en die einde van Januarie 2022 ontvang,” is gesê.

VOORUITSIG

Die oorgrote dele van die land behoort normale tot bonormale reën vir die res van die reënseisoen te ontvang, met uitsondering van die ||Kharasstreek, waar normale tot ondernormale reënneerslae verwag word.

Dit is volgens ’n nuwe vooruitskouing wat die meteorologiese dienste Dinsdag uitgereik het.

Volgens die NMS is toestande in oseane en die atmosfeer in plek om vir ’n verbeterde reënseisoen in Namibië te sorg. Na verwagting sal ’n swak La Niña-fase oor die volgende drie maande posvat.

Die NMS sê in die laaste week van Januarie het kenners van die SADC- streekmeteorologiese dienste, onder leiding van die SADC-klimaatdienssentrum (SADC-CSC), voorspellings hersien wat in September verlede jaar vir dié streek uitgereik is.

Vir Namibië is normale tot bonormale reën tussen Oktober en Desember 2021 voorspel, met uitsondering van die suidweste en dele van Erongo waar ondernormale tot normale reën voorspel is.

’n Ontleding van hoe die seisoen tot dusver ontvou het, wys egter dat groter dele van die land ondernormale reën ontvang het, met uitsondering van die suidooste en kolle oor die Kavango, Otjozondjupa, Oshana, Ohangwena en Oshikoto. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!