Spoglughawe staan verlate

Oorgelaat aan vandale en verval
Tydens 'n ter plaatse ondersoek is waargeneem dat die Tsumeb-lughawe se heining op verskeie plekke afgebreek is, wat enige een vrye toegang bied.
Kristien Kruger,Elvira Hattingh
Midde ’n voortslepende arbitrasieproses tussen die regering en ’n private party oor die Tsumeb-lughawe, het dit nie net in onbruik verval nie, maar word die eens spoggerige perseel nou deur vandale en verval bedreig.

Dit kom nadat die regering sowat sewe jaar gelede besluit het om die besit van die Tsumeb-lughawe terug te neem, met die jongste nuus dat die voormalige minister van justisie en Fishrot-beskuldigde, Sacky Shanghala, na verwagting in die arbitrasieverhoor tussen die staat en Expedite Aviation sal getuig.

Ná sy oorname het die regering glo nagelaat om na die sekuriteit van die perseel om te sien.

Expedite Aviation se eienaar, Rainier Arangies, het toe sy sekuriteitswagte van die perseel onttrek, hoofsaaklik omdat die regering hom nie vir dié koste sou vergoed nie.

Tydens ’n ter plaatse ondersoek het Republikein bevestig dat, alhoewel die skade tot dusver nie onherstelbaar is nie, die lughawe plek-plek reeds onder vandale deurgeloop het.

Die heining is op meer as een plek afgebreek, wat enige een vrye toegang daartoe verleen, terwyl verskeie vensters uitgebreek is en stukke waterpype rondlê. Terwyl die spoggerige hoofgebou op die lughawe ontwerp is om as doeanepunt te kan dien – sou planne realiseer om dit in ’n internasionale lughawe te omskep – het vandale ook die hoofgebou binnegedring. Binne die gebou is ’n deur uitgehaal en ’n wasbak gebreek, terwyl rommel oral rondlê.

Die toestand van die aanloopbaan is nog goed, alhoewel die oprit opknappingswerk nodig het. Vliegtuigskure op die lughawe is egter steeds met werkende alarms toegerus en het grootliks behoue gebly.

ARBITRASIE

Expedite Aviation het ingevolge ’n vennootskapsooreenkoms met die Tsumeb-munisipaliteit in Augustus 2009 beheer oor die lughawe geneem en groot bedrae geld in opknappings belê.

Volgens die ooreenkoms sou die munisipaliteit die lughawe vir ’n tydperk van 50 jaar aan Expedite Aviation verhuur, maar die regering het in 2016 besluit om die besit van die lughawe terug te neem, glo sonder behoorlike vergoeding vir die belegging wat deur dié gesamentlike onderneming se vennoot aangegaan is.

Shanghala sal voorts na bewering saam met ander ministers, senior amptenare in die regering asook voormalige Tsumeb-raadslede gedagvaar word om teen die staat te getuig oor die gesamentlike onderneming, wat glo deur Tsumeb se stadsraad asook aanklaer-generaal goedgekeur is.

Die kwessie wat nou ter sprake is en waaroor Shanghala waarskynlik verwag sal word om oor te getuig, is of die munisipaliteit ministeriële goedkeuring verkry het vóór dit die gesamentlike ondernemingsooreenkoms aangegaan het.

Regsverteenwoordigers van die munisipaliteit sê Shanghala het op 14 Maart 2023 aangedui dat hy redelik seker is dat ministeriële goedkeuring hiervoor gegee is. Daarsonder sou hy nie as die destydse adviseur van die prokureur-generaal, die munisipale raad van Tsumeb geadviseer het oor hoe om die wetlik bindende gesamentlike ondernemingsooreenkoms te beëindig nie.

Shanghala is sedert sy arrestasie in 2020 in aanhouding in die Windhoek Sentrale Gevangenis.

TWEESTRYD

Die munisipaliteit het volgens hofstukke ook in April 2016 gepoog om die vennootskap met Expedite Aviation te beëindig.

Expedite het egter die aksie teengestaan. Volgens hofstukke het die vennootskapsooreenkoms ’n arbitrasieklousule bevat wat voorsiening maak vir enige dispuut om deur arbitrasie besleg te word.

Tydens die arbitrasieproses het die munisipaliteit ’n aansoek in die hoërhof gebring in ’n poging om die ooreenkoms, insluitend die klousule vir arbitrasie, ongeldig te verklaar. Die hoërhof het in die munisipaliteit se guns beslis en het die ooreenkoms en die arbitrasieklousule ongeldig verklaar.

Expedite was egter suksesvol in sy appèl teen dié uitspraak in die hooggeregshof. Die hooggeregshof het in November 2020 beslis dat die munisipaliteit ingestem het om geskille tussen hom en Expedite deur arbitrasie te besleg, insluitend die dispuut oor die geldigheid van die ooreenkoms.

“Die munisipaliteit het daarna tot in ’n gevorderde stadium aan daardie arbitrasie deelgeneem. Die munisipaliteit het gekies om dit te doen en kan nie daardie keuse vryspring nie,” lui die uitspraak wat die hoërhof se beslissing dat die ooreenkoms ongeldig was, ter syde gestel het.

AGTERGROND

’n Ingeligte bron het verduidelik dat die lughawe aanvanklik aan die TCL-myn behoort het, maar toe die myn in 1998 vir twee jaar onder likwidasie was, het die meester van die hooggeregshof toestemming verleen dat die myn alle bates kan verkoop wat nie deel van sy kern-besigheid, naamlik mynbou, vorm nie. Die myn het later weer onder die naam Ongopolo herleef. Die lughawe het aan Kallie Grunschloss behoort, voor Arangies ingevolge die vennootskap beheer daarvan geneem het.

Toe dit in TCL se besit was, het mynvliegtuie, enkele private vliegtuie en soms ook geskeduleerde vlugte daar geland. Volgens die bron is die lughawe hoofsaaklik tydens Arangies se oorname vir private gebruik benut.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!