Spoorlyn-infrastruktuur kry die nodige aandag

Staat leen by Afrika-ontwikkelingsbank
Augetto Graig
Die spoorlyn tussen Kranzberg en Otjiwarongo word opgegradeer.

Die ministerie van werke en vervoer het aangekondig die regering het vir ’n lening by die Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB) aansoek gedoen om dié broodnodige werk te finansier.

Die projek vorm deel van die tweede fase van die vervoerinfrastruktuur-opgraderingsprojek (TIIP2).

Die AfDB het Dinsdag in ’n mediaverklaring die toekenning van die lening ter waarde van US$196 miljoen (sowat N$3,7 miljard) bevestig. Die lening dek ongeveer 51,8% van die TIIP2 se onkostes, terwyl die Namibiese regering pa moet staan vir die res.

Die projek het ten doel om Namibië en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) meer mededingend te maak, deur die logistieke waardeketting te versterk en om die spoorlyninfrastruktuur te verbeter. Toegang tot grootmaat-vrag tot in Walvisbaai moet ook so verbeter word.

Leïla Mokaddem, die ontwikkelingsbank se direkteur-generaal vir Suider-Afrika, sê: “Hierdie projek sal ook help om Namibië met Afrika se kopergordel te verbind, en streekspoorverbindings te bereik.”

Altesaam 207 km se spoorlyn word opgegradeer met behulp van beton-dwarslêers en nuwe relings. Die werke sluit in die bou van 16 brûe, die opknapping van twee stasies en die verkryging van 55 000 ton spoorstawe om 518 kilometer se spoorlyn te bou. Die sein- en telekommunikasiestelsel tussen Walvisbaai en Tsumeb word ook opgegradeer.

Die geld dek ook konsultasiedienste om die werk te monitor, asook ’n gedetailleerde ontwerp vir die spoorlyn tussen Otavi en Grootfontein.

Konsultante sal ook aangestel word om ’n oorsig te bied van die Trans-Zambezi-spoorlyn met betrekking tot transaksies wat openbare-private-vennootskappe aangaan, ouditdienste vir die projek te bestuur, tegniese oudits te laat doen en ook om gesondheid, geslagsgelykheid en -bemagtiging gedurende die projek te bevorder.

TransNamib se lokomotief-werkswinkel in Windhoek en by die Gammams-opleidingsentrum word opgegradeer, terwyl jong spoorwerkers opleiding by TransNamib sal ontvang, volgens die ministerie.

’n Raamwerk vir plaaslike spoorwegkwalifikasies sal ontwikkel word, saam met verdere vaardighede en kapasiteitsontwikkeling by TransNamib.

Die lening dek ook tegniese raad aan die ministerie van werke en vervoer, en om ’n lewensvatbaarheidstudie uit te voer vir die spoorlyn tussen Windhoek en Gobabis en verder na die Botswana-grens.

Die Trans-Kalahari-korridorspoorlyn word ontwikkel en gedetailleerde ontwerpstudies sal vir die opgradering van treinstasies gedoen word.

Die nasionale logistieke meestersplan sal opgedateer word, die versagting en kwesbaarheid van klimaatsverandering sal bestudeer word en die bestuur van die land se handelskorridors sal met die geld versterk word, volgens die ministerie.

Die AfDB se beleid vir aankope sal van toepassing wees, saam met die Namibiese regering se verkrygingsraamwerk, soos vir elke aankooppakket gespesifiseer word.

Tenderdokumente sal nog vandeesmaand uitgereik word, volgens die ministerie, en belanghebbers kan vir Suama Mhinge of vir Robert Kalombo by die ministerie van werke en vervoer kontak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 21° | 32° Ruacana: 22° | 29° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 24° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 26° | 38° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 20° | 30° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 30° Harare: 18° | 27° #REF! #REF!