Save the Rhino Trust Namibia sê sy sukses kan toegeskryf word aan plaaslike gemeenskappe se gevoel van eienaarskap en trots vir hul renosters. Foto Tanja Bause
Save the Rhino Trust Namibia sê sy sukses kan toegeskryf word aan plaaslike gemeenskappe se gevoel van eienaarskap en trots vir hul renosters. Foto Tanja Bause

SRT volg eenvoudige benadering tot stropery

Plaaslike mense die dryfkrag
Die laaste voorval van stropery is in Augustus 2020 aangemeld.
Tanja Bause
Ellanie Smit

Save the Rhino Trust (SRT) Namibia se benadering tot renosterstropery het die konvensionele militêre styl-taktiek vir renosterbeskerming uitgedaag, wat in baie gevalle die gaping tussen plaaslike mense en renosters vererger het.

“Dié konvensionele taktieke teen stropery beskou en teiken plaaslike mense as deel van die probleem, het SRT in sy nuwe strategiese plan vir 2023-’28 gesê.

SRT het gesê die organisasie het dus ’n uiters eenvoudige, maar doeltreffende benadering gevolg deur gerespekteerde plaaslike mense in diens te neem om hul vaardighede in te span.

Die vaardighede het tradisionele spoorsny ingesluit wat oor ­generasies geslyp is, en kennis van die ­landskap en dieregedrag om renosters te monitor en te beskerm, eerder as om die diere te stroop.

“Hierdie benadering het ’n nuutgevonde, plaaslik-gegroeide pro-­renosterhouding bevorder en saam met pogings om ’n plaaslike moniteringstelsel vir gemeenskapswild in samewerking met tradisionele leiers op te bou, het dit gehelp om stropery in die gebied te verminder.”

Dit het ook ’n nuwe gevoel van die waarde van renosters by die plaaslike mense geskep. Volgens SRT lê die positiewe waarde om renosters aan die lewe te hou, hoofsaaklik by veldwagters en plaaslike mense wat ’n aktiewe rol in die bewaringsgebiede speel.

“Hulle het die positiewe waarde besef om renosters aan die lewe te hou, nie net vir die geldwaarde wat dit meebring nie, maar ook vir ’n gevoel van eienaarskap en trots wat hulle het omdat hulle renosters op hul grond het. SRT is in 1982 gestig nadat ’n ernstige droogte tesame met ­onbeheerde jag, die Kunenestreek skaars met enige wild gelaat het.

“SRT het groepe mans gemobiliseer, waarvan die meeste in die gebied grootgeword het, om die oorblywende swartrenosters te monitor.

“Gedurende die laat 90’s is talle gemeenskaplike bewaringsgebiede op die been gebring, wat plaaslike mense se beheer oor en verantwoordelikheid vir wild versterk het.

“Die gemeenskaplike bewarings­gebiede het plaaslike mense ­toegelaat om besluite oor die bestuur van hul wild te neem.”

SRT het gesê meer as 40 renosters is tussen 2005 en 2010 vrygelaat in 13 kommunale bewaringsgebiede wat hulle gebiede met ongeveer 20% uitgebrei het, wat gehelp het om renosters se getalle verder te laat toeneem.

“Sedert SRT met sy pogings begin het, het die aantal swartrenosters ­verdriedubbel.”

SRT het gesê sy sukses kan toe­geskryf word aan plaaslike gemeen­skappe se gevoel van eienaarskap en trots vir hulle renosters, ‘n sterk gevoel van vertroue en vennootskappe met die Namibiese regering en verskeie burgerlike organisasies, en bowenal hul voetsoolvlakbenadering.

“Ons het 45 personeellede in diens. Die meerderheid (40 mense) is spoorsnyers, drywers en ondersteuningspersoneel by die kampe en almal is van die plaaslike gemeenskappe.”

Volgens SRT dek sy spoorsnyers ’n gebied van 25 000 km2 en verduur uiterste toestande tydens lang ­patrollies.

“Dié patrollies word hoofsaaklik te voet gedoen in rowwe terrein, in ’n gebied met geen nasionale park­status, geen heinings en geen beheer oor wie in- en uitgaan nie.”

SRT het gesê tesame met die verwesenliking van en belangstelling in nuwe geleenthede wat in bewaringswetgewing gestipuleer word, het die organisasie se uitreikpogings gelei tot ’n groter aanvraag na bewaringsgebiede om renosters terug op hulle grond te kry.

Die bewaringsprogram het ’n groot invloed gehad op die terugkeer en toename van wildbevolkings wat byna in die Kunenestreek verdwyn het.

Stropery het oor vyf jaar met 78% gedaal. Tussen 2012 en 2016 is altesaam 38 renosters in die westelike Kunene gestroop, terwyl daar tussen 2017 en 2022 altesaam agt renosters in dieselfde gebied gestroop is.

“SRT het patrolliepogings volgehou, wat gelei het tot die enkele grootste prestasie – die afwesigheid van gerapporteerde stropery sedert Augustus 2020, dit beteken 26 maande sonder stropery aan die einde van Oktober 2022.”

Die organisasie het opgemerk dat bewaringsgebiede hul beleggings in renosterbeskerming verhoog het, deur ’n toename in bewaringsbydraes vir algehele programuitgawes. Dit het ook gehelp om ֹ’n toename in patrollie­pogings en renosterwaar­nemings aan te wakker.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer