'Stad Windhoek het ons gefaal'
Groot Aub se inwoners lug hul griewe
Die gemeenskap dring daarop aan dat die dorp se status weer na dié van 'n nedersetting verander word.
Jemima Beukes op Groot Aub – Inwoners van Groot Aub is ontstoke oor wat hulle bestempel as die “kollosale mislukking” van die Windhoekse munisipaliteit om die dorp se sake in orde te kry nadat hy beheer van die nedersetting oorgeneem het.
Die inwoners dring ook daarop aan dat die dorp se status weer na dié van ’n nedersetting verander word.
Sommige gemeenskapslede wat vir ’n week sonder toegang tot water was, het ’n beroep op die regering gedoen om die dorp eerder aan die ||Khomanin- tradisionele leierskap oor te gee om dit as ’n kommunale gebied te bestuur.
Tydens ’n gespanne gemeenskapsvergadering wat Sondagmiddag plaasgevind het, was gemeenskapslede dit eens dat hulle lewensomstandighede drasties sedert die munisipaliteit se toetrede versleg het.
Een van die inwoners, James Lewis, sê hulle grond is weggevat en hulle is bekommerd oor die welstand van hul kinders.
“Ons het bejaardes hier en ons moet ons grond verkoop om water te kry. Ons het water uit die ‘gorras’ (watergat in die rivier) gaan haal. As daar ’n voordeel vir hierdie reëling was, dan kon hulle Groot Aub gevat het. Ek dink dit is beter om dit aan die ||Khomanin- tradisionele leierskap te gee om as kommunale grond te bestuur,” het hy gesê.
Nog ’n inwoner, Richard van Wyk, beweer die munisipaliteit het ’n geldmaakagenda en het daarom besluit om “Kranzneus en Omeya te bespring” om by Groot Aub uit te kom waar die munisipaliteit voordeel uit die ontginning van sand kan trek.
“Daardie maatskappye het ons paaie klaargemaak en ons in die stof gelos. Hulle het nie eens ’n gemeenskapskombuis hier vir die inwoners gebou nie,” het hy gesê.
Hoofman Jorro Eiseb van die ||Khomanin Tradisionele Owerheid sê die verwagting was dat die munisipaliteit oplossings vir Groot Aub se probleme sou vind, insluitend die reusebehoefte aan water, krag en sanitasie.
Eiseb sê hy het met die visepresident, Nangolo Mbumba, vergader nadat die gemeenskap ’n petisie gestuur het en is beloof hulle sou binne drie weke terugvoering ontvang.
Mbumba het bevestig hy het met ’n persoon van die gemeenskap vergader en sodra hy die petisie deurgegaan het, sal ’n vergadering met die koningin van die ||Khomanin-gemeenskap belê word.
Stad Windhoek se woordvoerder, Harold Akwenye, sê op sy beurt geen amptelike klagtes oor watertekorte op Groot Aub is ontvang nie.
“Ons daaglikse watervoorsiening bly konstant en ons personeel op die grond het niks hieroor gemeld nie. Stad Windhoek bly verbind tot inwoners se behoeftes en die ontwikkeling van Groot Aub. Ons verbintenis tot die gemeenskap is duidelik uit die voortgesette pogings om ontwikkeling te versnel.
“Ons glo met die plaaslike regering se samewerking en ondersteuning, sal ons betekenisvolle vooruitgang maak. As inwoners uitdagings in die gesig staar, moedig ons hulle aan om uit te reik na ons toegewyde kanale en ons sal ondersoek instel en die kwessies dadelik takel.
“Ons doel is om die welstand van alle inwoners te verseker en ons bly verbind tot die voorsiening van noodsaaklike dienste,” het Akwenya gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie