Dié seuntjie by ’n kleuterskool in Goreangab informele nedersetting smul aan sy borg pap. FOTO TANJA BAUSE
Dié seuntjie by ’n kleuterskool in Goreangab informele nedersetting smul aan sy borg pap. FOTO TANJA BAUSE

Stapelvoedsel binnekort nóg duurder

Ronelle Rademeyer
Die meulenaarsgroep Namib Mills het op die vooraand van Wêreldvoedseldag Sondag aangekondig die pryse van basiese voedselprodukte soos mieliemeel, koringmeel, pasta, brood en suiker styg op 14 November met tot soveel as 13 persent.

Mieliemeel se prys sal met 13% styg, kitsmieliepap word met 9% duurder, die prys van Namib Mills se pastaprodukte, Polana Pasta en Pasta King, styg met 3%, terwyl koringmeel, brood en suiker se pryse met onderskeidelik 5%, 4% en 6,5% styg.

Namib Mills het Dinsdag in ’n verklaring aan die groot- en kleinhandel gesê ’n verskeidenheid van faktore noodsaak die prysverhogings.

“Die Namibiese dollar het aanhou verswak teenoor die Amerikaanse dollar en het die afgelope paar maande 17% van sy waarde verloor. Die vooruitsig van lae ekonomiese groei wêreldwyd en verdere Amerikaanse renteverhogings gaan voort om die Amerikaanse dollar te versterk en ontluikende markte se geldeenhede te devalueer,” sê die maatskappy se finansiële bestuurder, mnr. ST Ackermann.

INVLOEDE

Hy wys daarop die prys van witmielies is onder meer beïnvloed deur die kwaliteitprobleme wat die witmielie-oes in Suid-Afrika betref.

“Die Suid-Afrikaanse witmielie-oes was wesenlik onder die gemiddelde graderingstandaarde. Graad 1 mielies was histories 92% van die oes. Hierdie jaar was die gemiddeld 72%,” sê hy.

Dit lei tot hoër maalkoste en minder mielies is beskikbaar vir voedselmaaldoeleindes.

Wêreldwys was mieliepryse ook stewig aangesien opbrengste in ander mielieproduserende gebiede van die wêreld afgeneem het, of na verwagting sal afneem. Amerikaanse mieliepryse het sedert Julie vanjaar tot nou met 18% gestyg, sê Ackermann.

Hy wys ook daarop dat die Russiese inval in Oekraïne voortgaan om energie-, voedsel- en finansiële markte te ontwrig.

Die tema van Wêreldvoedseldag is “Los niémand agter nie”.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) sê 2002 word gekenmerk deur die voortdurende pandemie, konflikte, klimaatsveradering, stygende pryse en internasionale spanning.

“Dit raak voedselsekerheid wêreldwyd. Ons moet ’n volhoubare wêreld bou waar almal, oral, gereeld toegang tot genoeg voedsame kos het,” sê die FAO.

Die organisasie sê 2022 is ’n jaar van ongekende honger.

“Soveel as 828 miljoen mense gaan elke aand honger slaap en die getal mense wat akute voedselonsekerheid in die gesig staar, het sedert 2019 die hoogte ingeskiet – van 135 miljoen tot 345 miljoen.

“Altesaam 50 miljoen mense in 45 lande verkeer op die rand van hongersnood,” sê die FAO. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!