Stedelike landbou kry hupstoot

Augetto Graig
Augetto Graig

Die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF) het Maandag by die Windhoek-munisipaliteit begunstigdes van bykans N$2,4 miljoen aangekondig.

Dit vorm deel van Japan se hulp aan Namibië om voedselsekuriteit te verbeter ná die impak van die pandemie.

Die Build Back Better (BBB)-program ter waarde van US$1 miljoen is in Mei verlede jaar in vennoot­skap tussen Namibië, Japan en die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) van stapel gestuur.

Die hoof operasionele beampte van die EIF, mnr. Karl Aribeb, het by die geleentheid gesê die tyd vir die verspreiding van geld is beperk en begunstigdes moet vinnig reageer om die beste voordeel daaruit te kan trek.

Hy sê die toelae sal net tot Junie geldig wees.

“Dis ’n toonaangewende en innoverende projek. Gewoonlik in Namibië en in die grootste deel van Suider-Afrika, as daar van voedselvervaardiging en landbou gepraat word, is dit in die landelike gebiede. Hierdie is een van die eerste projekte wat na voedselproduksie op huishoudelike vlak binne stedelike gebiede kyk,” sê Aribeb.

Toelae ter waarde van tussen N$20 000 en N$100 000 word uitgedeel aan individue, huishoudings, families en jeuggroepe wat reeds landbou in stedelike gebiede in Windhoek (13), Swakopmund (13), Rundu (17) en die Daweb-kiesafdeling (13) naby Maltahöhe beoefen. Die proses om begunstigdes te kies, was mededingend aangesien drie tot vier keer meer aansoeke as suksesvolle aansoekers ingedien is, sê hy.

Die stedelike boere beoefen onder meer tuinbou, pluimveeboerdery, voerproduksie, kweek orgideë en verbou groente in die agterplaas vir eie verbruik, of verkoop die produkte aan die plaaslike informele mark, sê hy.

Projekte wat in die hoofstad goedgekeur is, sluit in onder meer Urban Hydroponics, Urban Strawberries, Frieda Nursery, Uisen Backyard Garden, Build Back Better, /Khomanin Youth Farming Project, Step by Step en die Community Garden for Children’s Food Security.

In Swakopmund word onder meer GMB Urban Farming, Plot 144, Moody’s Garden en die Tilapia Aquaponic Project gefinansier.

In Rundu word die meeste projekte gefinansier en sluit dit onder meer Daybreak Poultry, Chef X-Tine Urban Farmer, Lesedi Farming en Shallomite Fruits and Veg in.

Maltahöhe se projekte sluit Grow Together, Allen’s Gardening en Lucern Project Farm Nooitgedacht in, terwyl Mariental ook met Launa’s Backyard Gardening en Paul Simon en Penias Topnaar se tuinbouprojekte kan spog.

Op Gibeon word steun aan Dassies Orchard en Ensuring Food Security Amongst Widows verskaf.

Me. Margaret Matengu, direkteur van landbouproduksie, uitbreiding en ingenieursdienste in die ministerie, het klem daarop gelê dat die toelae versprei word deur die eerste toepassing van die ministerie se nuwe e-stelsel.

E-koopbewyse word op elektronies leesbare kaarte gelaai en kan by deelnemende handelaars vir toerusting en materiaal gebruik word. Die stelsel is op 7 Februarie 2022 bekend gestel, en deelnemende handelaars sluit in Agra, Kaap Agri and Pupkewitz. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!