Swerm bye uit stert van vliegtuig verwyder

Byeboere in Namibië, Suid-Afrika vat hande
Sowat 40 000 bye is Maandag onder unieke omstandighede verwyder.
Tanja Bause
’n Swerm van sowat 40 000 bye is Maandag uit die stert van ’n ligte vliegtuig op die Eros-lughawe verwyder.

Aangesien die bye hulself in ’n ongewone plek tuis gemaak het, moes die hulp en kennis van byeboere in Namibië en Suid-Afrika ingeroep word en almal was van mening dat dit ’n unieke situasie was.

Die bye het Saterdag in die vliegtuig se stert ingetrek. Die eienaar van die vliegtuig, mnr. Hilko Marschall, het die vliegtuig buite die vliegtuigskuur geparkeer.

Hy was met herstelwerk besig toe hy die bye opgemerk het. Namate die bye meer geword het, het hy dit op die ­sosialemediaplatforms van die lugvaartgemeenskap geplaas.

“Binne ’n kwessie van 25 minute het die swerm opgedaag en begin om in die stert van die vliegtuig in te beweeg. Dit was ’n onbereikbare deel. Ons het besef dit kan moeilikheid veroorsaak aangesien die bye deur die panele na die kajuit beweeg het,” het me. Gretchen Burmeister van die Beekeeping Association of Namibia gesê.

Mnr. Reini Hoppe, ’n byeboer, het ’n byekorf opgestel om te kyk of die bye nie dalk uit hul eie sal uittrek nie, wat egter nie gebeur het nie.

“Hierdie verwydering van die bye was weens verskeie redes uitdagend met die kombinasie van risikofaktore vir bye, mense en oor die ontoeganklike ligging van die swerm. Dit sal uiters duur wees om die stert uitmekaar te haal met elektriese en meganiese meganismes wat beskadig kan word.

“Ons kon nie die bye sien of by hulle uitkom nie, terwyl hulle dieper in die vlerke kon inbeweeg. As jy soos normaal rook binne-in die stert inblaas, kan jy nie 100% seker wees dat klein vonke nie sal val nie en dit in die teenwoordigheid van hoogs vlambare vloeistof.

“Die lughawe was ook nie gesluit nie en mense het voortdurend verbybeweeg. Dié kombinasie van faktore en die feit dat ons regtig nie die bye wou doodmaak of enigiets ­agterlaat wat die vliegtuig se ­toekomstige funksio­naliteit kan belemmer nie, tesame met die feit dat ons nie die struktuur van ’n waardevolle vliegtuig wou ­beskadig nie, was uniek,” het Burmeister gesê.

DIE PLAN

Tydens ’n groepkonsultasie is besluit indien die bye nie teen Maandag­oggend self wegbeweeg het nie, hulle verwyder en hervestig moet word voordat hulle begin om was­strukture te bou.

Kort ná negeuur dié oggend het die span byeboere en kundiges begin terwyl die instandhoudingsmaat­skappy by die lughawe gehelp het om een paneel af te haal sodat ’n werktuigkundige met ’n mikroskoop ­binne-in kon kyk om die ligging van die swerm aan te dui.

’n Vangkas is gebou en byeboere Burmeister en Manfred Gawaxab het besluit om die bye stelselmatig uit te rook sodat hulle in die vangboks wat bo hulle geplaas is, kon uitklim. Daar was egter te veel gleuwe en wegkruipplek vir die bye en hulle het besluit om sterker en meer rook te gebruik.

“Die koningin het vir die rook gevlug en sowat 50 meter verder op ’n tak gaan sit. Aangesien die swerm nog nie gevestig was nie, het sy die vliegtuig verlaat en die ander bye het haar gevolg.

“Ons het gewag totdat hulle hulself aan ’n boom agter die vliegtuigskuur gevestig het en die swerm is in die vangboks geborsel. Toe die koningin in die byekorf geplaas is, het die res van die swerm gevolg. Hulle is later in die Windhoek-omgewing verskuif na ’n plek waar daar reeds ander byekorwe is,” het Burmeister gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!