BACK AT WORK: Tsumeb Muncipality finance manager, Kalorina Damaseb.
BACK AT WORK: Tsumeb Muncipality finance manager, Kalorina Damaseb.

Tsumeb-hoë hervat pos ná tweejaar-skorsing

Dissiplinêre stappe steeds aan die gang
Die raad het glo besluit dit is sinneloos om die finansiële bestuurder se skorsing te handhaaf terwyl sy 'n maandelikse salaris en ander voordele by die huis geniet.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe op Rundu – Die munisipaliteit van Tsumeb se finansiële bestuurder en voormalige waarnemende uitvoerende hoof, Karolina Damaseb, het haar pos hervat ná sy twee jaar gelede met volle betaling geskors is.

Dit ondanks dissiplinêre stappe teen haar wat steeds aan die gang is.

Sy het ’n paar maande gelede teruggekeer werk toe aangesien die raad glo besluit het dit is sinneloos om haar skorsing te handhaaf terwyl sy ’n maandelikse salaris en ander voordele by die huis geniet.

Die burgemeester van Tsumeb, Mathew Hangula, het dit bevestig en gesê die raad het standpunt ingeneem en haar skorsing herroep omdat sy betaal word “om niks te doen nie”.

Hy het bygevoeg die ondersoeke na die aantygings teen Damaseb is afgehandel.

“Ons sê daar is niks meer om te ondersoek nie en maak dit regtig finansieel sin om iemand te betaal om by die huis te sit terwyl niemand haar werk doen nie?

“Daarom het die raad besluit om haar skorsing te herroep,” het Hangula verduidelik.

“Haar dissiplinêre verhoor duur steeds voort,” het hy bygevoeg.

Damaseb, wat destyds die waarnemende uitvoerende hoof was, is in Julie 2021 uit haar pos geskors nadat sy ’n ondersoek ingestel het om na bewering twee werknemers te dissiplineer.

Damaseb is op verpligte verlof geplaas nadat dié werknemers besware teen haar ingedien het. Die werknemers was die dorp se senior rekenmeester, John Amutenya, en die eiendomsbeampte, Gerson Kautondokwa.

Damaseb wou Amutenya en Kautondokwa ondersoek na aanleiding van ’n aanbeveling deur die ouditeur-generaal in die munisipaliteit se 2018-ouditverslag.

Sy het nie die aanbevelings geïmplementeer toe sy die ouditverslag in 2018 ontvang het nie; sy het eers die ondersoek in 2020 van stapel gestuur.

Die raad het Damaseb se ondersoek egter nie goedgekeur nie, terwyl Amutenya en Kautondokwa se besware tot haar skorsing gelei het.

Intussen het ons susterkoerant Namibian Sun aan die lig gebring dat Amutenya twee maande gelede ontslaan is nadat hy skuldig bevind is op grond van bewyse van ondersoeke wat teen hom uitgevoer is. Kautondokwa bly egter steeds by die werk nadat hy onskuldig bevind is.

Hangula het bevestig dat Amutenya afgedank is en het bygevoeg die voormalige senior rekenmeester het teen die besluit geappelleer.

Die kwessie is nou in die hande van die appèltribunaal, het hy gesê.

Amutenya kon nie vir kommentaar bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer