Mnr.  Andreas Brohm die burgemeester van die verenigde gemeente Tangerhütte, me. Edith Braun, burgermeester van die dorp Lüderitz in Duitsland, onderwyseresse me. Sarah Giese en  voorsitter van die Bestuurskomitee van die dorpsraad van Lüderitz mnr. Phil Balhao. Foto Tanja Bause
Mnr. Andreas Brohm die burgemeester van die verenigde gemeente Tangerhütte, me. Edith Braun, burgermeester van die dorp Lüderitz in Duitsland, onderwyseresse me. Sarah Giese en voorsitter van die Bestuurskomitee van die dorpsraad van Lüderitz mnr. Phil Balhao. Foto Tanja Bause

Twee burgemeesters, twee Lüderitze

Duitse verteenwoordigers kom kuier in Suide
Die bevolking in Lüderitz in die ||Kharasstreek is tien keer groter as sy Duitse naamgenoot se bevolking.
Tanja Bause
Die burgemeesters van Lüderitz in Duitsland en van Lüderitz in Namibië – wat 9 000 kilometer uit mekaar geleë is – het onlangs op plaaslike bodem ontmoet.

Me. Edith Braun, burgemeester van Lüderitz in Duitsland is tans in Windhoek nadat sy besoek aan Lüderitz en die voormalige burgemeester, me. Anne-Marie Hartzenberg, afgelê het.

Mnr. Andreas Brohm, burgemeester van die verenigde gemeente Tangerhütte, waaraan die dorp Lüderitz behoort, vergesel vir Braun.

Dit is Braun se tweede besoek aan Namibië, maar haar eerste aan Lüderitz.

“Lüderitz en die land in geheel het my aangenaam verras. Die mense is so gasvry en vriendelik. Julle Lüderitz het volgens die laaste sensusopname – wat tien jaar gelede geneem is – 12 000 inwoners. Ons het net 1 200 inwoners. So julle is in vergelyking met ons ’n baie groot stad.”

Nadat Duitsland weer in 1990 verenig is, het historici navorsing oor die twee Lüderitze begin doen en het die destydse burgemeesters kontak gemaak.

Braun het tydens haar besoek aan die suide verskeie plekke besoek.

“Ons het een dag die toeristeding gedoen en Halifax en Kolmanskuppe besoek. Daarna het ons onder andere na die asgate en rioolverwerkingsaanleg gaan kyk. Ons is ’n klein dorp en kan nie finansieel baie ondersteuning bied nie, maar ons wil graag op dié twee gebiede help.

“Ons wil ook kyk hoe ons in die skole kan help. Ek was beïndruk met die drie laerskole wat ons besoek het. Die klaskamers is baie groter met meer kinders as in Duitsland en die dissipline en respek wat die kinders teenoor hul onderwysers betoon, is ongelooflik. Baie meer en beter as in Duitsland. Ek het in die kinders se oë ’n dors na kennis gesien wat my baie hoop vir Namibië se toekoms gee.”

Saam met die twee burgemeesters was me. Sarah Giese, bestuurder van die laerskool in Lüderitz, Duitsland.

“Ons wil beslis aan programme werk wat ons kinders ’n voorsprong gee; dat hulle van mekaar en van mekaar se lewe en kultuur kan leer. Vandag in die digitale eeu sal dit beslis moontlik wees.”

Die voorsitter van die bestuurskomitee van die Lüderitz-dorpsraad, mnr. Phil Balhao, het gesê: “Hulle is ’n baie klein dorpie met baie min hulpbronne, maar ons hoop om deur hul kontakte nuwe kontakte te bou. Ons wil graag iets aan hulle teruggee in plaas daarvan om net iets te wil ontvang. Ek dink veral die skole kan baat. Duitsland is ligjare voor ons en met al die nuwe nywerhede wat na Lüderitz toe kom, kan ons net baat.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!