Politici in die Windhoekse munisipaliteit sukkel om konsensus te bereik oor hoe die hoofstad se sake bestuur moet word. FOTO ARGIEF
Politici in die Windhoekse munisipaliteit sukkel om konsensus te bereik oor hoe die hoofstad se sake bestuur moet word. FOTO ARGIEF

Twis oor CoW-hoof duur voort

Raadslede stap uit vergadering
Politici in Windhoek se munisipale raad sukkel om konsensus te bereik oor hoe die hoofstad se sake bestuur moet word.
Mathias Haufiku
’n Spesiale vergadering vir Windhoek se stadsraad het Dinsdag in chaos ontaard toe raadslede ná 15 minute uitgestap het en gevolglik nie die omstrede aanstelling van ‘n administratiewe hoof vir die hoofstad se munisipaliteit (CoW) kon bespreek nie.

Verskeie vorige pogings om noodsaaklike vergaderings te hou wat tot die aanstelling van die uitvoerende hoof sou lei, is in die wiele gery deur beskuldigings wat oor en weer tussen raadslede geslinger word, met politici wat oënskynlik nie ‘n konsensus kon bereik oor die beste manier om Windhoek se sake te bestuur nie.

Teen 14:30 het me. Sade Gawanas, huidige burgemeester van die stad, die vergadering met ‘n gebed geopen, tot groot verbasing van haar mede-raadslede.

“Ons was verbaas dat sy met ‘n gebed geopen het, want sy doen dit baie selde. Miskien het sy dit gedoen weens die aard van die vergadering,” het bronne in die munisipaliteit gesê.

Ná die gebed het Gawanas die voorsitter van die bestuurskomitee, me. Ndeshihafela Larandja, aan die woord gestel om die komiteeverslag, met aanbevelings om die werwingsproses van ’n uitvoerende hoof opnuut te begin, voor te lê.

Gawanas het daarna aangedui sy neem kennis van die verslag en het met haar hamer geslaan, wat die einde van die beraadslagings oor dié item op die agenda aangedui het.

Volgens bronne was raadslede geskok dat daar geen besprekings oor die verslag sou wees nie en het gesê die voorlegging moet as “aangebied” aangeteken word.

In daardie stadium het chaos losgebars met raadslede van die Swapo, Popular Democratic Movement (PDM) en die Affirmative Repositioning (AR)-beweging wat almal Gawanas se beslissing teëgestaan het.

BEWYSE

Die AR se dr. Job Amupanda het sy spreekbeurt gebruik om te bevraagteken waarom raadslede nie ‘n kans gegun word om die inhoud van die verslag te bespreek nie. Die voormalige burgemeester het Gawanas verder meegedeel dat hy gereed is om bewyse te verskaf om sy uitsprake tydens ‘n raadsvergadering verlede maand - waar hy lede van die “Progressive Forces” daarvan beskuldig het dat hulle die munisipaliteit volgens politieke bande bestuur wanneer dit kom by die aanstelling van die uitvoerende hoof – te staaf.

Amupanda het beweer die Progressive Forces het die aanstellingsproses gestuit omdat die verkiesbare kandidate as Swapo-lede bestempel word.

Die kortlyskandidate was mnre. Conrad Lutombi, Moses Matyayi en Eino Mvula en mee. Joyce Mukubi en Charmill Zamuee. Hul onderhoude was in Oktober 2021, maar tot op hede is niemand aangestel nie. CoW is al twee jaar sonder ’n uitvoerende hoof.

Terwyl Amupanda aan die woord was, het die IPC-raadslid mnr. Bernadus Araeb op ‘n punt van orde tussenbeide getree. Hy wou hê die burgemeester moet reël 42 oproep, wat handel oor die nodige prosedures om onregmatige en ontwrigtende lede uit die kamer te verwyder.

Ná Araeb het Swapo-raadslede ook tot die gesprek toegetree om dit op rekord te plaas dat hulle nie die bestuurskomitee se verslag ondersteun nie.

Gawanas het toe probeer om voort te gaan met die tweede punt op die agenda, wat die werwing en keuring van ‘n beampte om die departement van ekonomiese dienste en gemeenskapsontwikkeling te lei, behels het.

Op daardie punt het die Swapo-raadslede die vergadering geboikot en uitgestap, waarna die hele vergadering gevolglik afgelas is.

‘ONS IS NIE JOU KINDERS NIE’

Gawanas het Woensdag in ‘n onderhoud op die radiostasie Eagle FM gesê die vergadering is gestaak omdat “Swapo-raadslede die vergadering ontwrig het”.

“Ek het verlede week aan hom [Amupanda] geskryf en vir bewyse gevra, want hy het op rekord gegaan, sodat ek doelbewus my insette kan lewer. Hy het Dinsdag om 14:15 ‘n voorlegging van 26 bladsye gestuur, terwyl die vergadering om 14:30 sou begin,” het sy gesê.

Sy het gesê haar plan was om Amupanda se dossier te bespreek nadat die agendapunte afgehandel is, en bygevoeg “Swapo-raadslede het opgestaan en geskree, met raadslid [Queen] Kamati wat ‘ons is nie jou kinders nie’ gesê het”.

Op die vraag oor waarom die vergadering nie kon voortgaan nie, het sy gesê: “Omdat daar geen kworum was nie, aangesien die raadslede Ilse Keister (AR) en Clemencia Hanases (PDM) ook uitgestap het.” [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 19° | 30° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 29° Ruacana: 20° | 32° Tsumeb: 19° | 31° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 19° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 26° | 38° Keetmanshoop: 24° | 38° Aranos: 25° | 37° Lüderitz: 18° | 33° Ariamsvlei: 22° | 38° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 34° Antananarivo: 16° | 24° Lilongwe: 18° | 24° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 20° | 26° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 27° #REF! #REF!