Verkopers by Marula Lodge-grondkwessie ingesluit

Uitspraak wéér uitgestel
Hoewel die uitspraak glo gereed is, sal dit nie gelewer word voordat die voormalige verkopers van die grond aangedui het of hulle insette wil lewer nie.
Kristien Kruger
Uitspraak in die hofsaak oor die sowat 15 000 hektaar grond wat die Russiese miljardêr, Rashid Sardarov, op ’n huurkontrak van 99 jaar van die staat huur, is vir die derde keer uitgestel.

Dié keer het regter Orben Sibeya beveel dat die voormalige eienaars van die plase toegelaat moet word om aan die verrigtinge deel te neem.

Sibeya het Dinsdag aangedui dat sy uitspraak reeds geskryf is, maar hy eers vir die voormalige eienaars van dié vier plase – wat dit aanvanklik verkoop het – ook ’n geleentheid wil gun om hul insette te gee voor hy die uitspraak lewer.

Die voormalige eienaars het tot 4 November om aan te dui of hulle van dié geleentheid gebruik wil maak. Die saak is gevolglik uitgestel en partye sal weer op 12 November in die hoërhof in Windhoek verskyn.

HOFAANSOEK

Die Popular Democratic Movement (PDM) het die aansoek in die hoërhof in Windhoek teen onder meer die ­ministers van landbou, water en grondhervorming asook finansies en die president gebring in ’n poging om die besluit om die grond aan ­Sardarov se maatskappy, Comsar Properties SA, te verhuur, tersyde te stel.

Alternatiewelik versoek die PDM dat die reëling – wat dit moontlik gemaak het dat Comsar die plase aan die regering geskenk het, in ruil vir ’n 99 jaar-huurkontrak – onwettig ­verklaar word.

In 2018 het die eienaars van die plase Rainhof, Kameelboom en ’n deel van Smaldeel ingestem om die grond vir N$28,5 miljoen aan die regering te verkoop. Die eienaar van die plaas Wolffsgrund het ook sy grond aan die regering vir sowat N$14,9 miljoen verkoop.

Sardarov se maatskappy het N$43,4 miljoen vir die grond betaal en dit daarna aan die staat geskenk. Die staat het daarna glo tot die huur­kontrak ingestem.

Die luukse Marula Lodge word nou op dié grond bedryf.

BETOË

Die PDM se ­regsverteenwoordiger, Jean Marais, beweer dat die lang tydperk van die huurkontrak in effek gelykstaande is aan die verkoop van die grond, wat volgens die PDM ­ongrondwetlik sou wees aangesien Sardarov ’n buitelander is.

“Die regering kon nie op ’n ­redelike wyse tot die besluit gekom het om die grond vir 100 jaar te verhuur nie. Wat van die volgende buitelander met baie geld?”

Comsar Properties SA se regsverteenwoordiger, Wim Trengove, het egter aan Sibeya gestel dat die ­toepaslike wetgewing dit ­duidelik stel dat buitelanders grond in Namibië mag koop met die minister se ­toestemming.

Die voormalige minister van grondhervorming, Utoni Nujoma, het in sy verklaring erken dat die staat nie genoeg geld gehad het om die grond te bekom nie en het daarop gewys dat die transaksie deur die kabinet hersien en goedgekeur is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!