Die Mienie-gesin van Oudtshoorn met ma Alicia, Carmen, Nicole en pa Nico. FOTO FACEBOOK
Die Mienie-gesin van Oudtshoorn met ma Alicia, Carmen, Nicole en pa Nico. FOTO FACEBOOK

Vliegongeluk: Enjin eers volgende week ondersoek

Vlieënier se lewe word Saterdag op Oudtshoorn gevier
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Die enjin van die vliegtuig wat twee weke gelede op die Impalila-eiland neergestort het, sou gister by die Wonderboom-lughawe by Pretoria aankom waar ’n deskundige dit sal ontleed.

Mnr. Magnus Abraham, direkteur van die direktoraat vliegtuigongeluk­ondersoeke in die ministerie van werke en vervoer, het gister gewag om te hoor wanneer dié ­Suid-Afrikaanse deskundige die enjin sal bestudeer om vas te stel wat tot die ongeluk aanleiding gegee het.

“Ek wag vir ’n e-pos om te hoor wanneer hulle hopelik in ­volgende week ’n gleuf beskikbaar het vir hierdie ondersoek,” het hy by navraag gesê.

Die Cessna Centurion C210 van Scenic Air het omstreeks 12:00 op 30 Augustus, kort nadat dit van die Impalila-landingstrook opgestyg het, naby die dorpie Muwana in die Zambezirivier neergestort en almal aan boord is dood.

Die vlieënier, me. Nicole Mienie (21), was met ’n Duitse gesin van München, mnr. Thomas Rings (59), sy vrou, dr. Evelyn Wiesmeier-Rings en hul dogters, Alicia (19) en Paulina Rings (17), vanaf die Chobe Water Villas op pad terug Windhoek toe.

Abraham het aanvanklik aan Republikein gesê hy verwag om die voorlopige verslag na die oorsaak van die ongeluk teen die einde van vandeesweek of vroeg in volgende week vry te stel.

Aangesien die ondersoeker nou waarskynlik eers in volgende week die enjin sal ontleed, sal dit nie kan geskied nie. “Ons sal dit wel voor die einde van September gereed hê.

“Die wet bepaal die voorlopige verslag moet binne 30 dae ná die ongeluk uitgereik word,” het hy gister verduidelik.

Intussen berig Netwerk24 Mienie se lewe sal Saterdag op haar tuisdorp, Oudtshoorn, gevier word.

’n Gedenkdiens is Maandag ook in Windhoek gehou nadat haar ouers, Nico en Alicia Mienie, verlede week na Namibië gereis het.

BOODSKAP

Haar pa het op 9 September lugfoto’s van Namibië op Facebook geplaas en geskryf: “En daar word ons vandag weer eens bederf om te sien wat Nicole gesien het in die mooie Namibië! Vader, U troue liefde vir ons ken absoluut geen einde nie. Dankie dat ons vanaand aan U alleen, al die eer kan bring.

“Hierdie was een van dié moeilikste dae in ons lewens, maar U het ons juk kom lig maak en ons las op U geneem,” het hy in sy plasing gesê.

Benewens haar ouers, laat sy ook haar suster, Carmen, agter.

Mienie het in Mei vanjaar na Windhoek verhuis en haar by Scenic Air aangesluit. Sy het haar ­kommersiële vlieglisensie in Maart verlede jaar met lof in Suid-Afrika verwerf.

Intussen het komm. Nelius Becker, hoof van die Nasionale Forensiese Wetenskapsinstituut van Namibië (NFSI) gister bevestig die nadoodse ondersoeke is afgehandel.

“Aangesien die ondersoek na die voorval nog nie afgehandel is nie, kan die inligting nog nie bekend gemaak word nie,” sê hy.

Volgens Becker sal die Duitse gesin se oorskot na Duitsland ­gerepatrieer word wanneer hulle positief ­uitgeken is. Aangesien hul familie nie hierheen kon reis om dit te doen nie, moet “ander metodes” gebruik word. Volgens hom sal dit nie lank duur nie.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!