Een van die studente wat tot twee jaar tronkstraf gevonnis is vir die vervalsing van Covid-19-toetsuitslae, se vonnis is gehalveer. Foto SCI
Een van die studente wat tot twee jaar tronkstraf gevonnis is vir die vervalsing van Covid-19-toetsuitslae, se vonnis is gehalveer. Foto SCI

Vonnis vir vals Covid-toets gehalveer

Mediese student se appél slaag
Een van die twee mediese studente wat Covid-19-toetsuitslae vervals het, se vonnis is met een jaar opgeskort.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith

Die hoërhof in Windhoek het ’n mediese student wat vir twee jaar tronkstraf opgelê is vir die vervalsing van Covid-19-toetsuitslae se vonnis met die helfte verminder.

Mnr. Mussa Phiri (28), ’n sewendejaar- mediese student, is in Augustus 2021 deur immigrasiebeamptes by die Ngoma-grens in hegtenis geneem nadat hulle besef het dat sy toetsuitslae vervals is.

Hy het skuldig gepleit op een aanklag van vervalsing en ’n ander van uitgifte (uttering charge) en landdros Clara Mwilima het hom op elke aanklag tot 12 maande tronkstraf gevonnis.

Phiri is saam met ’n ander 22-jarige Namibiese mediese student, me. Martha Namupala, in hegtenis geneem wat op een aanklag van uitgifte tot een jaar tronkstraf gevonnis is.

Phiri en Namupala het teen die vonnis geappelleer en beweer dat die hewige straf hul toekomstige loopbane as gesondheidspraktisyns in gevaar stel. Namupala het later haar appèl teruggetrek.

Die twee studente was ten tyde op pad terug na Zambië om hul mediese studies aan die Cavendish Universiteit voort te sit ná ’n besoek aan Namibië.

HOËRHOF SE UITSPRAAK

Regter Christie Liebenberg het Maandag Phiri se vonnis met die helfte verminder en beveel dat die twee vonnisse samelopend uitgedien word, pleks van opeenvolgend.

“Die feit dat hy ’n mediese student is wat Covid-19-toetsuitslae vervals het, het sy saak vererger. Hy moes ook die moontlike nadelige gevolge vir ander besef het,” het Liebenberg in die uitspraak geskryf.

Liebenberg is van mening dat die vonnisse op elke aanklag regverdig is en het in sy uitspraak beklemtoon dat hoewel Phiri nie finansieel voordeel getrek het uit die misdryf nie, hy ”roekeloos teenoor die lewens van ander te midde van ’n pandemie opgetree” het en as mediese student juis beter moes geweet het.

Hy stem ook saam dat die landdroshof Phiri se persoonlike omstandighede, ouderdom en feit dat hy ’n eerste oortreders is, in ag geneem het.

Nietemin het Liebenberg opgemerk dat die landdros versuim het om in ag te neem dat die twee aanklagte verwante misdrywe was.

“Dit het na my mening gelei tot die oplegging van ’n onregverdige vonnis.”

Liebenberg het bevind dat die vonnisse regverdig was, maar samelopend uitgedien moet word wat die totale gevangenisstraf tot een jaar in plaas van twee verminder.

PANDEMIE HET MENSE SE LEWENS GEKOS

Die staat het tydens die appél beweer dat Phiri se optrede ander mense se lewens in gevaar gestel het.

“Baie mense in Namibië het hul lewens en die lewens van geliefdes weens Covid-19 verloor.”

Mwilima het tydens vonnisoplegging beklemtoon dat die pandemie mense se lewens en baie se werksgeleenthede gekos het.

“Dis teleurstellend dat daar individue is wat nie bekommerd is oor die pandemie nie en eerder resultate van Covid-19 wil vervals.”

Sy het gesê die beskuldigde se optrede was “selfsugtig en onverantwoordelik” en het pogings om die pandemie te bekamp, geminag.

“Die straf moet nie net ’n klap op die pols wees nie, maar hulle moet ’n les geleer word sodat hul dit nooit weer sal herhaal nie, respek vir die wet sal hê en lede van die samelewing kan word”.

Beide Phiri en Namupala het gesê die tronkstraf het hulle “diep ontstel” en albei het hul dade werklik berou.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!