Water bly kopseer vir Koës

Skoolkinders ‘ly die meeste’
Inwoners sê die probleem het reeds 'n paar jaar gelede kop uitgesteek, hoewel die situasie aan die begin van September só versleg het dat daar tans geen water is nie, of net 'n fyn straaljie.
Tanja Bause
Sowat 800 skoolkinders op Koës het nie water om te bad, toilette te spoel of te drink nie.

Dit is egter nie net die skole wat gebuk gaan onder die waterkwessie nie, maar die hele dorp.

Die inwoners sê die probleem het reeds ’n paar jaar gelede kop uitgesteek, hoewel die situasie aan die begin van September só versleg het dat daar tans geen water is nie, of net ’n fyn straaljie.

“Dan het ons water, dan het ons nie. Baie huise het net water by die buitekrane,” het ’n inwoner gesê.

Die Gekombineerde Skool Adam Steve in die dorp se informele nedersetting huisves tans sowat 580 leerlinge.

“Ons kinders bad 04:30 in die oop veld by die boorgat. Die toilette kan nie ordentlik gespoel word nie en dit is ’n probleem om kos te maak.

“Op die oomblik is dit verskriklik warm en die kinders het nie skoon water om te drink nie. Die kinders wat nie in die koshuis is nie bring water van die huis af, maar as die water af is – dan is dit af – dan het hulle ook nie water nie.

“Die dorpsraad het water by die skool kom aflaai, maar ons moes die water self in ons emmers gooi en wegdra. Dit was een keer – nou vra ons net nie meer nie omdat dit net te veel moeite is. Ons ry maar self water aan.”

Die Primêre Skool Chris Lotter in die dorp akkommodeer tans 220 leerlinge.

“Ons het ’n watertenk by die skool en by die koshuis. Die tenk loop vol wanneer daar water is. So die kinders dra emmers water aan om die toilette te spoel en vir die kombuis se gebruik.

“In die aande dra die seuns ook emmers vol water na die meisies se badkamer sodat hulle kan bad. Die seuns bad by die tenk. Ons kan nie die koshuis behoorlik skoonmaak nie en die hele situasie is net ’n higiëniese nagmerrie.”

Die probleem raak die hele dorp en mense en besighede wat hulle eie boorgate en water het, se werkers neem emmers vol water in die aande huis toe vir drink-, kook- en badwater.

“Amper almal op die dorp het hulle eie water gekry en ’n plan gemaak omdat ons moeg gesukkel is omdat daar nie water is nie.”

DORPSRAAD

Daar is talle onwettige waterverbindings op Koës en tans word daar meer water verbruik weens die hitte.

Dit volgens Willem Labuschagne, ’n raadslid van die Keetmanshoop-landelike kiesafdeling en ’n parlementslid.

“Ons weet nie wat daar aangaan nie, dit kan een van die redes wees. Ons het nou al ’n tweede pomp, waarvan een gebreek het, ingesit.

“Ons gebruik sowat 15 000 liter water per uur en ons pomp reeds 30 000 liter deur die dag. Nog ’n rede kan ’n waterlekkasie by die uitloop wees. Ons het al die werkers gevra om die pyp op te grawe.

“Hulle het nou op ’n vlak gekom waar hulle sê daar is sement en hulle kan nie verder werk nie. Ek het opdrag gegee dat hulle die sement moet opbreek, want dit is die enigste verklaring dat so baie water verlore kan gaan.”

Die voorsitter van die dorpsraad, Johannes Janser, sê die waterkwessie kom al vir meer as twee maande aan en dat hulle alles in hulle vermoë doen om die probleem te takel.

“Ons het ’n probleem gehad met ons pompe wat uitgebrand het en ons het gesukkel om onderdele te kry. Intussen het ons ’n tweede boorgat gesink wat met sonkrag werk. Dit het nie die probleem opgelos nie, maar heelwat uitgesorteer.”

Hulle is ook besig om stappe te doen om die waterverlies tot ’n minimum te beperk, volgens Janser.

“Ons het gister ons Covid-krane toegemaak omdat dit is waar die watervermorsing inkom. Ons infrastruktuur is redelik verouderd en ons het probleme met lekkasies. Ons het ons eie installasies en nie soos ander dorpe wat NamWater gebruik nie. Ons is nou besig met onderhandelinge met NamWater om hulle infrastruktuur te gebruik sodat ons ons lekkasies kan regmaak.”

Hy sê die dorpsraad is nie bewus daarvan dat die skole so erg deur die waterkwessie geraak is nie.

“Volgens ons inligting is dit soos in die dorp, net gedurende sekere spitstye soos in die middae wanneer daar nie water is nie; en nie die hele tyd nie.

“Daar is tye wat daar regtig water is. Die tye wanneer daar nie water is nie – weens die waterdruk – is nie so lank nie. Die skole het ook hulle eie boorgate wat hulle kan gebruik, maar dit is nie geskik vir menslike gebruik nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!