Wetsontwerp: N$1 m.-boete vir dié wat diere laat veg

Spaar diere ‘enige pyn, lyding of besering’
Terwyl regulasies oor beste praktyke rakende die slagproses en -metodes nog bepaal moet word, verbied die wetsontwerp alle rituele slagpraktyke.
Yandi Du Plessis
Elizabeth //Kheibes - Die Regsvereniging van Namibië (LSN) het Dinsdag ’n voorgestelde wetsontwerp op dierebeskerming uitgestuur wat die slagting van diere vir rituele doeleindes verbied en ’n boete van tot N$1 miljoen instel vir herhaaldelike “dieregevegte”-oortreders.

Die wetsontwerp beklemtoon “die slagting van diere, vir welke doel ook al, moet uitgevoer word deur die dier vooraf te verdoof en moet só plaasvind dat dit die dier enige pyn, lyding, besering of vrees spaar”.

Die slagting moet ook plaasvind “buite sig van ander diere om hulle angs en vrees te spaar, en ingevolge die bepalings van hierdie wet”.

Terwyl regulasies oor beste praktyke rakende die slagproses en -metodes nog bepaal moet word, verbied die wetsontwerp alle rituele slagpraktyke.

NAGEVOLGE

Boonop lui die wetsontwerp indien ’n persoon veroorsaak, borg of aanmoedig dat ’n dier baklei, sal dié optrede strafbaar wees met ’n boete van hoogstens N$500 000 of met gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens 15 jaar, of albei.

“’n Persoon wat voorheen skuldig bevind is aan [dieregevegte] of ’n persoon wat bewustelik hierdie misdryf in die teenwoordigheid van ‘n minderjarige pleeg, kan gestraf word met ’n boete van hoogstens N$1 miljoen of met gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens 20 jaar of met albei.”

In onlangse maande was daar ’n toename in hondeslagtings en daaropvolgende verontwaardiging, veral onder honde-eienaars, oor die doodmaak van “die mens se beste vriend” vir menslike gebruik.

Die Affirmative Repositioning (AR)-aktivis Job Amupanda het vroeër vanjaar sy optrede verdedig en gesê dit is sy “kultuur” nadat ’n video van hom wat na bewering hondevleis eet en dit ’n delikatesse noem, op sosiale media die rondte gedoen het.

‘MENSLIK’

Verlede maand moes polisiebeamptes van Oshakati noodgedwonge vyf honde van kant maak nadat hulle die 44-jarige veiligheidswag Ruben Abraham wreed aangeval het en hy later aan erge bytwonde aan sy gesig, kop en rug dood is.

In hierdie verband maak die wetsontwerp voorsiening daarvoor dat polisiebeamptes enige dier “op ’n menslike wyse doodmaak” as hulle sien die dier is “ernstig siek of beseer of in so ’n fisieke toestand dat dit menslik doodgemaak moet word”.

“Hy of sy moet die dier op ’n menslike wyse doodmaak in oorleg met ’n geregistreerde veearts. Enige beampte wat ’n dier doodmaak in die afwesigheid van die diereversorger moet, indien sodanige versorger se naam en adres bekend is, die versorger in kennis stel ... en waar ’n dier op enige openbare plek of pad doodgemaak word, behoudens die bepalings van die Dieregesondheidswet, die karkas verwyder of laat verwyder,” lui die wetsontwerp.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer