Windhoek help kleiner dorpe

Hoofstad werk saam met erfenisraad
Vyf ooreenkomste word hernu en vier nuwe vennootskappe is onderteken.
Augetto Graig
Die hoofstad het Vrydag weer sy verbintenis tot leierskap en ondersteuning van kleiner Namibiese dorpe getoon, met die ondertekening van ’n reeks Memorandums van Verstandhouding (MoU’s).

Ooreenkomste met Aranos, Otjinene, Outjo, Otavi en Opuwo is hernu, terwyl die Windhoek-munisipaliteit nuwe ooreenkomste met Aroab, Bethanie, Kalkrand en Omaruru by die stadsaal in die middestad onderteken het. By die geleentheid is ’n soortgelyke ooreenkoms ook met die nasionale erfenisraad onderteken.

Die strategiese uitvoerende beampte, Faniel Maanda, het namens Moses Matyayi, die hoofstad se uitvoerende hoof, gesê die ooreenkomste dui op ’n gesamentlike verbintenis tot dienslewering.

“Ons staar almal uitdagings in die gesig, maar om die ooreenkomste te hernu en nuwe ooreenkomste met ons suster plaaslike owerhede te sluit, bevorder inter-munisipale samewerking,” het hy gesê.

Die burgemeester van Aranos, Hans Baffrath, wat sedert 2010 in dié pos dien, onthou hoe Windhoek in 2012 twee vragmotors, ’n bakkie en ’n klein padskraper deur die ooreenkoms aan sy dorp geskenk het. Hy is bly dat die ooreenkoms hernu is.

Die voorsitter van Aroab se dorpsraad, Wellem Assagaai, het soortgelyke sentimente uitgespreek, terwyl Bethanie se dorpraadsvoorsitter, Diedrik Frederick, gesê het hy is opgewonde oor die vennootskap.

“As een van die mees afgeleë dorpe in die suide, 114 km met ’n grondpad vanaf Keetmanshoop, is ek baie bly dat ons ’n vennoot soos Stad Windhoek (CoW) het.

“Ek het al baie gehoor oor wat die hoofstad al voorheen vir ander vennote gedoen het, met vennote soos dié kan ek sien hoe Bethanie gaan groei – hoe die Berseba-kiesafdeling, die ||Kharasstreek en die hele Namibië gaan groei,” sê hy.

Die voorsitter van Kalkrand se dorpsraad, Helenie Auses, was trots daarop om deel van die geleentheid te wees, aangesien Kalkrand een van die kleiner plaaslike owerhede in die land is.

Sy sien uit na finansiële hulp, tegniese ondersteuning en hulp van die hoofstad om Kalkrand binne die volgende vyf jaar in ’n “volwasse” dorp te omskep, sê sy.

Opuwo se uitvoerende hoof, Matjandjara Tjihuura-Katurota, verwag van die vennootskap hulpbronverdeling en menslike hulpbronontwikkeling tesame met hulp om Opuwo se plan om ’n nul-afvalbestuursplan te implementeer. Sy is bly dat die ooreenkoms ook ’n plan van aksie sal bevat, het sy gesê.

Otavi se burgemeester, Isaac !Hoaeb, het gesê: “Die uitdagings wat ons moet trotseer, vereis samewerkende oplossings.”

Volgens die voorsitter van die Otjinene-dorpsraad, Lesley Kauandara, groei die dorp vinnig en is hy bly dat die ooreenkoms hernu word, al het Otjinene sedert 2019 nie by eerste ooreenkoms gebaat het nie.

Outjo se burgemeester, Sieglinde ||Amamus, sê egter haar dorp het vroeër deur die ooreenkoms vier wipwaens van die hoofstad ontvang “wat almal nog in ’n goeie werkende toestand is”.

“Ek sien uit na ons toekomstige pogings,” het sy gesê.

Die burgemeester van Windhoek, Ndeshihafela Larandja, het namens die hoofstad gesê die samewerking sal hoofsaaklik op afvalbestuur, ekonomiese ontwikkeling en die bevordering van handel, grondbestuur en dorpsbeplanning, omgewingsbestuur en op menslike kapasiteitsbou fokus.

Volgens die direkteur van die nasionale erfenisraad, Erica Ndalikokule, sal die samewerkingsooreenkoms met die CoW gemik wees op navorsing, erfenisbewaring, kulturele landmerke en historiese terreine.

Sy het die projek om sekere ou Katutura-huise uit die tydperk toe inwoners uit Windhoek se Ou Lokasie verwyder en verplaas was, uitgelig.

“Die ware impak van die ooreenkoms sal deur implementering gemeet word,” sê sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer