Die Windhoek-munisipaliteit wil oor die komende vyf jaar sowat 4 000 huise in informele nedersettings aan die kragnetwerk koppel. Foto Stad Windhoek (CoW)
Die Windhoek-munisipaliteit wil oor die komende vyf jaar sowat 4 000 huise in informele nedersettings aan die kragnetwerk koppel. Foto Stad Windhoek (CoW)

Windhoek stel kragplan bekend

Die Windhoekse munisipaliteit beplan om oor die komende vyf jaar – tot 2028 – nog 4 000 huise aan die hoofstad se kragnetwerk te koppel. Dié plan is by die laaste stadsraadsvergadering op 28 September goedgekeur.

Die nuwe vyfjaarplan bou op die uitkoms van ’n vorige soortgelyke plan vir die tydperk vanaf 2017 tot 2022. Sedert 2017 het die hoofstad 3 515 huise in Windhoek se informele nedersettings aan die kragnetwerk gekoppel, spesifiek in Otjomuise, Havana, Goreangab, One Nation, Okahandja Park, Ongulumbashe, Babilon en Kilimanjaro. Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling het altesaam sowat N$45 miljoen daaraan bestee.

Net afgebakende gebiede binne Windhoek se informele nedersettings sal dié keer in aanmerking kom.

Volgens die munisipaliteit het die departement van behuising, eiendomsbestuur en menslike nedersettings die betrokke woonbuurte geïdentifiseer in terme van die ontwikkelings- en opgraderingsbeleid van Stad Windhoek (CoW).

Die verwagte koste om die huise van elektrisiteit te voorsien beloop tussen N$15 miljoen en N$20 miljoen per jaar.

Vanjaar kan inwoners van Otjomuise se Erf 1355 verwag om van krag voorsien te word, sowel as inwoners van die Samora Machel se Goreangab-padhervestiging, Havana se Erf 1130 en Erf 1141, en inwoners van Plaas 508 in die Ongos-ontwikkelingsgebied.

Verder sal Okuryangava se inwoners by Okatunda Y en Erf 3222 ook voor die einde van 2023 vordering sien, volgens die plan.

Die munisipale departement vir elektrisiteit sal die aansluiting en ontkoppeling van mediumspanning-verspreidingsnetwerke in die informele nedersettings behartig.

Kontrakteurs sal aangestel word om die huise aan die kragnetwerk te koppel. Kontrakteurs sal moet meeding vir die kontrakte wat deur die nasionale bieproses toegeken sal word. Vestiging van medium- en lae-spanning-verspreidingsnetwerke sal binne die raamwerk van die kontrakte val, sê die CoW.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A