Windhoek se burgemeester, Queen Kamati. FOTO ELIZABETH KHEIBES
Windhoek se burgemeester, Queen Kamati. FOTO ELIZABETH KHEIBES

Windhoekers spaar nie water

Elizabeth Kheibes
Die Windhoek-munisipaliteit het ’n ernstige pleidooi aan inwoners van die hoofstad gerig om hul verbruik met minstens 15% te verminder te midde van die ernstige droogte en waternood.

Die stad se waterbestuursplan, wat daarop gemik is om die voortslepende waterkrisis te takel, het op ’n beduidende afname in waterbesparings gewys. Inwoners het verlede week nie ’n enkele druppel gespaar nie.

“'n Ernstige krisis staar ons in die gesig,” het Queen Kamati, die hoofstad se burgemeester, tydens ’n onlangse raadsvergadering gesê.

“Ons doen ’n beroep op elke inwoner om onmiddellik en daadwerklik ’n poging aan te wend om water te spaar, omdat ons hulpbronne toenemend onder druk is. Hierdie krisis vereis ’n gesamentlike optrede van alle sektore van die gemeenskap,” het Kamati gesê.

Haar pleidooi kom in ’n tyd waarin die hoofstad sukkel met verlaagde watervlakke wat vererger word deur ’n langdurige droogte en die toenemende druk op die waterinfrastruktuur.

“Die situasie is ernstig,” het sy beklemtoon.

“Windhoek is al lank afhanklik van die beperkte voorsiening van water en die onlangse droogtes het die probleem net vererger.

“As ons nie nou optree nie loop ons die risiko van watertekorte in die komende maande.”

Die raad het die rol van die Bank of Namibia (BoN) erken wat onlangs die repokoers vanaf 7,5% na 7,25% verlaag het, ’n stap wat na verwagting ekonomiese aktiwiteite sal bevorder.

Die munisipaliteit het egter beklemtoon dat waterbesparing ’n topprioriteit moet bly as deel van die groter poging om noodsaaklike hulpbronne te beskerm en die gemeenskap se veerkragtigheid in die lig van klimaatsuitdagings te verseker.

Die voortslepende krisis het bykomende druk op die hoofstad se waterinfrastruktuur geplaas, met amptenare wat waarsku as die kwessie nie dadelik getakel word nie, dit tot die rantsoenering van water kan lei.

Windhoek se watervoorsieningstelsels, wat sterk op grondwater en beperkte bronne vir oppervlakwater staatmaak, is onder toenemende druk.

“Die oplossing vir hierdie krisis is in ons hande,” het Kamati gesê.

“Ons kan almal ’n verskil maak – deur waterverbruik by die huis te verminder, waterlekkasies te herstel of inisiatiewe te ondersteun wat waterbesparing bevorder. Saam kan ons ’n toekoms verseker waar hierdie kosbare hulpbron vir toekomstige geslagte bewaar word.”

Munisipale amptenare het ook hul pogings opgeskerp om bewustheid te skep oor die belangrikheid van waterbesparing, veral by skole en leerlinge.

Talle skole het reeds bewaringsonderrig in hul kurrikulums ingesluit, en leerlinge neem aktief deel aan waterbesparingsinisiatiewe.

“Dit is inspirerend om ons jeug so betrokke en toegewyd te sien om ’n verskil te maak. Hulle verstaan die belangrikheid van waterbesparing vir toekomstige geslagte,” het Kamati gesê.

Benewens die onderrig van die publiek, het die munisipaliteit ook ’n reeks maatreëls ingestel om waterbesparings aan te moedig. Dit sluit gereelde monitering en druk vir verminderde verbruik in beide residensiële en kommersiële sektore in.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 28° Rundu: 19° | 27° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 28° Ruacana: 19° | 32° Tsumeb: 19° | 28° Otjiwarongo: 19° | 28° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 20° | 30° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 17° | 19° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 20° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 21° | 33° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 22° | 33° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 26° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 19° | 22° Maseru: 16° | 25° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 30° Maputo: 23° | 30° Windhoek: 20° | 30° Cape Town: 17° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 21° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!