Woede oor raadslede se wegbly

Skrywer sê 'dringende sake' hou hulle weg
'n Raadslid verduidelik die rede waarom hulle nie vir 'n inwonersvergadering opgedaag het nie, is omdat belangriker munisipale sake opgeduik het.
Ronelle Rademeyer
Inwoners van die Windhoek-Oos-kiesafdeling was Woensdagaand woedend toe die twee munisipale raadslede verantwoordelik vir dié kiesafdeling nie by die vergadering opgedaag het wat op 13 Julie deur die stadsvaders belê is om munisipale kwessies waaroor inwoners ongelukkig is, te bespreek nie.

Die vergadering sou van 18:00 tot 21:00 in die Dagbreek-skoolsaal plaasgevind het, maar teen omstreek 18:10 was daar nog geen teken van mnre. Shafiishuna Nujoma (Swapo) en Ivan Skrywer (LPM) nie.

Dit het gister gegons op ’n WhatsApp-groep vir Windhoek-Oos-inwoners wat hul verontwaardiging oor die kwessie laat hoor het.

Mnr. Brain Black, IPC-streekraadslid vir Windhoek-Oos, was een van die inwoners wat skerp gereageer het.

“Ongelukkig toon die optrede van die twee raadslede van die CoW wat aan Windhoek-Oos toegeken is, ’n totale gebrek aan toewyding en absolute disrespek teenoor die inwoners. Dit is totaal onaanvaarbare optrede wat nooit deur burgers goedgepraat moet word nie.

“’n Mens mors eenvoudig nie belastingbetalers se geld om ’n openbare vergadering te adverteer nie, te betaal vir ’n lokaal en daag dan nie op vir jou eie vergadering nie. Die feit dat daar nie ’n enkele laaste minuut-oproep na óf my kantoor as kiesafdelingsraadslid óf die gasheer wie se lokaal dit was, gemaak is nie, bevestig die omvang van disrespek.

“As ek nie die twee raadslede gebel het nie, sou ons vir meer as ’n uur tevergeefs vir hulle gewag het. Geen belangrike, onvoorsiene saak op die agenda van die CoW regverdig sulke optrede en behandeling van inwoners nie, punt!” het Black in reaksie op die gebeure gesê.

Dit blyk hy het Nujoma en Skrywer probeer bel, en het later ’n SMS ontvang waarin hy meegedeel is hulle kon nie die vergadering met die inwoners bywoon nie aangesien die stadsraad ’n spesiale vergadering belê het om dringende munisipale aangeleenthede te bespreek.

Skrywer het gister by navraag gesê die kantoor van die burgemeester, me. Sade Gawanas, het die kommunikasie-afdeling opdrag gegee om die vergadering te kanselleer en die inwoners daaroor in te lig.

Hy sê die raad moes tydens die vergadering Woensdagmiddag oor belangrike kwessies besluit, soos die verstryking van die 20 jaar-kontrak wat Wingoc met die munisipaliteit het vir die bedryf van die Goreangab-waterherwinningsaanleg.

“Die kontrak verstryk die einde van hierdie maand en dit gaan oor die verskaffing van water aan die inwoners.”

Die ander kwessie was die verstryking van die kontrakte van 600 munisipale werkers wat byvoorbeeld as straatveërs en skoonmakers op 'n vaste termyn-grondslag in diens is. Hy sê hulle kontrakte verstryk ook dié naweek.

“As ek en mnr. Nujoma die vergadering verlaat het om ons verpligting in Windhoek-Oos na te kom, sou daar nie ’n kworum gewees het om oor dié kwessies te stem nie,” het Skrywer verduidelik.

Hy sê daar is gestem om Wingoc se kontrak vir drie jaar te verleng, waarna die kontrak moontlik op ’n internasionale tender uitgesit sal word.

Wat die 600 werkers betref, is besluit om hulle kontrakte vir ‘n jaar te verleng terwyl ’n lewensvatbaarheidstudie oor of hulle as voltydse werknemers in diens geneem moet word, bestudeer sal word.

Die IPC-raadslid mnr. Jürgen Hecht, wat die week ’n opskudding veroorsaak het toe hy die munisipaliteit se beroerde geldsake aan die groot klok gehang het, sê ’n soortgelyke inwonersvergadering was vir Windhoek-Wes belê en hy het om 17:45 die spesiale raadsvergadering verlaat om sy verpligtinge in Windhoek-Wes na te kom.

Hecht het vroeër die week tydens ’n nuuskonferensie gesê die munisipaliteit se verliese die afgelope dekade beloop N$3,2 miljard.

Volgens hom gebruik die munisipaliteit tans sy oortrokke fasiliteit van N$200 miljoen om sy dag-vir-dag-verpligtinge na te kom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 31° Rundu: 19° | 30° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 29° Ruacana: 20° | 32° Tsumeb: 19° | 31° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 19° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 26° | 38° Keetmanshoop: 24° | 38° Aranos: 25° | 37° Lüderitz: 18° | 33° Ariamsvlei: 22° | 38° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 16° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 34° Antananarivo: 16° | 24° Lilongwe: 18° | 24° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 20° | 26° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 27° #REF! #REF!