‘Hondebelasting’ vir hoofstad onder loep

Elizabeth Kheibes
’n Voorgestelde munisipale regulasie in Windhoek oor honde-eienaarskap, belasting en dierewelsyn het hewige debat onder stadsamptenare, aktiviste en inwoners ontketen.

Dié regulasie wat ’n hondebelasting, lisensievereistes en strenger beheermaatreëls voorstel, is gekritiseer, veral met betrekking tot die konsultasieproses en kulturele implikasies daarvan.

Ingevolge die nuwe regulasie sal honde-eienaars binne Windhoek se plaaslike owerheidsjurisdiksie verplig word om ’n tipe hondebelasting te betaal.

Die regulasie vereis ook spesifieke voorwaardes vir honde-eienaarskap, insluitend verpligte opleiding om goeie gedrag te verseker, beperkings op die lengte van leibande en die behoorlike verwydering van hondemis.

Daarbenewens maak die regulasie voorsiening vir die skut van ongelisensieerde honde en skryf 'n stewige boete van N$5 000 voor vir oortredings soos klagtes van honde wat oormatig blaf.

Nog ’n aspek van die regulasie is gemik op gevaarlike honde en sal eienaars verplig om “gevaarlike honde veilig binne te hou of binne geslote erwe vas te maak”. Dit het gemengde reaksies ontlok, met sommige wat aanvoer dat ’n verbod op aggressiewe rasse ingestel moet word, terwyl ander glo dat verantwoordelike eienaarskap en opleiding voldoende maatreëls is.

Daar word ook beplan om spesiale vullisdromme langs wandelpaaie op te rig in ’n poging om voorsiening te maak om hondemis weg te gooi.



AMUPANDA

Die voormalige Windhoekse burgemeester en Affirmative Repositioning (AR)-aktivis Job Amupanda is sterk gekant teen die voorgestelde regulasie en meen dit is “belaglik”.

“Ons het nie toilette vir mense nie, tog gaan ons asblikke vir honde bou? Dit is ’n verregaande prioriteit,” het hy gesê.

Kritici voer aan dat die regulasie “’n opgedateerde weergawe is van die koloniale era se wette op hondebelasting wat aanvanklik op inheemse Namibiërs afgedwing is om hul bewegings te beheer en tot arbeid te dwing”.

“Hierdie regulasie is ’n belediging. Dit is ’n herlewing van koloniale wette wat belasting op honde en donkies opgelê het om inheemse mense te beheer,” het Amupanda aangevoer.

“Nou wil hulle hierdie belasting weer instel onder die dekmantel van regulering,” het Amupanda verlede week tydens Stad Windhoek (CoW) se eerste raadsvergadering gesê.

Hy het verder die konsultasieproses gekritiseer en beklemtoon dat belanghebbendes soos plaaslike gemeenskappe nie by die konsultasies ingesluit is nie, terwyl instellings soos die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en internasionale eweknieë in Suid-Afrika betrokke was.

“Julle beplan om ’n beleid goed te keur wat 20 000 honde-eienaars raak, maar geen behoorlike konsultasies is gehou nie. Slegs die uitvoerende hoof se kantoor, die DBV en buitelandse munisipaliteite is geraadpleeg,” het hy beweer.



EIS HERSIENING

Omstredenheid oor die voorgestelde regulasies neem steeds toe met talle vrae oor die regverdigheid van ’n hondebelasting, die noodsaaklikheid van strenger voorwaardes vir eienaars en die kulturele sensitiwiteit rondom die verbruik van hondevleis.

Amupanda eis dat die regulasie hersien moet word en wyer openbare konsultasies nog moet plaasvind voor die regulasie afgedwing word.

“As ons dit vandag goedkeur, sal elke honde-eienaar in Windhoek belasting betaal en bekommerd wees oor hul hond wat blaf.

“Dis ’n ernstige kwessie en ons kan nie toelaat dat dit deurgedruk word sonder dat die mense se stemme gehoor word nie,” het hy afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer