80 ton koper gesteel, mynbou gestaak, beweer prospekteerder
Die Namibiese polisie ondersoek ’n klag van onwettige mynbou en die diefstal van 80 ton koper op die plaas Condor in die Outjo-distrik.
Volgens die polisie se misdaadverslag word beweer dat verdagtes ’n prospekteringsgebied en mynboubedrywighede tussen Maart en April vanjaar oorgeneem het en 80 ton koper sonder die toestemming van die eienaar van eksplorasielisensie (EPL) 8588 verwyder het. Die waarde van die koper word op N$1,8 miljoen geskat.
Die eienaar van die privaat maatskappy Kambesha Copper, waaronder EPL 8588 toegeken is, het gister aan Republikein gesê hy prospekteer sedert Augustus 2021 met sewe werknemers in dié gebied waar hulle drie rotsbanke van minerale van ongeveer 16 km, 40 meter breed en tot 50 meter diep gemeet het. Hy wou anoniem bly.
“Ons het reeds baie van die koper oopgemaak en was besig om voorraad op te bou ter voorbereiding van ’n verwagte besoek van beleggers uit Dubai. Dis ’n groot gebied wat net te voet verken kan word, gate en slote moet gegrawe word en monsters moet na die ministerie se laboratorium gestuur word om die graad vas te stel. Ons het ’n goudrif van 1,7% gevind en baie koper van tussen 24% en 30%, sowat 800 miljoen ton,” brei hy uit.
Die beleggers se planne om ’n kopersmelter daar te vestig, is ook nou in die gedrang.
“Toe kom die plaaslike hoofman en jaag ons daar weg,” sê hy.
Volgens hom is die mynboubedrywighede oorgeneem en die koper is reeds bymekaargemaak en per trok na Walvisbaai geneem, en daar verkoop.
“Daar is ’n reusemark,” sê hy oor die hawedorp.
“Ek is baie ontevrede. Ek het so veel geld ingesit en ons het geweldig hard gewerk. Dis ’n reuseproses om ’n prospekteringslisensie te kry, om die werk te doen, te boor en die projek te ontwikkel,” sê hy.
“Niemand het mynregte op die gebied nie, net ek,” sê hy.
“Dis ’n gemors,” sê hy en voeg by dit is hoekom hy die saak by die polisie aangemeld het.
Die plaas Condor val onder die ǂAodaman Tradisionele Owerheid. Hoofman Max Haraseb het gesê hy is onbewus van die geskil aangesien hy onlangs ’n beroerte gehad het en steeds op die herstelpad is.
Sy kantoor het die koerant na die tradisionele raadslid, me. Erna Snywe, verwys.
Sy sê sy weet van die mynboubedrywighede op die plaas en dat daar verlede maand ’n vergadering belê is om vas te stel wie die geldige EPL besit.
“Daar was twee met EPL’s, maar een was onwettig,” sê sy. Snywe het belowe on verder ondersoek in te stel.
Die kommissaris van mynbou, mnr. Erasmus Shivolo, was ook onbewus van die verwikkelinge.
“Ek was nie bewus daarvan nie, maar ek glo nie ek het ’n permit uitgereik vir enigiemand om minerale uit daardie omgewing te verwyder nie,” het hy gister gesê.
Volgens hom is dit ’n misdaad en ’n polisie-aangeleentheid as daar onwettige mynboubedrywighede of diefstal van minerale plaasgevind het.
“Dit is ’n misdaad,” sê hy.
Shivolo sê onwettige mynboubedrywigheide is nie ’n groot probleem in Namibië nie, omdat dit nie gereeld en op groot skaal plaasvind nie.
“Daar is sommige kleinskaalse myners hier en daar, wat sê hulle ken nie die wet of weet nie van beter nie, maar ek is nie bewus van onwettige mynbou in die land wat op groot skaal plaasvind nie,” sê hy.
Die polisieondersoek duur voort. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie