Die 37-jarige Imanuwela David is 'n gebore Namibiër wat in Suid-Afrika woon. Hy was glo die meesterbrein agter die rooftog op pres. Cyril Ramaphosa se wildplaas in Februarie 2020. Foto Facebook
Die 37-jarige Imanuwela David is 'n gebore Namibiër wat in Suid-Afrika woon. Hy was glo die meesterbrein agter die rooftog op pres. Cyril Ramaphosa se wildplaas in Februarie 2020. Foto Facebook

Cyril-miljoene: Fishcor-hoë wou net help

Paulus Ngalangi ontken bande met Imanuwela David
Die man wat destyds gehelp het om die baasbrein agter die Ramaphosa-rooftog na Windhoek te bring ná hy oor die grens geglip het, ontken enige aandadigheid.
Ronelle Rademeyer
Die voormalige finansiële hoof van Fishcor het gister opnuut ontken hy het bande met een van die vyf Namibiërs wat na bewering saamgespan het om miljoene Amerikaanse dollar te steel wat in pres. Cyril Ramaphosa se plaaswoning naby Bela-Bela in Limpopo versteek was.

Mnr. Paulus Ngalangi, wat in 2021 by Fishcor bedank het, erken hy het vir mnr. Imanuwela David ’n saamrygeleentheid Windhoek toe gegee nadat hy op 12 Junie 2020 die Oranjerivier by Noordoewer onwettig met ’n kano oorgesteek het.

David was glo die baasbrein agter die rooftog.

Ngalangi het gister aan Republikein gesê hy volstaan by die verklaring wat hy in Junie 2020 uitgereik het. Daarvolgens het hy bloot 'n goeie daad verrig en “iemand wat op Noordoewer aan die Namibiese kant van die grens sonder vervoer gesit het”, uit sy verknorsing gehelp.

David het elf US$100-note,’n Rolex-horlosie ter waarde van N$280 000, ’n TAG Heuer-horlosie van N$28 000, verskeie selfone en ’n goue ketting met ’n Krugerrand by hom gehad toe die polisie in Windhoek hom op 13 Junie in hegtenis geneem het.

In die verklaring sê Ngalangi hy het ’n sersant in die Namibiese polisie (se toeristebeskermingseenheid) gevra om hom na Noordoewer te vergesel om David op te laai.

Volgens hom het hulle die man by ’n vulstasie aan die Namibiese kant van die grens opgelaai en Windhoek toe gery.

Komm. David Indongo, bevelvoerder van die polisie in die ||Kharasstreek, het destyds aan Republikein gesê die polisie is deur intelligensiebronne ingelig “dat só 'n voorval plaasgevind het”.

Hy sê toe dit onder hulle aandag kom, was die mans reeds deur die ||Kharasstreek en onderweg na Windhoek.

“Daarom het ons ons kollegas in die Khomasstreek laat weet.”

Volgens Ngalangi het hy die sersant gevra om hom te vergesel omdat hy hom nie “aan die verkeerde kant van die gereg wou bevind nie”.

“Ek is 'n wetsgehoorsame burger. As enige verbintenisse met geld of enige kriminele aktiwiteite betrokke was, ontken ek enige aandadigheid,” het hy in sy verklaring aan die media gesê.

Die bom oor die Suid-Afrikaanse staatshoof se gesteelde miljoene het Woensdag gebars toe die buurland se voormalige spioenbaas Arthur Fraser strafregtelike klagte van geldwassery, regsverydeling en ontvoering teen Ramaphosa by die Rosebank-polisiekantoor in Johannesburg ingedien het.

In sy beëdigde verklaring van 48 bladsye skets hy die gebeure rondom die diefstal van “meer as US$4 miljoen” op Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas op 9 Februarie 2020.

Ramaphosa ontken dat hy by enige onwettigheid betrokke was en sê die geld is uit wildtransaksies verdien.

Volgens Fraser se verklaring was David een van die vyf Namibiërs wat saamgespan het om die geld te steel nadat die huiswerker agtergekom het Amerikaanse dollar word in ’n rusbank en ander meubels versteek. Sy het haar broer daaroor ingelig en David is na bewering saam met Urbanus Shaumbwako, Petrus Mukekeni, Erkki Shikongo en Petrus Afrikaner vir die taak gewerf.

Ná die rooftog is die vyf glo dadelik na Kaapstad waar hulle die geld by ’n informele buitelandse valutadiens vir rande geruil het. Daarna is die geld na bewering op voertuie en ander luukshede bestee.

Sowat R715 000 is glo ses dae ná die rooftog in een van die rowers se bankrekening inbetaal.

Volgens Fraser se verklaring is daar nie sekerheid oor die bedrag wat gesteel is nie, maar daar word bespiegel dat dit tussen US$4 miljoen en US$8 miljoen was.

Hy beweer Ramaphosa het opdrag aan genl.maj. Wally Rhoode, hoof van die presidensiële beskermingseenheid, gegee om die voorval te ondersoek.

Rhoode het glo onwettig ’n span van voormalige polisiebeamptes en lede van die misdaadintelligensie-eenheid saamgestel en die ondersoek uitgevoer.

Fraser sê ook Ramaphosa het pres. Hage Geingob se hulp ingeroep en gevra die Namibiese owerhede moet die mans help vastrek.

David is sover bekend die enigste een van die vyf wat in Namibië gearresteer is.

Die bewering is dat die huiswerker en die vermeende rowers omkoopgeld van R150 000 elk deur Rhoode se span betaal om seker te maak die storie oor die versteekte geld kom nie op die lappe nie.

Rhoode het glo ook na Namibië gereis sonder om deur immigrasie te gaan, waar hy die Namibiese polisie versoek het om nie met die ondersoek voort te gaan nie.

David is nadat hy skuld beken het op klagte van Immigrasiewet-oortredings, in November verlede jaar na Suid-Afrika gedeporteer. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!