Stropers draai dikwels dik spons of materiaal om hul skoene om spoorsny van hul voetspore te belemmer. Foto verskaf
Stropers draai dikwels dik spons of materiaal om hul skoene om spoorsny van hul voetspore te belemmer. Foto verskaf

Drie 'stropers' in Etosha doodgeskiet

Francoise Steynberg
Drie gewapende vermeende stropers is Saterdag tydens ’n skermutseling met lede van die teenstropingseenheid

in die Etosha Nasionale Park doodgeskiet.

Volgens die Namibiese polisie (Nampol) het die lede verbonde aan die teenstropingsoperasie in Etosha tydens hul patrollies voetspore aan die binnekant van die park net langs die heining opgemerk.

Die volgende dag, op Saterdag 16 November, is die lede in twee spanne verdeel om die voetspore van die vermeende voornemende stropers te spoorsny.

“Toe die vermeende stropers besef dat hulle agtervolg word, het hulle op die lede van die teenstropingseenheid losgebrand wat tot ’n heen-en-weer-skietery gelei het,” lui Nampol se verklaring.

Gevolglik is drie vermeende stropers doodgeskiet.

“Toe die toneel besoek is, is vasgestel die stropers is met drie gewere gewapen, waarvan een met ’n knaldemper toegerus is. Boonop het die stropers spons om hul skoene gedra om spoorsny te belemmer,” lui die verklaring.

Geen lid van die teenstropingseenheid is tydens die voorval beseer nie.

Die identiteit van die vermeende stropers moet in hierdie stadium nog vasgestel word aangesien geen identifikasiedokumente op hul liggame gevind is nie. Hul liggame word by die Oshakati-polisielykshuis gehou.

Nampol versoek enigiemand met inligting of wat ’n familielid vermis om die Oshakati-polisielykshuis te besoek vir moontlike identifikasie van die oorledenes.

Nampol se bevelvoerder in die Oshanastreek en bevelvoerder van die Yesa Ongava-teenstropingsoperasie in Etosha, kommissaris Naftal Sakaria, kan in die verband by 081 124 7341 gekontak word.

Sakaria het gister aan Network Media Hub (NMH) bevestig sedert hy as bevelvoerder van die operasie in Etosha op 1 September oorgeneem het, is drie renosters al in die park gestroop.

Die vlagskippark is die brandpunt van renosterstropery met altesaam 39 swart- en 11 witrenosters wat al vanjaar in Etosha gestroop is.

Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Romeo Muyunda, is 76 renosters tot dusver vanjaar landswyd vir hul horings gestroop.

Stropers draai dikwels dik spons of materiaal om hul skoene om die spoorsny van hul voetspore te belemmer, soos verlede week toe twee vermeende stropers op heterdaad op ’n plaas in die Okahandja-distrik met ’n stel horings, ’n jaggeweer met ’n knaldemper en stroperytoerusting in hul besit betrap en vasgetrek is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 21° | 38° Eenhana: 21° | 29° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 22° | 28° Tsumeb: 22° | 32° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 34° Keetmanshoop: 20° | 35° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 17° | 28° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 17° | 32° Maseru: 15° | 30° Antananarivo: 14° | 33° Lilongwe: 20° | 31° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 17° | 22° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 35° Harare: 18° | 31° #REF! #REF!