NO IMMUNITY: Kristofina Amutenya with her late daughter, Jane.
PHOTO: Contributed
NO IMMUNITY: Kristofina Amutenya with her late daughter, Jane. PHOTO: Contributed

Ethiopië-moorde: Staat optimisties oor vervolging

Ondersoeke nader voltooiing, sê polisie
Die aanklaer-generaal het die polisie opdrag gegee om bewyse aan haar te verskaf dat Kristofina Amutenya ten tyde van die beweerde misdaad, 'n diplomaat was en diplomatieke immuniteit geniet het.
Tanja Bause
Tuyeimo Haidula – Die polisie en aanklaers is vol vertroue dat ’n Namibiese ma wat na bewering in Desember 2020 haar twee kinders in Ethiopië vermoor het, nou in Namibië vervolg kan word.

Dit nadat die staat foute begaan het wat aanvanklik daartoe gelei het dat die aanklagte teruggetrek is.

Kristofina Amutenya het glo haar eie seun Jenay Haufiku (9) en dogter Jane Haufiku (3) vermoor ná ’n bitter egskeiding waarin hul pa, Peter Haufiku, toesig gekry het.

Haufiku is Namibië se kommersiële attaché by die land se ambassade in Ethiopië, ’n werk wat hom genoodsaak het om saam met sy gesin in die buiteland te woon.

Die aanklagte teen Amutenya is voorlopig teruggetrek en sy is vrygelaat nadat sy ’n dringende aansoek ingedien het wat haar inhegtenisneming en aanhouding in Namibië bevraagteken het.

Sy het ook die wyse waarop sy uit Ethiopië gedeporteer is, teengestaan, wat aanklaers aangespoor het om in te stem tot die terugtrekking van die aanklagte.

POLISIE

Die Namibiese polisie se woordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, sê die ondersoeke na die moorde is byna afgehandel en bevindinge sal aan die aanklaer-generaal oorhandig word vir ’n beslissing.

“Die Namibiese polisie het ’n oop moorddossier wat ondersoek word en die ondersoek in die saak nader voltooiing,” het sy gesê.

Shikwambi het voorstelle dat die polisie dalk nie jurisdiksie oor die saak het nie aangesien die misdaad in ’n vreemde land gepleeg is, van die hand gewys.

“Aangesien die misdaad by die Namibiese diplomatieke woning in Ethiopië plaasgevind het, het die Namibiese polisie die jurisdiksie om die saak te hanteer,” het sy gesê.

DIPLOMATIEKE STATUS

Gladice Pickering, die uitvoerende direkteur van justisie, het gesê Amutenya het aanvanklik diplomatieke status geniet en die immuniteit wat daarmee gepaard gaan, aangesien die moorde na bewering in ’n ambassade-woning plaasgevind het.

“Ons as Namibië kon gekies het om afstand te doen van die immuniteit en vir Ethiopië te sê om voort te gaan om haar te verhoor volgens die wette van daardie land en vir hulle te sê om voort te gaan in terme van die strafregtelike oortredings. Maar die proses het anders verloop,” het sy gesê.

“Sodra die aanklaer-generaal besluit om te vervolg in terme van getuienis wat deur die polisie ingedien is, sal sy in Namibiese howe verhoor word.”

Die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, het Pickering se interpretasie bevestig en gesê indien ’n besluit om te vervolg geneem word, sal die saak plaaslik aangehoor word.

Amutenya kan ook ’n klag van poging tot moord in die gesig staar nadat sy na bewering probeer het om haar stiefkind, Haufiku se seun uit ’n vorige verhouding, te vermoor. Die seun het die aanval oorleef.

GEEN UITLEWERING

Imalwa het Donderdag aan Republikein se susterkoerant Namibian Sun gesê sy het die dossier terug na die polisie gestuur vir verdere ondersoeke, dan sal sy eers ’n besluit neem.

Volgens haar het sy die polisie opdrag gegee om bewyse aan haar te verskaf dat Amutenya ten tyde van die beweerde misdaad, ’n diplomaat was en diplomatieke immuniteit geniet het.

“Die dossier se inhoud sal bepaal watter besluit geneem kan word. Die misdaad moes binne die grondgebied van Namibië plaasgevind het en as die persoon ’n Namibiër is, dan het Namibië die jurisdiksie om haar te verhoor.

“As die getuienis dus toon dat die plek waar die misdaad gepleeg is onder Namibiese jurisdiksie val, dan is die misdryf op Namibiese grondgebied gepleeg. Deur die eggenoot van ’n diplomaat van Namibië te wees, val so ’n persoon onder die jurisdiksie van die land,” het sy gesê.

Namibië en Ethiopië het nie ’n uitleweringsooreenkoms nie, maar dit word nie beskou as ’n bottelnek in die saak nie.

Shikwambi het gesê Interpol se nasionale sentrale buro in Windhoek het ondersoeke met hul eweknieë in Addis Abeba, Ethiopië, gefasiliteer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer