Ashley Eiseb Foto Argief
Ashley Eiseb Foto Argief

'Gewoontestroper' doodgeskiet

Kristien Kruger
’n Vermeende gewoontestroper is verlede week dood nadat hy glo deur ’n vragmotorbestuurder wat hy na bewering probeer beroof het, geskiet is.

Ashley Eiseb, beter bekend as Luxman, het na bewering vroeg die oggend die vragmotor wat naby die Oosland-slagplaas in die Gobabis-distrik gestaan het, se venster met ’n geweer stukkend geslaan glo in ’n poging om die bestuurder te beroof. Hy is volgens onlangse mediaberigte tydens die voorval met ’n pistool in die bors geskiet.

Hy het glo daarna saam met ander verdagtes in ’n voertuig op die vlug geslaan wat later naby Omitara sonder brandstof gaan staan het. Drie individue is na bewering by die voertuig aangetref. Volgens berigte is ’n ambulans ontbied, maar Eiseb het aan sy skietwond beswyk.

‘GEWOONTESTROPER’

Republikein het vroeër vanjaar berig Eiseb is deur ’n lid van die Nossob Misdaadvoorkomingsforum as ’n “groot probleem” bestempel.

Hy is in November verlede jaar in hegtenis geneem saam met sy medebeskuldigde, Hermanus Kharugab, vir beweerde wildmisdaad omdat hulle na bewering ’n voertuig gehuur het om wild in die Okahandja-omgewing te stroop.

Adjunkkommissaris Veikko Armas van die Namibiese Korrektiewe Dienste het ook destyds bevestig dat Eiseb en Kharugab einde Januarie uit aanhouding vrygelaat is.

Hoewel beide mans in die landdroshof skuldig gepleit het, het die hoërhof later beslis dat die landdros ’n fout gemaak het met die kategorisering van die wild wat gestroop is en die skuldigbevinding is gevolglik tersyde gestel.

Regters Boas Usiku en Naomi Shivute het bevind die voorsittende landdros het ’n fout begaan toe sy waterbokke as jagwild, asook gemsbokke en koedoes as beskermde wild bestempel het.

Dit is in werklikheid andersom, gemsbokke en koedoes is jagwild terwyl waterbokke beskermde wild is.

Die regters het in hul gesamentlike uitspraak verduidelik dat dié verwarring die landdros se ondervraging belemmer het en dat die landdros se skuldigbevinding verkeerd is.

Daar was na bewering steeds hangende sake teen Eiseb in Witvlei, Gobabis, Windhoek en Omaruru is.

VORIGE SKIETVOORVAL

Lede van die misdaadvoorkomingseenheid het gesê hulle het Eiseb een slag in 2022 agterna gesit nadat hy na bewering ’n koedoe in die Wilhelmstal-omgewing gestroop het. Eiseb het glo op hulle begin skiet.

“Ons het hom agterna gesit. Ons was nog in die voertuig toe hy uitgespring en op ons begin skiet het. Ons het ’n saak van poging tot moord en onwettige jag teen hom aanhangig gemaak,” het die bron destyds gesê en bygevoeg dat hulle gefrustreerd was met die feit dat die stropers vasgekeer en in hegtenis geneem word, maar talle kere net weer vrygelaat word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!